38 SA’ners uit Soedan vervoer

Talle mense is reeds uit Soedan na veiliger plekke geneem. (Foto: Khalil Mazraawi / AFP)

Twee busse met 38 Suid-Afrikaners en sewe Angolese het Maandagmiddag uit geweldgeteisterde Khartoem in Soedan na Egipte vertrek. Volgens dr. Imtiaz Sooliman, direkteur van die noodledigingsorganisasie Gift of the Givers, was daar twee padblokkades buite Khartoem, maar die res van die rit het vlot verloop.

Die busse het omstreeks middernag stilgehou en teen Maandag om 05:00 na die Egiptiese grens vertrek.

“Mense het gemengde gevoelens gehad om hul huise, werksplekke, vriende en kollegas agter te laat terwyl hul toekyk hoe ʼn land homself vinnig vernietig,” het Sooliman gesê.

Gift of the Givers werk saam met die departement van internasionale betrekkinge (Dirco) en ander regeringsinstellings om Suid-Afrikaanse burgers en diplomatieke personeel na veiligheid te neem te midde van voortslepende konflik in Soedan. Die busse is ook met die hulp van dié groepe gereël en is deur die Suid-Afrikaanse regering betaal.

Sooliman sê die afgelope tyd was ʼn tuimeltreinrit gevul met vrees, angs, onsekerheid, paniek en hartseer vir almal wat in die burgerlike oorlog vasgekeer is en hul huise moet verlaat.

Een van die Suid-Afrikaners moes twee Skotse terriërs agterlaat, maar dié honde sal na verwagting vandag op nog ʼn bus na Egipte vertrek.

“Die hartseer in hul [die honde se] oë was duidelik toe hulle die bagasie sien en besef hulle gaan nie saam nie. Die eienaar was baie emosioneel.”

Sooliman sê dis ʼn seën dat hulle ʼn derde bus, boonop sonder voorafbetaling, kon bevestig. Aangesien netwerke en aanlyn finansiële dienste in Khartoem nou heeltemal inmekaargestort het, sal daar nog bevestig moet word hoe die betaling vir dié bus, wat deur Good Transporter besit word, sal werk.

Vier Suid-Afrikaners wat nie Maandag betyds by die oplaaipunt was nie, sal ook met hierdie bus vervoer word. Ses Brasiliaanse burgers in Khartoem sal dieselfde bus haal, terwyl nog drie in Atbara moontlik op pad na Kaïro opgelaai sal word.

“Ons kyk na die opsie om mekaar by ’n gemeenskaplike punt in die noorde te ontmoet. Vier Filippyne, twee Amerikaanse burgers en moontlik ook ’n Palestynse gesin sal ook Dinsdag na veiligheid geneem word.

“Ons is tot dusver ook bewus van ses Suid-Afrikaners wat dit tot by Port Soedan gemaak het en drie tot by Djiboeti. Daar is twee wat besluit het om in Soedan agter te bly en een naby ʼn myn wat nog nie besluit het nie. Ons dink die ander Suid-Afrikaners is in Suid-Soedan.”

Sooliman sê daar was oor die afgelope paar dae “intense diplomatieke samesprekings” agter die skerms met verskeie regerings, onder wie die Amerikaanse konsul-generaal, vir burgers om verskeie lande ongehinderd binne te gaan, aangesien baie mense nie paspoorte of visums het nie.

“Daar was tot dusver baie uitdagings, waaronder ontoeganklikheid, die ineenstorting van netwerke, geen lugtyd nie of elektrisiteit-, brandstof- en geldtekorte, ʼn gebrek aan kos en water en dan ook die emosionele en sielkundige trauma.”

Sooliman sê mense moes verskeie angswekkende tonele aanskou, soos lyke wat in die strate lê, mense wat geskiet word en vernietigde geboue en infrastruktuur.

“Ons bid vir die veiligheid van alle burgerlikes. Ons is optimisties dat almal die grens veilig sal oorsteek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Di ·

Dis tragies! Kan nie verstaan hoekom daar sulke dinge moet gebeur nie. Soveel onskuldige mense moes nou met hulle lewens boet vir wat????

Republikein in die Wes Kaap ·

Indien Gift nie leiding neem nie sal niks gebeur nie.

Wonder ·

Jip, want hull kan menslike somme maak nie sakpas somme nie

Jaco ·

Oppas maar vir Gift of the Givers. Dis eintlik ‘n Moslem organisasie, wat ná hulle hulp gegee het, so ‘n skimp of 2 sal gooi van “now that we’ve helped you so well, will you consider becoming Muslim?”

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar werk ook toegewyde Christene vir die organisasie. En hulle het nog nooit gekla oor skimpe om Moslems te word nie.

Lorraine ·

Beslis. Hoop die 2 hondjies kom ook veilig by hul base uit.

Amelia ·

J a die is hartseer kinders wat nou weer moet ly agv groot mense se nonsens kry net die kidz uit daar

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Soedanese bevolking het nêrens elders om te vestig nie. Buitelanders verdien goeie geld daar.

Micheal ·

Al die lande vlieg hulle burgers uit maar omdat ons nie n funksionele lugmag het nie moed busse gebruik

Nettie ·

Ai, dis ontsettend hartseer. Ek hoop al die mense kom uit. Ek het ‘n video gesien van buitelanders wat doodgeslaan word. Dit was verskriklik. Ontsettend. Mens kan nie die wreedheid van mense verstaan nie. Ek moes na ‘n paar sekondes die video stop. Geen mens verdien om so te sterf nie. Ek sal bid vir almal wat nog daar is of oppad is of iets of iemand agtergelaat het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.