Alana Bailey: ‘Buitelanders is positief oor Afrikaans’

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, kuier by Maroela Media.

[Video’s waarin Alana Bailey oor verskeie onderwerpe gesels volg onderaan die berig]

“Ek kan dit nie beter as Lina Spies verwoord nie wanneer sy sê: ‘Ek kan net regtig ek wees in Afrikaans’,” antwoord Alana Bailey wanneer ʼn mens haar oor die rol van Afrikaans in haar lewe vra.

Alana is van 2005 af by AfriForum betrokke en haar fokus by die organisasie is op taal, kultuur, onderwys en erfenis.

Maroela Media het met Alana gesels oor haar reiservarings wanneer sy vir skakeltoere na die buiteland reis, sy vertel hoe buitelanders oor Afrikaans voel, en dink terug aan haar onderhoud met die London Times ná die Charlize Theron-debakel.

Alana Bailey se reiservaring in Tunisië

In hierdie video deel Alana ʼn staaltjie oor die vreemde oomblik toe sy en haar toergids in Tunisië mekaar in gebroke Afrikaans gevind het.

Buitelanders positief oor Afrikaans

Alana sê mense in die buiteland is in die algemeen baie positief oor Afrikaans. “Die idee dat dit die taal van apartheid en die onderdrukker is, het gelukkig begin wegval. Mense besef ook al hoe meer dat minderheidstale onder druk is en daarom het hulle baie simpatie met enige minderheidstaal wat spasie en ruimte wil hê.”

As hoof van kultuursake by AfriForum het Alana al menigmaal internasionale skakelwerk gedoen en in hierdie video vertel sy hoe Afrikaans in die buiteland ontvang word.

Alana Bailey se hoogtepunte by AfriForum

Hofsake vir universiteite oor taalregte en internasionale skakeling is van die hoogtepunte wat Alana gedurende haar tyd as hoof van kultuursake by AfriForum uitsonder.

Sy sê dit is ook vir haar belangrik om ʼn gesonde veggees by mense te kweek om vir Afrikaans te veg. “Ek dink ons moet vir ons gemeenskap leer dat wanneer iets wat belangrik is, soos jou taal, van jou af weggevat word, moet jy kan opstaan en baklei daarvoor. Dit is vir my ʼn belangrike boodskap.”

‘Vra vir Afrikaanse spyskaarte’ 

Die toekoms van geen taal is seker solank as wat sprekers van die taal nie saam daaraan help bou nie, meen Alana.

“Ek dink ʼn mens moet nooit gemaklik oor enige taal se toekoms wees nie. Ons moet altyd in enige taal aanhou werk, seker maak dat die taal van geslag tot geslag oorgedra word, en dat mense ruimte vir die taal maak.”

Die London Times wil weet oor Afrikaans

Na aanleiding van die Charlize Theron-debakel wou die London Times onder meer by Alana weet hoe dit met Afrikaans gaan.

“Aan die een kant was dit nogal lekker dat ʼn mens oor Afrikaans kon praat, en dat sy die geleentheid daarvoor geskep het, maar aan die ander kant is dit vir my tragies dat mense vir jare wonderlike werk vir Afrikaans doen, en dit nie regtig raakgesien word nie.”

Alana pluk tamaties, genot uit haar tuin

Wanneer Alana nie besig is met taalaktivisme en om Afrikaans in die buiteland te bevorder nie, maak sy graag tuin en speel met haar honde, Muffin en Frieda.

Watter boek gryp jy as die gebou brand?

Wanneer die gebou brand is daar nie tyd om aan boeke te dink nie – al is jy ʼn boekliefhebber. Alana vertel in hierdie video waar haar liefde vir boeke en lees begin het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.