Motoradvertensie lei tot moord

Foto: Heidelberg Volunteer Medics via Facebook

Foto: Heidelberg Volunteer Medics via Facebook

ʼn Man is Woensdagmiddag naby Eikenhof in die suide van Johannesburg doodgeskiet nadat hy gereageer het op ʼn advertensie van ʼn tweedehandse motor wat te koop aangebied is.

Max Cohen, woordvoerder van Emer-G-Med-nooddienste wat op die toneel was, het aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 15:30 plaasgevind. Die man het glo gereageer op ʼn advertensie van ʼn bekende webtuiste waarop tweedehandse motors geadverteer word.

Hy en sy vriend is na ʼn plek in Alberton waar hulle die verkoper sou ontmoet. Nadat hulle ʼn ruk lank gewag het, het die verkoper gebel en gevra dat hulle elders ontmoet. Met hul aankoms by dié plek, ʼn ongemerkte pad net van die R550, het die verdagtes op die twee mans losgebrand.

Foto: Emer-G-Med

Foto: Emer-G-Med

Maroela Media verneem die slagoffers het glo probeer vlug, maar kon nie daarin slaag nie. Met polisie se aankoms op die toneel het die verdagtes reeds gevlug.

Cohen het gesê een van die mans het verskeie skietwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Sy vriend het slegs geringe beserings opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem.

Kapt. Mzimkhulu Mthimkulu, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. Volgens Mthimkulu was die oorledene 29 jaar oud. “Volgens die inligting wat die polisie tans het, was drie of vier verdagtes by die voorval betrokke. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en ‘n saak van moord word ondersoek,” het hy gesê.

Cohen het ʼn beroep op die publiek gedoen om versigtig te wees met die koop en verkoop van goedere. “Spreek eerder af om vreemdelinge by besige winkelsentrums of ander openbare plekke met veiligheidskameras te ontmoet. Moet nie groot bedrae kontant by jou dra nie en doen betalings verkieslik elektronies,” het hy gesê.

*Die berig is gewysig weens die sensitiewe aard van die ondersoek na die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

EH ·

n Soortgelyke geval het twee vriende van my oorgekom so bietjie meer as n jaar gelede. Die advertensie vir die voertuig wat verkoop sou word was op OLX. Hulle het van Witbank na Pretoria gery om na die voertuig te gaan kyk. Daar is op hulle geskiet deur die “verkopers” en die pa is drie keer raak geskiet. Gelukkig nie dood nie. Nog geen terugvoering van die polisie ontvang nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.