Afrikaans 90: Die waarde van moedertaalonderrig

afrikaans 90Hierdie artikel is deel van ‘n reeks artikels wat op Maroela Media gepubliseer word om die 90ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal te vier in die Afrikaans 90-veldtog. Die artikels is oorspronklik gepubliseer in die boek Hoekom Afrikaans? en word met vergunning van die FAK op Maroela Media gepubliseer.
Hierdie stuk is geskryf deur Pierre Edwards (Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria)

Navorsing wat wêreldwyd gedoen is, het bewys dat dit die beste opsie is om ’n kind in sy moedertaal te onderrig. Die wenslikheid van moedertaalonderrig, veral gedurende die eerste jare van onderrig, word lank nie meer deur linguïste en opvoedkundiges gedebatteer nie; dit word as voldonge feit aanvaar. Die vaslegging van basiese konsepte, wat noodsaaklike boustene vorm vir latere effektiewe leer, vind optimaal deur medium van die moedertaal plaas.

Die veeltalige aard van die Suid-Afrikaanse samelewing kan egter nie buite rekening gelaat word nie. Die eis om onderrig deur medium van die moedertaal, moet egter nie gesien word as ’n miskenning van die waarde van ander tale en veeltaligheid nie – ook op individuele vlak. In dié verband is ’n tweede algemeen aanvaarde beginsel ter sake, naamlik dat die sukses van die verwerwing van ’n tweede en selfs ’n derde taal afhang van die mate waarin die moedertaal reeds bemeester word. ’n Beleid van toegevoegde veeltaligheid, soos wat tans deur die onderwysowerhede voorgestaan word, kan dus slegs slaag indien dit op deeglike begronding van die moedertaal gefundeer is. Moedertaalonderrig is dus allermins beperkend; trouens, wanneer dit hand-aan-hand gaan met die kundige onderrig van Engels, wat al meer as lingua franca in Suid-Afrika en die res van die nie-Engelssprekende wêreld gebruik word, bied dit toegang tot die ryk belewenis wat kennis van ’n ander taal bied.

’n Argument wat dikwels teen moedertaalonderrig, veral in Suid-Afrika teen Afrikaans gebruik word, is dat dit kulturele en etniese verdeling aan die hand werk. Dit is egter ’n mite dat ’n multikulturele bevolking van ’n land slegs deur ’n enkele taal as nasie saamgesnoer kan word – nasiebou word deur talle ander faktore gedryf. Trouens, die onvermoë van regerings om etno-linguistiese verskeidenheid te erken, het al in talle lande ’n destabiliserende effek gehad.

Die beste onderwysstelsels in die wêreld is sterk voorstanders van moedertaalonderrig. Finland word byvoorbeeld gereken as een van die wêreld se beste onderwysstelsels. Inwoners van Finland praat Fins of Sweeds en leerlinge van albei dié tale kan hul akademiese onderrig vanaf die eerste skooljaar tot op universiteitsvlak in hul moedertaal kry. Nie een van die twee tale word as wêreldtale gereken nie, maar dit verhoed nie dat (a) leerders tot op tersiêre vlak in hul moedertaal onderrig kan word nie, en (b) hul regmatige plek – ook wat ekonomiese bemagtiging betref – in die samelewing kan inneem nie.

Na ’n halwe eeu se stryd het die tradisioneel Afrikaanse universiteite hulself op internasionale vlak as gesaghebbende akademiese instansies gevestig, ten spyte daarvan dat onderrig tot die draai van die eeu oorwegend in Afrikaans was.

Die huidige dilemma waarin onderwys hom in Suid-Afrika bevind, is deels toe te skryf aan die feit dat daar soveel leerlinge is wat nie in hul moedertaal onderrig word nie; meer nog, dat onderwysers as gevolg van die werklikheid van veeltalige en multikulturele klaskamers dikwels gedwing word om onderrig te gee in ’n taal wat nóg die onderwyser, nóg die leerder se moedertaal is.

Vandag is daar duisende professionele Afrikaners wat in hul moedertaal onderrig is, oor die wêreld heen versprei wat op alle denkbare terreine leiers op hul vakgebiede is of hul plek deeglik volstaan in die bedrywe waarin hulle hul gevestig het. Hul sukses is waarskynlik te danke aan ’n goeie akademiese begronding in hul moedertaal en tweedens aan die kundige wyse waarop hulle in Afrikaanse skole in die gebruik van Engels onderlê is.

As dosent, onderwyser en hoof kan ek met vrymoedigheid getuig dat moedertaalonderrig die leerling en student ’n groot voorsprong in sy akademiese vordering gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae