Bewaring vir die nageslag is Singita se leuse

Die nuutste toevoeging, met bewaring as hoeksteen, is die omskepping van die bestaande boetieks en galerye in twee kunsgalerye met Afrika-kunswerke as tema en ʼn baie sterk fokus op vroulike kunstenaars. ʼn Gedeelte van die opbrengste – in pas met hul 100 jaar-plan – gaan aan die Singita Laeveld Trust. Daar is planne om kunstenaars daar te laat oorbly om kuns te skep en ook veilings vir bewaring te hou. (Foto: Ross Couper)

ʼn Besoek aan een van die lodges in die Singita Privaat Wildreservaat in die noordweste neffens die Nasionale Krugerwildtuin, sit ʼn lied in jou hart. Ek kan waarlik met Ernest Hemingway se woorde identifiseer: “Ek het nie een oggend in Afrika wakker geword, wat ek nie gelukkig was nie,” skryf Maryke Roberts ná drie salige dae in dié beskermde wildernis rondom Singita.

Dit neem nie lank om te besef dat die hele Singita-filosofie veel wyer strek as die luuksheid waarvoor gaste keer op keer terugkeer en die teenwoordigheid van volop wild, wat jy amper aan jou eie bas kan voel nie. Die groot geheim hier is bewaring.

Selfs dit is eenvoudig gestel.

Singita bewaar en ondersteun bewaringsprojekte en bied gaste uitsonderlike safari-ervarings by 15 bekroonde lodges en kampe in vier lande – Suid-Afrika, Tanzanië, Zimbabwe en Rwanda. In vennootskap met nie-winsgerigte fondse en trusts wat strategiese bewaringsprojekte in elke streek implementeer, is die 100-jaar doel om groot dele van die Afrika-wildernis vir toekomstige geslagte te bewaar en te beskerm.

Ek praat nie van die teen-stroop-eenhede wat die hele reservaat – en buurreservate – patrolleer nie. Ook nie van die aanslag van minimale afval deur bronsstrooitjies, hervulling, eie groente- en kruietuine nie, of die koolstof-heffing wat gaste betaal nie.

Ons linne beddegoed van Mungo is nie met klip gewas vir daai sagter voorkoms nie, want die omgewingsvoordeel is groter. By ons kamer se voordeur hang Panama-styl hoede vir wildritte – uit papier gemaak; die strooitjies wat saam met die ys in jou glas klingel, is van herbruikbare metaal; en in Augustus verlede jaar het Singita ʼn koolstof-heffing ingestel, wat gaste betaal om die koolstofvoetspoor van hul verblyf te verreken.

Deel van die wildritte is nie net lekker rondsit en diere kyk nie. Daar is heelwat navorsing oor die diere en die bewaringsplanne, wat gidse met jou deel. (Foto: Clifford Roberts)

Die fondse wat gegenereer word, word gebruik om geverifieerde koolstofkrediete van geakkrediteerde diensverskaffers, in elk van die streke waarin Singita bedrywig is, aan te koop. In Suid-Afrika is dit die Climate Neutral Group se Wonderbag-projek.

Draai die geskiedenis ʼn eeu terug, na ʼn afgeleë stuk grond in die Laeveld wat die stigter, Luke Bailes, se oupa, James Fawcett, gekoop het. Hierdie 30 000 ha grond, wat later die Sabi Sand-reservaat sou word, is mettertyd van ʼn jagplaas in ʼn eksklusiewe bewaringsreservaat omskep waar alle spesies beskerm word.

Die luiperd loop reg langs ons voertuig verby en gaan lê so naby dat jy elke lyn op sy vel kan sien en selfs die sagte kussings onder sy pote kan afneem. (Foto: Clifford Roberts)

In 1993 open Singita Ebony se 12 suites. So kom daar mettertyd ook die Singita Boulders en Singita Castleton by. Eersgenoemde twee is vir paartjies of vriende wat apart wil kuier; Castleton is ʼn reuse plaashuis in regte Afrika-luuksheid, eie sjef, eie alles. Bederf op sy beste. Elke lodge se dekor, styl en aanslag is anders.

Die nuutste toevoeging – ja, jy het reg geraai – met bewaring as hoeksteen, is die omskepping van die bestaande boetieks en galerye in twee kunsgalerye met Afrika-kunswerke as tema en ʼn baie sterk fokus op vroulike kunstenaars. ʼn Gedeelte van die opbrengste – in pas met hul 100 jaar-plan − gaan aan die Singita Laeveld Trust.

Daar is planne om kunstenaars daar te laat oorbly om kuns te skep en ook veilings vir bewaring te hou. (Meer inligting hier: Singita.com)

Goed, jy kan nou sê dis alles goed en wel, maar hoe is die ervaring daar? “Wêreldklas”, soos die Duitse gas langs my oor haar yskoue gin en tonic laat hoor het, toe sy terugkeer van haar eerste wildrit waar sy etlike meter van twee leeus by ʼn watergat gesit het.

Deel van die bewaringsprojekte is om bome met ogiesdraad toe maak dat die olifante nie die bas kan stroop nie, maar ander diere steeds teen die stamme kan opklim. (Foto: Clifford Roberts)

“Eersteklas” sou ek kon byvoeg, nadat ons in sterk skemer bene rek, aan vonkelwyn uit die Kaap teug en ʼn hiëna doodluiters by ons voertuig verbystap. As ek sou wou, sou ek sekerlik my been kon uitsteek en die hiëna daaroor laat struikel. Respek vir die natuur, die reg van diere en die uitsonderlike gids en verkenner wat ons drie dae vergesel, is al wat my weerhou. (En my ma se goeie opvoeding natuurlik ook!)

Die ongereptheid van Singita, die drie lodges wat amper versonke in die natuur is, min mense en gebrek aan privaat voertuie, maak dat jy waarlik voel asof die hele natuur-ervaring net vir jou gewag het. Nooit is daar meer as drie voertuie by ʼn stopplek nie. Nooit is daar meer as 10 mense wat dieselfde leeu, luiperd, buffel, hiëna, olifant, of piepklein voëltjie afneem nie. Geen ander gas het dieselfde besigtigingshoek as ek nie; geen ander gas dieselfde foto nie.

Daar is twee wildritte elke dag: soggens vroeg voor sonop as jou lyf eerder langer in die koningsgrootte bed wou bly en laatmiddag as die son begin om alles in die natuur met goue rantjies om in te kleur.

Jy verlaat die lodge op die oewer van die Sandrivier in Singita se privaat konsessie en word as’t ware deel van die natuur. Soggens is dit warmwatersakke en komberse saam met jou oggend-cappuccino, saans is daar liggies in die voertuig sodat jy nogsteeds die voëls in die skemer in jou voëlboek kan opsoek.

Ná elke wildrit is daar iemand wat jou terug verwelkom met ʼn koue of warm lappie vir jou gesig en hande, wat drankies aandra net soos jy daarvan hou. Tussen die ritte, laat ontbyte en aandetes deur kan jy op jou eie houtdek joga doen (die matjies word daagliks reggesit) of musiek luister wat deur die eenheid speel terwyl olifante onder in die rivier in die modder baljaar of bokke aan die blare langs jou slaapkamerruit knaag. Daar is ʼn klein swembadjie by jou sitkamer en die ysbakkie is vol, die wyn koud en die kougoed varsgebak.

Saans stort jy onder die sterre en gee jou oor aan die naggeluide, of week vir ʼn uur by kerslig in die boepens pootjiesbad.

Aandetes is feestelike affêres: Verskeie kundige wynkelners help gaste met elke maaltyd om skaars en eksklusiewe wyne te ervaar van ʼn ongeëwenaarde wynlys wat oor drie dekades saamgestel is, bestaande uit 85 van die beste Suid-Afrikaanse wynprodusente, wat verskeie wyne vir die verouderingsprogram verskaf het. Daar is duisende bottels in die kelders. Die klem is op verkenning en ontdekking deur middel van die diversiteit van keuses.

Die groepie leeus het op ʼn koppie gelê en slaap en as dit nie vir ons gidse se wakker oë en spoorsny-vermoëns was nie, het ons hulle misgeloop. (Foto: Clifford Roberts)

Ons gids en verkenner deel al hulle kennis en liefde vir die veld. Hulle werk al vir etlike jare saam en die band tussen hulle is sigbaar. Hulle wys die oulike houtkierie wat hul vriendskap vergestalt, met die uitgekerfde “Happy boys” teen die skag.

Ons sit in die veld met ʼn koel briesie wat ons kuiwe roer. ʼn Rooibosswaeltjie, wat net in die somer hier voorkom, swiep laag oor die gras en al wat jy sien is die ligte roering en wiegings. Jou hart is lig; die lewe is mooi. Ons hoor stories van die neushoringvoëlwyfie wat haar vere uitpluk om haar nes uit te voer; of hoe luiperds termietneste omdolwe op soek na ystervarke; of dat klein waterskilpaadjies die bosluise van logge buffellywe af eet as hulle in die modder lê en die bosluise versmoor as die digte laag modder op die buffel later droogword.

Ons hoef nooit ver te ry vir ongelooflike wild-ervarings nie. Een of twee stille ure reg langs ʼn luiperd, wat so naby die aan die voertuig kom lê dat ons die bosluise onder sy blad kan sien. Kort daarna een uur langs ʼn leeumannetjie wat kort-kort brul en sy broer wat elders antwoord gee. Sy strydlustigheid sigbaar aan die littekens neffens sy maanhare en sy priemende geel oë wat die rillings teen my ruggraat laat afloop.

Ons drink laterig een aand drankies op die Singita-vliegveld. Dis goed donker, want die ure saam met die leeu was net te spesiaal om in te kort. Eers hoor ons ʼn ritseling en sien dan die trop blouwildebeeste wat aangestap kom. Ons oë eien hulle al hoe beter soos hulle nader kom. Nie lank daarna nie of ʼn hiëna kom nuuskierig nader. Ons verkenner skyn die lig in sy rigting en hy sluip weg.

Ek kyk op na waar die melkweg strepe skilder oor ons koppe; die maan wat skaam-skaam agter die maroelaboom uitkruip.

As jy geen haas het nie, sien jy elke unieke geveerde in die natuur ook rustig en met opwinding. (Foto: Clifford Roberts)

Iewers in die bosse patrolleer personeel met fyn opgeleide honde die bosse vir stropers. Iewers jag ʼn jagluiperd; iewers kruip kuikens onder ʼn ma se beskermende vlerk in; iewers tjank ʼn groep wildehonde.

Terwyl ons een vroegoggend-koffie met Amarula drink en aan varsgebakte koekies knaag, loop ʼn buffel verby. Ons is op veilige afstand, die gids het die windrigting bepaal voor ons kon afklim en die buffel steur hom nie eers aan ons nie. Ek hoor hoe sy kake die bossies fynmaal; verkyk my aan die tenkagtige lyf van renosters en voel tranerig met die aanskoue van ʼn bloedjong olifantjie wat nog nie eers heeltemal seker is wat om met die snaakse lang uitgroeisel tussen sy oë te maak nie.

Jy kan nie anders as om in totale verwondering te staan oor die natuur nie; hoe alles oor miljoene jare moes aanpas om te oorleef. Hoe langer bene, sterker kake en fyner snuffelvermoë oorlewing verseker.

Jy kan ook nie anders as gelukkig én dankbaar wees vir die bewaringswerk wat hier onderneem word nie, sodat hierdie kosbare bos-oomblikke ander in die toekoms beskore sal wees.

Kitsfeite

  • Bydraes om stropingsprojekte te help befonds, kan aan die Singita Laeveld Trust gemaak word via Singita.com.
  • Bespreek jou verblyf by enige van die lodges by 021 683 3424 of [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.