Sakeredding vir Sibanye-Stillwater om werk te red

Sibanye-Stillwater se Kloof-myn aan die verre Wes-Rand. (Foto: Sibanye-Stillwater)

Solidariteit het Vrydag aangekondig dat hy van mening is dat Sibanye-Stillwater hom vrywillig onder sakeredding moet plaas. Dit volg nadat dié mynhuis tydens loononderhandelinge dit duidelik gemaak het dat hy nie van plan is om gebeurlikheidsplanne in te stel om afleggings af te weer nie.

Volgens Solidariteit het Sibanye-Stillwater geen voorneme om in goeder trou te onderhandel nie en neem hy nie die belange van sy werknemers in ag nie. Sy fokus is om aan alle partye wat by die onderhandelinge betrokke is te bewys hoe sleg die maatskappy finansieel daaraan toe is in plaas daarvan om oplossings te vind en sy werknemers markverwant te vergoed.

“Dit is duidelik dat die maatskappy nie bereid is om in die beste belang van sy werknemers op te tree nie,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit. “Hy bepleit armoede en hang swak finansiële prestasie en kontantverliese deurlopend aan die groot klok. Sy oplossing is om personeel vir die afsienbare toekoms te sny en skrapse verhogings aan te bied eerder as om die bestuur van die maatskappy te verander. Ons stel voor dat hy hom eerder tot sakeredding wend om die maatskappy sodoende op dieselfde volhoubare groeitrajek te plaas as Harmony Gold en Gold Fields.”

Volgens Solidariteit was ander goudmynhuise meer geneë om te onderhandel en het die marginale Village Main Reef (VMR), ʼn meerjarige skikking onderteken met dieselfde vakbonde wat tans met Sibanye-Stillwater onderhandel vir ʼn verhoging van 5% vir myners, ambagsmanne en amptenare en ʼn R800-verhoging vir kategorie 4- tot 8-werknemers. Harmony Gold se skikking was selfs heelwat hoër. Sibanye-Stillwater bied egter veel minder as sy eweknieë aan, en Richard Cox, uitvoerende adjunkpresident vir Sibanye se goudbedrywighede word herhaaldelik in die media en interne kommunikasie aangehaal waarin hy aanvoer dat die maatskappy slegs verhogings van onder die inflasiekoers kan toestaan.

Du Plessis wys daarop dat Solidariteit tydens onderhandelinge versoek het dat daar ʼn bepaalde skikkingspersentasie sal wees wat tot ʼn moratorium op afleggings kan lei. Sibanye het egter geweier en het aangedui dat daar geen skikking is wat afleggings sal kan afweer nie.

“Dit is skokkend dat die maatskappy geensins bereid is om in te tree om sy werknemers te beskerm nie. Harmony Gold het op dieselfde vraag van Solidariteit dadelik gereageer dat hy deeglike personeelbeplanning doen om sodoende enige afleggings te kan afweer. Sibanye-Stillwater weier doodeenvoudig.

“Dit is om hierdie rede dat ons op vrywillige sakeredding aandring. ʼn Ervare sakereddingspraktisyn is moontlik al wat die mynhuis nodig het om sy topbestuur se ruim vergoedingspakkette te kan hersien en homself weer op ʼn pad te plaas waar volhoubare groei moontlik is en waar hy dieselfde vergoeding en sekuriteit as ander mynhuise aan sy werkers kan bied.”

Du Plessis sê die laaste konsiliasiesessie onder toesig van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), vind op 13 Desember plaas. “Indien die mynhuis hom nie self onder sakeredding wil plaas nie, versoek ons dat hy nie enige aansoeke daarvoor sal teenstaan nie, of beter nog, dat hy van hierdie laaste geleentheid gebruik sal maak om in goedertrou te onderhandel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

casper ·

Man – as ek Mr Froneman was dan staak ek alle werksaamhede en pleit bankrotskap — Dan kan die klomp betogers maar hulle plakate eet !!

Shakespeare ·

Sibanye het ‘n sterk bestuur maar mens kan net solank die betogende gepeupel hanteer. Maak toe vat julle geld en loop dan kan die ANC/EFF/VAKBONDE vir die 86 000 werkloses werk soek.

Nicolaas Hendrik ·

Ek glo nie julle verstaan nie, ek het n jaar vir hulle gewerk en toe hulle oorvat word alle mense se gradering 1 vlak laer gemaak wat beteken minder salaris en bonus

Harley Davidson ·

Kan julle dink as Neil Froneman die land regeer het hoe goed sou ons almal geleef het ,nou beheer hy n myn groep en kyk hoe floreer Sibanye stillwater.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.