40 maniere waarop skrywers skop skep – retoriese middele

Grafika: pencil parker/Pixabay

Ek kry dikwels navrae oor retoriese middele (op die trant van: “Tannie, wat noem ʼn mens dit as skrywers verkeerde goed met mekaar vergelyk?” en wat ek dan moet vertaal na “‘n uitspraak wat aanvanklik lyk of dit ‘n teenstrydigheid bevat, maar by nader beskouing tog versoenbaar is”), wat my gewoonlik in ʼn koue sweet laat uitslaan. Sien, ek is ʼn taalkundige van opleiding en ʼn taalpraktisyn van nering. Letterkunde het my nog altyd ore aangesit. Ek het waardering vir die kuns – baie – maar min vaardigheid om dit te ontsyfer. Linkerbreindilemmas.

Om dié rede het ek nie aandag gegee in die lesings waarin retoriese middele bespreek is nie. Tot my skande en my spyt is ek dus deesdae net so in die donker as die jong navraers, en ek moet altyd naarstig begin rondsoek na hulp. Dit kom onder andere in die vorm van ʼn gratis bron wat in VivA Woordeboekportaal (toeganklik via ons slimfoontoepassing op Google Play en iStore) beskikbaar is, naamlik Literêre Terme en Teorieë (LTT hierna), waaruit ek die definisie hier bo verbatim aangehaal het. Die bron het aanvanklik in 1992 onder die redaksie van die befaamde prof TT Cloete by HAUM-Literêr verskyn, maar dit is intussen deur die kopiereghouer, Maskew-Miller Longman, gedigitaliseer, en dit word deesdae voortdurend bygewerk. Die teks van die 2007-uitgawe van Van Gorp et al. se Lexicon van literaire termen is ook bygevoeg met die goedgunstige toestemming van die outeurs, wat dit ʼn formidabele en uiters bruikbare teks maak. Die enigste “probleem” is dat die soekfunksie so opgestel is dat ʼn mens eintlik reeds moet weet waarna jy soek as jy by die bron aankom. Gebruikers spoor naamlik die definisies net met trefwoorde op, en die trefwoorde is die antwoord waarna ons jong navraer hier bo gesoek het. “Skrywers wat verkeerde goed met mekaar vergelyk” gaan nie bevredigende resultate oplewer nie.

Die lys hier onder is ʼn poging om dit vir ons navraer en sy genote makliker te maak om by antwoorde uit te kom. Dit is nie ʼn poging om inligting oor retoriese middele op te som nie, dis ʼn poging om die inligting in die bronne in Woordeboekportaal meer toeganklik te maak. Dit is dus uiters noodsaaklik dat hierdie inligting saam met die definisies in Literêre Terme en Teorieë en ander betroubare naslaanbronne soos die WAT gebruik moet word en nie as ʼn gesaghebbende bron op sy eie beskou moet word nie.

Kom ons begin darem net eers, soos dit goeie navorsing betaam, by wat ons onder retoriese middele verstaan: Retoriek, sê LTT is die teorie van versorgde en oortuigende taalgebruik. Die woord is afgelei van die Griekse woord rètor vir spreker, en die studieveld handel oor die tegnieke tot ‘n spreker/outeur se beskikking waarmee die boodskap van ʼn teks so doeltreffend moontlik aan ʼn hoorder/leser oorgedra word. Een van dié tegnieke is retoriese middele. Dit sluit in:

  1. aforisme, ‘n kernagtige stelling waarin ‘n waarneming, morele les of lewenswaarheid kreatief verwoord word, bv. Twee dinge is oneindig: die kosmos en menslike onnoselheid; en ek is nie seker van die kosmos nie.
  2. allegorie, ‘n verhaaltegniek waar ʼn storie ʼn parallelle narratief (dikwels die werklikheid) voorstel, bv. Totius se alombekende gedig “Vergewe en vergeet” en die onvergeetlike Kanadese film Jesus of Montreal.
  3. alliterasie, die herhaling van konsonante, gewoonlik in die beginposisie van woorde, bv. die herhaling van die w-klank in die eerste reël van die kinderrympie Wie weet waar Willem Wouter woon?
  4. anaforiek, verwysing, gewoonlik deur middel van voornaamwoorde, na een bepaalde referent, waarmee daar sterk samehang in ʼn teks bewerkstellig word, bv. Jan is sterk, hy is moedig, en sy beginsels is onkreukbaar. Hy is alles waarvan ek in ʼn man hou.
  5. analepsis, ʼn afwyking van die chronologiese vertelling van die verhaal deurdat gebeure wat vroeër afgespeel het, vertel word; ʼn terugflits.
  6. anastrofe, ʼn omkering van die gewone sinsvolgorde, bv. Waar is jou vroutjie vaal en fyn?/ Sit sy op haar nessie klein?
  7. antifrase, ʼn soort ironie waar ʼn enkele woord gebruik word en die teenoorgestelde bedoel word van wat dit beteken, bv. Dis nou vir jou ʼn lieflike gemors.
  8. antimerie, die benutting van ʼn woord in ʼn ander woordsoortfunksie as wat dit gewoonlik is, bv. Hy het my op Facebook gevriend of Die berge blou in die verte.
  9. antitese, ʼn teenstelling wat tussen twee parallelle frases geskep word, bv. Die een se dood is die ander se brood of Ver van jou goed is na aan jou skade.
  10. antonomasia, die benoeming van ʼn saak of persoon deur ʼn uitsonderlike eienskap, dikwels waar ʼn eienaamwoord as soortnaamwoord gebruik word of andersom, bv. hitler vir ʼn gemene leier of Verlosser vir Jesus.
  11. aporie, die uitdrukking van huiwering of besluiteloosheid, bv. Sal ek of sal ek nie hierdie swaard opneem nie?
  12. asindeton, die weglating van voegwoorde, bv. Ons het gekom, ons het gesien, ons het gekoop.
  13. assonansie, die herhaling van vokale, gewoonlik op so ʼn manier in ʼn sin of versreël geplaas dat dit aandag trek, bv. die herhaling van die aa-klank in DF Malherbe se gedig “Slaap”: Sag op haar blou oë daal die vaak / soos maneskyn diep waterkuile raak.
  14. beeldspraak, ʼn sambreelterm vir enige soort taalgebruik wat beelde (Engels: imagery) gebruik om ʼn bepaalde ding te beskryf.
  15. bragilogie, ʼn telegrammatiese, beknopte manier om ʼn langer begrip uit te druk, bv. Jy dink ék is onredelik? Pot, ketel, swart.
  16. chiasmus, die omkering van grammatikale struktuur van een frase na ʼn parallelle volgende frase, bv. Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word. (Lukas 6:37)
  17. commoratio, die herhaling van ʼn bepaalde begrip met verskillende woorde, bv. Hierdie raad is vry, gratis, mahala, verniet.
  18. disfemisme, die gebruik van ʼn kruer of erger woord of uitdrukking as wat nodig is (die teenoorgestelde van eufemisme), bv. die haaie voer in plaas van verdrink.
  19. epistrofe, die plasing van dieselfde woord aan die einde van sinne of frases, bv. Die waarheid, die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie.
  20. hendiadis, een begrip wat deur twee woorde, verbind deur ʼn voegwoord (meestal en), weergegee word, bv. Hulle is vuur en vlam vir die plan.
  21. hiperbool, erge oordrywing, bv. Ek skaam my morsdood of Die Lions gaan die Reds se harte breek hier in die doodsnikke van die wedstryd as hulle nou ʼn doel aanteken.
  22. ironie, ʼn komplekse soort teenstelling of dubbelsinnigheid, dikwels skreiend, wat deur middel van woorde of deur middel van ʼn situasie in ʼn teks geskep word en wat onbetrokke objektiwiteit van die spreker/verteller vereis, bv. die reëls in “Nuwejaarsvers” van Elizabeth Eybers: Om te beleef en ook te loof wil ek/ die voelhorings van ironie laat dwaal/ oor dit wat was, wat is, wat moet gebeur./ Ek wil nagaan hoe grondig welslae faal,/ ek wil die lang mislukking en die pyn/ deurtas om dan ten spyte van die skyn/ ‘n oormaat van tegoed te konstateer.
  23. katachrese, beeldspraak wat skeefgeloop het, bv. Die gedagte was soos ʼn bliksemstraal deur sy hart.
  24. litotes, ʼn soort eufemisme of versagting, dikwels ironies aangewend, bv. Hy gaan nou nie Meneer Wêreld word nie of Hy het ʼn lieflike persoonlikheid.
  25. metaforiek, ʼn soort beeldspraak waar een beeld of konsep gebruik word om ʼn ander te benoem, bv. Die politikus is ʼn regte slang of Haar kêrel is die son, die maan, die sterre, die tandmuis en Vader Kersfees alles ineen.
  26. metonimia, die beskrywing van ʼn saak deur middel van ʼn beeld of teken wat daarmee verband hou of bevattend is van die ding waarna daar eintlik verwys word (in teenstelling met metaforiek waar daar nie ʼn konkrete verband tussen die saak en die beeld is nie), bv. Grys hare verdien respek of Die hele saal het hom toegejuig.
  27. oksimoron, twee oënskynlik teenstellende woorde wat naas mekaar gebruik word (in teenstelling met ʼn paradoks waar dit oor stellings gaan), bv. koue vuur of lomp feetjie.
  28. onomatopee (ʼn ander woord vir klanknabootsing), die gebruik van ʼn woord of woorde om ʼn geluid na te maak, bv. die reël uit Stories van Rivierplaas deur Alba Bouwer: “Tjierr, tjierr,” sê die windpomp en dan “sjlirr, sjlirr” soos hy die water by die pyp uitgooi en die emmer vol maak.
  29. paradoks, twee stellings wat oënskynlik ʼn teenstelling behels (in teenstelling met ʼn oksimoron waar dit oor woorde gaan), maar wat by nadere ontleding eintlik mekaar aanvul, bv. Om te lewe, moet jy sterwe.
  30. paronomasia, ʼn soort woordspel wat verband hou met die spelling en klank van woorde en wat dikwels op homonimie of homofonie berus, bv. Loop kyk of jou yskas nog loop.
  31. personifikasie, die toekenning van menslike eienskappe aan ʼn niemenslike ding of van lewende eienskappe aan ʼn nielewende ding of ʼn abstraksie, bv. die son skater of Hy voel opeens die koue aanraking van die dood.
  32. pleonasme, gewoonlik die oorbodige gebruik van woorde, maar soms in tekste aangewend ter beklemtoning, bv. Ek het dit met my eie ore gehoor of Ontmoet Miemie, my eie, persoonlike vrou.
  33. polisindeton, die herhaling van voegwoorde om klem te bewerkstellig, bv. Hulle het gesing en gedans en gelag en gefuif, tot die polisie hulle kom stil maak het.
  34. prolepsis, ʼn afwyking van die chronologiese vertelling van die verhaal; in hierdie geval ʼn vooruitskouing, bv. as ʼn verteller in ʼn teks sou sê: Sy besef dit nie nou nie, maar later sou hierdie besluit haar duur te staan kom.
  35. simboliek, die gebruik van simbole om ʼn bepaalde ding of begrip weer te gee, bv. Sy plan het die rooi lig gekry.
  36. sinekdogee, die gebruik van ʼn term wat eintlik ʼn deel is om na die geheel te verwys of andersom, bv. Die Engelse het die tweede kriekettoets verloor of Hy het sy buurman onder die lood gesteek.
  37. spreuk, ʼn kernagtige stelling waarin ʼn morele les verwoord woord, dikwels met ʼn religieuse strekking (dit verskil van ʼn aforisme daarin dat die woordgebruik nie kreatief is nie), bv. Die mens wik, maar God beskik.
  38. tricolon, drie parallelle frases of stellings wat ná mekaar gestel word en ʼn soort opbou bewerkstellig, bv. Gee ʼn man ʼn vis, dan kan hy eet. Leer hom om vis te vang, dan kan hy vir die res van sy lewe eet. Gee vir hom ʼn boot en ʼn visstok, dan sien jy hom nooit weer nie.
  39. troop, ʼn sambreelterm wat verwys na enige voorstelling van ʼn bepaalde ding of begrip deur middel van ʼn beeld of die figuurlike aanwending van die taal.
  40. vergelyking, die beskrywing van ʼn ding of begrip deur dit aan ʼn ander gelyk te stel, dikwels met die gebruik van die woorde soos of as, bv. Die mense wat ek liefhet,/ kom groei op my soos mos of Rooier as die rooiste roos is daardie mond van haar.

Mag dié kullysie my in staat stel om my jong navraers in die toekoms met meer selfvertroue te help!

VivA-groete

Sophia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lord Oom Piet ·

Dankie vir die nuwe hulpbron.

Vir kennisname:

“versyfer” is beter Afrikaans as “digitaliseer”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.