Myn bied hersiene verhogings aan

Sibanye-Stillwater se Kloof-myn aan die verre Wes-Rand. (Foto: Sibanye-Stillwater)

Ná maande lange onderhandelings het Sibanye-Stillwater ’n hersiene loonverhogingsaanbod aan werknemers by sy goudmyne gemaak.

Die vakbond Solidariteit sê die mynmaatskappy het opnuut begin onderhandel nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ʼn sertifikaat uitgereik het wat aan vakbonde die reg gee om te begin staak.

Loononderhandelings sloer al sowat sewe maande.

Solidariteit het in Desember verlede jaar gesê dat Sibanye-Stillwater hom vrywillig onder sakeredding moet plaas aangesien die mynhuis nie van plan is om gebeurlikheidsplanne gereed te kry om afleggings af te weer en in goedertrou oor lone te onderhandel nie.

“Dit wil voorkom of ’n ooreenkoms met Sibanye-Stillwater ná ʼn marathon-onderhandelingsessie verlede Vrydag nou binne bereik is,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

“Die vakbonde sal hierdie week met hul lede oor die hersiene aanbod vergader. Solidariteit kan nie namens die ander vakbonde praat nie, maar sal sy lede aanmoedig om die nuwe aanbod gunstig te oorweeg.”

Volgens Solidariteit was die maatskappy se vorige aanbod vir die myners, ambagsmanne en amptenare wat deur Solidariteit verteenwoordig word, ’n  4,1%-verhoging vir die eerste jaar; ’n 4,7%-verhoging vir die tweede jaar  en ook ’n 4,7%-verhoging vir die derde jaar.

Die aanbod is nou verhoog sodat dié kategorie werknemers ʼn 5%-verhoging elke jaar vir die volgende drie jaar kan ontvang. Die 5%-aanbod is hoër as die gemiddelde inflasiekoers vir 2021 en die gemiddelde inflasievoorspellings vir 2022 en 2023.

“Dit was ’n frustrerende sewe maande van onderhandelinge waartydens die partye hoofsaaklik deur middel van KVBA-fasilitering met mekaar onderhandel het.

“Vrydag se verandering in benadering waar die vakbonde en die werkgewer direk met mekaar onderhandel het, terwyl Sibanye se onderhandelingspan deur die verteenwoordiging van senior besluitnemers versterk is, het wel vrugte afgewerp.”

Du Plessis sê danksy so ’n benadering is ’n skikking verlede jaar binne drie maande by Harmony Gold en binne twee weke by Village Main Reef bereik. Onderhandelinge met dié twee goudmynhuise het op dieselfde tydstip as dié met Sibanye-Stillwater in Julie 2021 begin.

“Onderhandelinge by Sibanye se platinummyne sal ʼn aanvang neem sodra ’n ooreenkoms met Sibanye vir sy goudmyne bereik is. Hierdie onderhandelinge beloof om baie meer robuus te wees, omdat die maatskappy tydens sy goudmynonderhandelinge deurgaans armoede gepleit en met afleggings gedreig het. Die mynmaatskappy het ook sy gunstige finansiële posisie aan sy winsgewende platinummyne toegeskryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marcello ·

Aai !! dit klink goed, ons het 1.1% verhoging gekry verlede jaar, en vanaf die jaar sal ons sekerlik niks kry nie… so julle is baie gelukkig julle kry 5%….. En ons is Staatsonderneming….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.