Jackson Mthembu sterf weens Covid-19

Minister Jackson Mthembu Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, is dood weens Covid-19-verwante komplikasies.

Pres. Cyril Ramaphosa het dié nuus Donderdagmiddag aangekondig.

“Dit is met diepe hartseer en skok dat ons aankondig dat die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, vroeër vandag oorlede is aan Covid-19-verwante komplikasies,” het Ramaphosa in ’n verklaring gesê.

Dít volg sowat tien dae nadat die 62-jarige Mthembu positief getoets het vir Covid-19 nadat hy simptome getoon het.

Ramaphosa het Mthembu as “ ’n voorbeeldige leier, ’n aktivis en lewenslange kampvegter van vryheid en demokrasie” bestempel.

“Hy was ’n baie geliefde en baie gerespekteerde kollega en kameraad, wie se heengaan ons land met ’n groot verlies laat,” het die president gesê.

Mthembu het gedurende pres. Nelson Mandela se bewind vanaf 1995 tot 1997 as nasionale woordvoerder van die ANC gedien – ’n pos wat hy later tussen 2009 en 2014 weer beklee het.

Mthembu het tussen 2016 en 2019 as hoofsweep van die ANC in die Nasionale Vergadering gedien waarna hy ná die nasionale verkiesing in 2019 as die minister in die presidensie aangestel is.

Mthembu word oorleef deur sy vrou en kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.