#AlumniVirAfrikaans: Werk in jou eie tuin

Prof. Grietjie Verhoef (Foto: Vryemarkstigting/YouTube)

Deur prof. Grietjie Verhoef

Dit is onmoontlik om presies te voorspel of nuwe uitvindings of ontwikkelings suksesvol gaan wees, maar dis sinvol om Voltaire se raad te volg: Werk in jou eie tuin, as jy een het, om jou eiendom bestendig te hou. In die Calvinistiese tradisie is Afrikaners in die verlede onder omstandighede van bestaansonsekerheid dikwels aangespoor om eenvoudig te doen wat die hand vind om te doen. Toe die donker wolke van verengelsing en verkleinering van die eie taal onder Britse bewind wesenlike bestaanbedreiging ingehou het, het Afrikaanssprekendes hand aan die ploeg geslaan en in hulle eie “tuin” gaan werk. In die konteks waaronder ʼn nuwe volksaard ontwikkel het, het ʼn taal as instrument van die ontluikende identiteit ontstaan. Gedurende die laat negentiende eeu het die sprekers van “Afrikaans” nog nie geweet hoedanig die taal sou ontplooi nie. Wat wel duidelik was, was dat as identiteit en taal hulle erns was, hulle vooruitgang van taalerkenning en –ontwikkeling afgehang het. Die Genootskap van Regte Afrikaners van 1875 het twee duidelike doelwitte gestel: om die Bybel in Afrikaans te vertaal sodat geloofsgenote die Woord in hulle eie taal kon ontvang, en om reëls te formuleer om te verduidelik hoe die “beskaafde gedeelte” van die bevolking Afrikaans gebruik. Die behoefte om sosiaal, ekonomies en in die regsomgewing gerespekteer en in eie reg deur die hovaardige Engelssprekendes en meerderwaardige, welvarende Hollandsprekende “Afrikaners” aanvaar te word, het die proses begin wat op Afrikaans as wetenskapstaal – die enigste nie-Europese/nie-Asiatiese taal wat volledige universiteitstatus bereik het en wat sy gebruikers in alle fasette van hulle lewe bedien – sou uitloop. Alle ander wetenskapstale het hulle wortels in Europa of Asië.

Die “wonder van Afrikaans” is dat die taal tot wasdom gevoer is deur taalwetenskaplikes in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (gestig in 1909), asook aan universiteite wat Afrikaans naas omgangstaal die instrument vir modernisering gemaak het. Die regerings van die dag het geen of bloot  ʼn terloopse rol in die ontwikkeling van Afrikaans gespeel. Taal is die instrument waardeur konteks herverstaan word as kern van vernuwing en draer van moderniteit vir sy sprekers. Taalreëls is die voorwaarde vir die ontwikkeling van ʼn moderne geletterdheidstradisie. Taalontwikkeling sluit die geleidelike standaardisering in taalstruktuur, morfologie (woordstruktuur en woordvorming) en woordeskat in. Taalontwikkeling is egter ʼn langsame proses. Taalleiers het veral deur die vertaling van die Bybel ʼn geweldige bydrae gelewer tot die verfyning van die taalstruktuur en ontwikkeling van woordeskat. Die sprekers van die taal het dus self in daardie akker gewerk. Toegerus met die instrument vir wetenskapsontwikkeling word taalgebruikers tot hoërorde-denke en teoretiese abstraksie bemagtig.

Oor die verloop van meer as eenhonderd jaar het die Taalkommissie van die SA Akademie, saam met wetenskaplikes aan die universiteite – aanvanklik die Universiteit van Stellenbosch, en daarna ook die Universiteit van Pretoria en ander Afrikaansmedium instellings – Afrikaans op die voorpunt van alle fasette van wetenskapsontwikkeling geplaas en uitgebou. Enersyds het dit die sprekersgemeenskap in staat gestel om tersiêre studie in hulle eie taal te onderneem, en andersyds om op gelyke grondslag die wêreld van professies te betree. Teen 1915 het slegs 15% van Afrikaanse kinders verder as standerd vyf (graad sewe) gevorder. Moedertaalonderrig het met verdrag ontwikkeling en modernisering moontlik gemaak sodat teen die middel sewentigs meer as 60% van mense met doktorsgrade in Suid-Afrika Afrikaanssprekendes was.

Afrikaans as ʼn klein taal met ʼn klein sprekersgemeenskap het as vertolker van die ontwikkelingsbehoeftes van die groeiende kultuurgemeenskap van sprekers, geloofsgemeenskap en wetenskapsgemeenskap ontwikkel. Die “wonder van Afrikaans” was daarom ook dat die taal aan universiteite en navorsingsinstellings soos die WNNR, die regbank en die geld- en bankwese as gesofistikeerde instrument van wetenskapsontwikkeling ontwikkel het.

Afrikaanstaliges het hulle regmatige plek in die samelewing ingeneem. Afrikaans – ons “pêrel van groot waarde” – het die instrument geword van die fyn en verhewe kuns en kultuurgees van Afrikaners, maar by uitstek ook die ontwikkelingsinstrument van vooruitgang en modernisering.

Waarom tale groei of kwyn, is kompleks en kontekstueel. Geen model is nog daarvoor ontwikkel nie, maar Jaap Steyn verwys in Tuiste in eie Taal na faktore soos fisiese bedreigings wat demografiese verskuiwings veroorsaak, terrorisme, politieke beleid, ongebondenheid, morele agteruitgang en die belang van die landbou as bepalend vir voortbestaan. Afrikaans was reeds in soortgelyke bestaansbedreigende omstandighede. Ons is nou weer daar. Waarom sou ons dan nóú oor die voortbestaan van Afrikaans twyfel? Slegs indien ons fisies uitgewis word, sou Afrikaans geen toekoms hê nie. Die klein en onbeduidende grootte van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap in die groter wêreldgemeenskap van tale was nie in die verlede bepalend ten aansien van taalbestaan nie. Net soos wat Afrikaans nie in die negentiende eeu aan enige universiteit in Suid-Afrika as onderrigmedium gebruik is nie, maar wel stelselmatig vir onderrig en navorsing in alle dissiplines ontwikkel is, sal Afrikaans in die toekomstige kleiner bestaansruimte die voertuig van wetenskaplike en intellektuele vooruitgang van sy sprekers wees. Die voorwaardes is “gebruik” en “funksie”. Wanneer taal in die samevloeiing van taalbevordering en volksbou bestaan – as omgangstaal, onderrigtaal en navorsingstaal oor die totale spektrum van wetenskap en tegnologie – bly die taal ontwikkel en gevolglik bly dit lewend. Die volgehoue gebruik van Afrikaans aan Akademia en ander instellings van gevorderde navorsing en wetenskapsbeoefening is daarom fundamenteel belangrik.

  • Kliek hier om tersiêre opleiding in Afrikaans te ondersteun.
  • Grietjie Verhoef is ‘n professor in rekeningkunde en ekonomiese geskiedenis aan die Universiteit van Johannesburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.