Afrikaans 90: Afrikaans, waarom nie?

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.

Hierdie stuk is geskryf deur Wannie Carstens (Voorsitter SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (2011–2014))

Die vraag “Waarom Afrikaans?” lok onmiddellik by my ’n teenvraag uit: “Waarom NIE Afrikaans NIE?”

Afrikaans is baie stewig gevestig in hierdie “wye en droewe land” (NP van Wyk Louw) as taal van ’n groot groep sprekers: wit, bruin, swart. Dit is mense wat hul volle lewens en hul menswees uitleef in Afrikaans. Hierdie mense kan nie sonder Afrikaans nie, want sonder Afrikaans is hulle bykans niks. Dit is in hul siel, in hul totale menswees, dit is in hul denke en in hul daaglikse doen en late.

En hiermee moet ek ook ’n belangrike saak oor Afrikaans regstel: Afrikaans is nie die taal van net wit mense nie (ja, Langenhoven het hom in 1914 sleg hieroor uitgedruk by die jaarvergadering van die SA Akademie toe hy gesê het Afrikaans is “onse kostelikste roem, ons hoogste besitting: die één enigste witmans-taal wat in Suid-Afrika gemaak is en nie oor die seewater klaar gekom het nie”). Maar laat ons nie vir hom kwaad wees nie, want dit was in die konteks van die tyd waarin hy gelewe het. Afrikaans is veel meer as die taal van wit mense, dit is veel eerder die taal van die bruin mense (soos die slawe uit die Ooste wat hulself met Hollands moes uitdruk en in hierdie proses gehelp het om die taal te laat “anders” raak as die Hollands van die tyd). En dit is ook die eerste taal van baie swart mense. Laat ons dus ophou om Afrikaans in rasseterme te sien. Laat ons Afrikaans net as taal sien, as die primêre instrument wat gebruik word deur ’n groot verskeidenheid mense in ons land, as taal wat die Afrikaanse gemeenskap in hierdie land saamsnoer onder die term Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners.

Afrikaanse mense lewer ook ’n unieke bydrae tot hierdie land. Ons het soveel kundigheid, entoesiasme, energie, drif en durf. Ons kan as taalgroep hierdie land behoorlik laat werk: as ingenieurs, dokters, aptekers, verpleegsters, onderwysers, wetenskaplikes, joernaliste – op watter vlak ook al en ongeag die beroep wat jy (wil) volg. Daarom is Afrikaans ook ’n taal van kennis en kundigheid. Die enigste voorwaarde wat ek altyd koppel aan my bydrae, is dat ons (ek) dit in Afrikaans wil doen.

Ek is self ’n tweedeklasburger in Engels, want ek kan my nie naastenby so goed daarin uitdruk nie as in Afrikaans – in Afrikaans kan ek die skerpste dink, formuleer, redeneer, skryf, praat, luister. Ek lewer dus die beste bydrae tot hierdie land se welsyn in Afrikaans. Natuurlik kan ek ook Engels praat, maar nie so goed as Afrikaans nie. Laat ons as Afrikaanse mense hierdie gaping met entoesiasme vat (soos goeie senters in ’n rugbyspan). In alle gesprekke met die ANC dui ek aan dat ek en die mense wat ek verteenwoordig, dit in Afrikaans wil doen en dit word so aanvaar, sonder veel teenstribbeling. Laat ons dus nie omdat ons Afrikaans is, ons wil terugtrek agter ons hoë mure nie, of selfs wil emigreer na ander lande nie. Kom ons bly hier en help om van hierdie land ’n groot sukses te maak. Soos president Barack Obama van die VSA tydens sy eerste verkiesingsveldtog gesê het: “Ja, ons kan!”

En verder: Studeer in Afrikaans (die Grondwet gee jou daardie reg), lewe jou lewe volledig in Afrikaans (weer eens gee die Grondwet jou daardie reg), maak jou kinders groot in Afrikaans – laat hulle na Afrikaanse skole gaan (die drogargument dat jy jou beter vir die lewe voorberei as jy na Engelse skole gaan is, is gewoon wat dit is: ’n argument wat op ’n denkfout gebaseer is), bou jou besigheid op in Afrikaans, lewer jou professionele dienste in Afrikaans, sosialiseer in Afrikaans – dus wees wat jy is in Afrikaans.

Moet egter nie in ’n gemaksone verval nie, want Afrikaans gaan nie vanself hier wees nie – ons as Afrikaanssprekendes moet hierdie taal koester, troetel, bewaar en uitbou. Dis ons “pêrel van groot waarde”, dis die monument van ons menswees. En ons kan hierdie pêrel in stand hou deur die Afrikaanse boeke en musiek wat ons koop, deur Afrikaanse rolprente en toneel te gaan kyk, deur ons besigheid (sake) in Afrikaans te doen. Trek ander aan na ons op grond van wie en wat ons is sodat ons die spoke van die verlede kan besweer. Dit doen ons op ’n vriendelike en goedgesinde, menslike wyse sodat ander vir ons respek kan hê en ons kan waardeer vir wat ons is: konstruktiewe burgers in hierdie mooi land van ons.

Daarom: Waarom Afrikaans? En ek vra: Waarom nie Afrikaans nie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae