Ma vermis na sy kinders red

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Ma van vier word vermis en het vermoedelik verdrink nadat sy haar kinders uit die Bergrivier in die Paarl gered het.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê die vrou se kinders het in die rivier geswem toe hulle skielik in die moeilikheid beland het. Volgens Vermaak het die ma en haar suster in die rivier gespring om die kinders te red.

“Die tannie het aan paramedici verduidelik dat sy en die ma daarin kon slaag om drie van die kinders uit die water te red terwyl die vierde kind self uit die water gekom het.” Die drie kinders wat uit die water gered is, kon skaars asemhaal en die tannie en vierde kind het mond-tot-mond-asemhaling op hulle toegepas.

Die kinders was by hulle bewussyn toe paramedici opgedaag het maar was gedisoriënteerd. “Die ma is deur sterk strome die rivier af gesleur nadat sy die kinders uit die water gered het,” het Vermaak gesê.

Die polisie en reddingsduikers het na die ma begin soek terwyl haar kinders na die Paarl- provinsiale hospitaal geneem is vir verdere behandeling. “Die ma was steeds vermis toe paramedici die toneel verlaat het,” volgens Vermaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.