Soedan besig om in te plof – VN

Lede van die Suid-Afrikaanse weermag se spesiale magte maak seker Suid-Afrikaners kom veilig tuis uit geweldgeteisterde Soedan. (Foto: Dirco/Twitter)

Terwyl ʼn groep Suid-Afrikaners uit die geweldgeteisterde Soedan na verwagting vroeg Sondag in Suid-Afrika sal aankom, waarsku die hoof van die Verenigde Nasies (VN) die land stort ineen.

Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), dr. Naledi Pandor, sal hulle omstreeks 09:00 by die OR Tambo-lughawe inwag. Die departement het Saterdag gesê alle Suid-Afrikaners – sover hulle bewus is – is nou uit die land geneem.

Die afgelope naweek is daar op oorlogvliegtuie oor die Soedannese hoofstad Khartoem losgebrand terwyl gevegte tussen paramilitêre magte en dié van die weermag vir ʼn derde week voortduur.

Meer as 500 mense is reeds dood sedert gevegte op 15 April uitgebreek het tusen die magte van weermaghoof Abdel Fatah al-Burhan en sy voormalige kameraad, Mohamed Hamdan Daglon, bevelvoerder van die paramilitêre Rapid Support Forces (RSF).

Hulle het al op verskeie wapenstilstande ooreengekom, maar geen daarvan het nog werklik vrugte afgewerp nie. Intussen styg die getal burgerlike sterftes en chaos en wetteloosheid heers in Khartoem met sy nagenoeg vyf miljoen inwoners. Talle mense skuil in hul huise sonder enige kos, water of elektrisiteit.

Duisende ander is ontwortel of het moordende uittogte na lande soos Tsjad, Egipte, Suid-Soedan en Ethiopië onderneem om aan die gevegte te ontkom.

“Daar is geen regverdiging om aan te hou veg vir mag terwyl die land uitmekaar val nie,” het Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die VN, aan die Saoedi-beheerde TV-netwerk Al Arabiya gesê.

Die jongste drie dae lange skietstilstand duur tot Sondag, en is bereik ná bemiddeling tussen die VSA, Saoedi-Arabië, die Afrika-unie (AU) en die VN.

Gevegte in die hoofstad het die naweek egter voortgeduur. Inwoners vertel van die geluid van masjiengewere terwyl ʼn rookwolk oor die Khartoem-lughawe hang.

Guterres het intussen sy steun gegee vir vredesgesprekke gelei deur die AU. “My oproep is dat alles moontlik gedoen word vir ʼn Afrika-geleide inisiatief vir vrede in Soedan,” het hy aan Al Arabiya gesê.

Mense loop tussen die puin van ‘n mark in El Geneina in Soedan, terwyl gevegte in die land voortduur. (Foto: AFP)

Die dodetal staan op minstens 528 met nog 4 599 gewondes, het die land se departement van gesondheid Saterdag gesê. Dié getalle is waarskynlik nie ʼn werklike weespieëling nie.

Sowat 75 000 mense is ontwortel weens die gevegte in Khartoem en die state Blou Nyl, Noord-Kordofan, en die westelike Darfoer-streek, het die VN gesê.

Die gevegte het ook ʼn massauittog van buitelanders en internasionale werkers uit die land aan die gang gesit.

Die Wêreldvoedselprogram waarsku dat die geweld miljoene meer mense in hongersnood kan dompel in ʼn land waar ʼn derde van die ganse bevolking van 15 miljoen reeds van voedselhulp afhanklik is.

Sowat 70% van hospitale in die gevegsgebiede funksioneer nie meer nie en talle is gebombardeer, het ʼn doktersvakbond gesê.

Soedan se voormalige eerste minister, Abdalla Hamdok, het intussen gewaarsku dat die konflik in een van die wêreld se ergste burgeroorloë kan ontaard, indien dit nie vroegtydig stopgesit word nie.

“Vader behoede ons as dit die punt van ʼn werklike burgeroorlog bereik … [die konflik in] Sirië, Jemen, Libië gaan klein lyk,” het Hamdok tydens ʼn geleentheid in Nairobi gesê.

“Ek dink dit sal ʼn nagmerrie vir die wêreld wees.”

Dokters Sonder Grense sê daar is wydverspreide voorvalle van plundery en verwoesting, asook eiendom wat aan die brand gesteek word – waaronder kampe vir ontwortelde vlugtelinge. Die agentskap moes reeds byna al sy bedrywighede in Soedan opskort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.