‘Alle SA’ners’ nou uit Soedan

Dirco sê alle Suid-Afrikaners waarvan hulle bewus is, is nou uit Soedan. (Foto: Twitter / Clayson Monyela)

Die departement van internasionale betrekkinge (Dirco) het Saterdag gesê dat alle Suid-Afrikaners waarvan hulle bewus is, nou uit die oorloggeteisterde Soedan is.

Een groep Suid-Afrikaners sal na verwagting Saterdagmiddag by die OR Tambo-lughawe aan die Oos-Rand land.

“ʼn Ontruiming soos dié is nie maklik nie en word deur verskeie uitdagings en frustrasies in die gesig gestaar,” het Clayson Monyela, woordvoerder van die departement, in ’n inskrywing op Twitter gesê.

Monyela sê Dirco waardeer die hulp en samewerking van die noodledigingsorganisasie Gift of the Givers asook lande soos Egipte, Saoedi-Arabië en Soedan.

“’n Groep van ons burgers het Jeddah van Port Soedan af ingekom. Ons konsul-generaal en sy span het hulle ontvang en ondersteuning gebied. Hul werkgewer het vir die vliegtuigkaartjies betaal en hulle sal vanmiddag [Saterdag] om 16:15 by die OR Tambo-lughawe aankom,” het Monyela gesê.

“Die groepe wat met busse uit Khartoem geneem is, het die grens na Egipte oorgesteek.”

Die regering het vir twee van dié busse betaal terwyl Gift of the Givers vir ’n bykomende bus betaal het.

Monyela sê al die mense op dié busse is tans by hotelle in Egipte wat deur die regering bespreek is. Die regering sal ook vir vliegtuigkaartjies betaal.

Besonderhede oor hul terugkoms sal mettertyd bekend gemaak word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.