ToekomsVenster: Ware geluk is om die Here te vertrou

(Foto: Juanita Swart/Unsplash)

Jer. 17: 7-8 – Maar gelukkig is dié mense  wat op die Here vertrou en hulle verwagting in Hom stel. Hulle is soos bome wat langs ’n rivier staan. Hulle wortels reik diep tot by die water. Hitte bedreig hulle nie, en hulle blare bly groen. Lang maande van droogte pla hulle ook nie. Hulle hou nie op om vrugte te dra nie.

“Gelukkig is die mense wat op die Here vertrou”. Hoor jy ook weer die bekende woorde van Matt 6, die geseëndes van die Here: gelukkig, vervuld, geseënd, volledig, op die regte plek, ja selfs “suksesvol” met ʼn hemelse definisie vir die begrip van sukses. Dit alles in God se plan, op die regte plek, waar die Here jou wil hê met dit wat Hy vir jou in gedagte het. Met oop hande staan jy gereed om te ontvang, hemelse gawes, die regte ding op die regte tyd, net soos die Here dit beplan het.

Dit is uiteraard die beste plek om te wees.

Dit herinner my aan daardie bekende gebed wat ons dikwels aan die begin van eredienste gebid het, “soos die oë van die dienskneg is op die hand van sy Heer en soos die oë van die diensmaagd is op die hande van haar meesteres soos is ons oë op die Here gerig totdat Hy ons genadig is”.

“Soos bome wat by langs ʼn rivier staan”, sulke mooi taal wat gebruik word. Ps. 1 getuig van sulke mense. Dit gee skadu vir die wat moeg is, dit bied skuiling vir die wat bedreig word en dit bied voeding vir die wat honger is.

Droë jare maak nie ʼn verskil nie en vrugte kom op die regte tyd te voorskyn. Wortels tot diep tot by die water in teenstelling met die bossies wat in die woestyn geplant staan met vlak wortels en geïnhibeerde groei en geen goeie oes om te lewer nie.

Ware geluk is om die Here te vertrou!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Zelda ·

Dankie, Jesus, dat U tyd nie ons tyd is nie en al voel dit soms vir ons of dinge nie op die regte tyd gebeur nie, is U tyd altyd perfek. Dankie dat ons U steeds met U plan vir ons lewens kan vertrou
Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.