#AlumniVirAfrikaans: ’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop

Oom Sakkie (Foto: Verskaf deur Dana Snyman)

Deur Dana Snyman

Oom Sakkie lig sy wit jassie van die draadhanger wat aan die deur van sy haarkappersalon hier op Wellington in die Boland hang. Hy begin die jassie aantrek … arm deur die een mou, arm deur die ander mou, sukkelend.

Eddie Smit, ’n plaaslike sakeman, het pas hier ingestap en op die bank teen die muur onder ’n geraamde Bybelvers teen die muur gaan sit: Spreuke 16 vers 9. Eddie sny al van kindertyd af hier hare.

Oom Sakkie tel ’n skerpbekskêr en ’n kam van die kas af op waar sy snygoed langs ’n outydse kasregister lê. Hy druk dit in die jassie se bosak.

“Die Bybel is maar altyd reg, nè. Daar’s ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan.” Oom Sakkie sê dit asof hy dit vir homself sê en gaan staan dan by die hoë barbierstoel in die middel van die vertrek. Hy kyk na Eddie. “Kom sit maar, ou Eddie.”

Eddie hys hom tot op die stoel. Dis amper vyfuur, amper toemaaktyd. Eddie is die laaste man ooit wie se hare oom Sakkie amptelik gaan sny, want vandag gaan hy sy salon hier in Milnerstraat se deur vir die laaste keer sluit. 31 Oktober 2014.

Oom Sakkie is darem al negentig, die oudste haarkapper in die land.

Die laaste agt en sestig jaar al, sedert 1946, sny hy die manne hier op Wellington se hare; ses dae ’n week, twaalf maande per jaar.

Engela, oom Sakkie se dogter, kom by die deur in met ’n selfoon in die een hand. Sy druk oom Sakkie se skouer liggies met die ander hand voordat sy op die bank gaan sit. Oom Sakkie tel ’n wit doek van die kassie af op en bind dit met struikelende vingers om Eddie se nek vas. “Hoe wil jy hom hê, ou Eddie?”

“Maak hom maar kort, seblief, Oom.” Oom Sakkie draai om en vat na een van die drie knippers wat aan hakies teen die kas hang. Hy het op Ladysmith in die Klein Karoo grootgeword, een van elf kinders. Sy broer Willie, wat al die jare Ladysmith se haarkapper was, het hom geleer hare sny. Hy laat die knipper agter aan Eddie se hare proe-proe, toe vat hy die knipper weer weg van Eddie se kop af. “Is jy nie bang nie, ou Eddie?”

“Waarvoor, Oom?”

“Ek hoor dan die mense sê ek sny hulle raak.”

“Die mense sal maar altyd skinder, Oom.”

“Hoesê?”

“Ek sê: Die mense sal maar altyd skinder!”

Oom Sakkie mik weer met die knipper na Eddie se kop, huiwerig. Hy stoot dit teen Eddie se nek op met albei hande om die knipper geklem, bewerig verby Eddie se oor. Toe doen hy dieselfde aan die ander kant van Eddie se kop.

“Ek wonder hoeveel keer het Oom al my hare gesny.”

“O nee, jitte, ou Eddie. Dit moet baie wees. Baie. Baie.”

Oom Sakkie hang weer die knipper aan die hakie en wikkel die skêrtjie en die kam uit sy bosak. “Ek sal seker nou ook na een van hierdie haarboetieks toe moet gaan, Oom,” sê Eddie, maar oom Sakkie antwoord hom nie. Hy knip-knip ’n paar keer met die skêrtjie in die lug, toe laat gly hy die kam oor Eddie se kop en knip die hare af wat deur die kam se tande steek.

“Hoor Pa wat Eddie sê?” vra Engela wat steeds stil op die bank sit.

“Ek hoor, my kind. Ek hoor.” Oom Sakkie hoor, maar hy antwoord nie. Hy kam en knip aan Eddie se hare, kam en knip met hande vol oumensvlekke, kam en knip finaal oor die rondings van Eddie se kop.

“Jy weet, my pa wou gaan studeer het,” sê Engela, lig haar selfoon en neem ’n foto van oom Sakkie, “maar daar was nie geld nie.”

Oom Sakkie skuifel tot voor Eddie, korrel met die een oog toe en sny Eddie se kuif. Toe druk hy die skêrtjie terug in sy sak en tel die haarmessie van die kassie af op. Hy skeer Eddie se nekhare en toe is daar ’n blikkie Johnson & Johnson-babapoeier en ’n kwassie in oom Sakkie se hande. Hy sprinkel poeier op die kwassie en van die poeier sif af vloer toe, tot op sy Stokies. Hy laat lek en lek die kwassie aan Eddie se kop en maak die doek om Eddie se nek los.

Eddie kom regop en vat na die beursie in sy agtersak. “Dankie, oom Sakkie. Dankie vir als.”

Oom Sakkie gaan by Engela op die bank sit. Die skêr en die kam lê skuins in sy bosak. Hy kyk deur die vertrek, na die tafeltjie met die voosgeblaaide tydskrifte, na die kassie teen die muur waarin ’n bottel Dettol en ’n pakkie pleisters is. Dit lyk of hy afsonderlik na elke ding kyk en afskeid neem. Die drie knippers aan hul hakies. Die skêre. Die kamme. Die haarmessies. Die blikkie babapoeier. Die bottel Eau de Quinine-haarolie.

“My pa wou eintlik Stellenbosch toe gegaan het.” Engela vat oom Sakkie se hand met wit kneukels vas. “Hy wou vir predikant gaan leer het.”

  • Klik hier om tersiêre opleiding in Afrikaans te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
B-Man

Hoekom is dit so hartseer…

Toy

Ai shame dit is eintlik so hartseer. Nog ‘n generasie, laat my so verlang na my ouers en groot ouers.

Boerkind

Aandoenlik!

Susan

Eie aan Dana se skryfstyl, soveel empatie vir alle mense, altyd ongelooflik interessant en die raak beskrywings asof mens die mens en toneel kan sien. Baie hartseer dat almal van ons een of ander tyd die laaste keer ‘n deur agter jou sluit waar jy jare lank betrokke was by ‘n werk, beroep of besigheid. Hoop ons kan nog baie uit Dana se pen lees in die jare wat kom.