VSA aanvaar wetsontwerp wat TikTok verbied

TikTok se logo. (Foto: AP)

Die VSA se Huis van Verteenwoordigers het Woensdag oorweldigend ten gunste van ʼn wetsontwerp gestem wat TikTok sal dwing om bande met sy Chinese beheermaatskappy ByteDance te verbreek óf andersins uit die Verenigde State verban te word.

Tydens ʼn skaars oomblik van tweeparty-eenheid in ʼn polities verdeelde Washington DC, het die wetgewers 352 stemme ten gunste van die wetsontwerp uitgebring en 65 daarteen.

Die wetsontwerp se toekoms is egter onduidelik, aangesien verskeie invloedryke lede van die Senaat versigtig is om so ʼn sterk standpunt in te neem teen ʼn app (toepassing) wat 170 miljoen gebruikers in die VSA het.

Die wetsontwerp vereis dat ByteDance die app binne 180 dae verkoop óf die risiko loop om uit die Amerikaanse Apple- en Google-app-winkels verwyder te word.

Volgens die Withuis sal pres. Joe Biden die wetsontwerp, amptelik bekend as die Protecting Americans from Foreign Adversary Controlled Applications Act, onderteken.

Boonop gee dit die president die gesag om soortgelyke apps as ʼn bedreiging vir nasionale veiligheid te bestempel as dit beheer word deur ʼn regering wat die VSA as ʼn vyand beskou.

Wall Street Journal het berig dat TikTok-bestuurders verlig was toe Biden verlede maand by die app aangesluit het as deel van sy veldtog vir ʼn tweede termyn. Die maatskappy was dus onvoorbereid op die nuwe aanslag op die platform.

Shou Zi Chew, uitvoerende hoof van TikTok, is tans in Washington DC, waar steun gewerf word om die wetsontwerp te keer.

“Die jongste wetgewing, wat teen ʼn ongekende spoed deurgevoer word sonder die voordeel van ʼn openbare verhoor, bring ernstige grondwetlike bekommernisse na vore,” skryf Michael Beckerman, TikTok se visepresident van openbare beleid in die VSA.

Die medeskrywers van die wetsontwerp, Mike Gallagher van die Republikeine en Raja Krishnamoorthi van die Demokrate, asook die Withuis voer aan dat die wetsontwerp nie ʼn verbod op TikTok plaas nie, solank as wat ByteDance die maatskappy verkoop.

China het Woensdag gewaarsku dat die stap “onvermydelike gevolge vir die VSA sal hê”.

TikTok ontken ten sterkste enige bande met die Chinese regering en sê die maatskappy is herstruktureer sodat die data van Amerikaanse gebruikers in Amerika bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sobymykoolkop ·

GEEN probleem met vuurwapens nie. ń vuurwapen op sy eie kan niks doen nie.

Gawie ·

Sobymykoolkop, daardie argument is al holrug gery deur die wapen liefhebbers in die VSA (en hier by ons). Wat jy versuim om te noem is dat alhoewel vuurwapens op hulle eie geen probleem is nie, ENIGIEMAND in die VSA ‘n wapen kan koop – al raas jou kop ook hoe erg. Hoeveel van die laaste klomp massaskieterye is nie gedoen deur iemand wat nie lekker in die kop was nie?

Marthinus W ·

“Land of the free and home of the brave” no more. Dis nou die diktatorskap van die oligarge. Dis nou “land of the fee and home of the slave”.

Oros Soros ·

Mmm, nou gaan die ANC regering mos nuwe gedagtes kry. Facebook, X, YouTube en so aan dan aan ‘n beherende swart ekonomiese bemagtigingsvenoot verkoop te word, anders verban uit Suid-Afrika.

miraclealigner ·

Mooi so, TikTok is ‘n euwel wat jou dommer maak. Die algoritmes wat daar gebruik word is lankal onder verdenking.

Renier ·

VSA kan mos iets soortgelyks begin. Hoekan sal china se regering dreig dat dit gevolge vir die vsa sal inhou as hulle geensins betrokke is by die app?

koos ·

VPN….. word in China gebruik, nou ook toenemend in die VSA. Wat het van vryspraak geword? Worry eerder oor Islam in julle midde.

Andries ·

Verban tiktok en verloor 170 miljoen kiesers. Net ‘n amerikaner is so dom.

Co ·

Lees gister in BBC online dat Tiktok ook nie welkom is in CHINA nie! Grap van die jaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.