‘Avbob-meisie’ nou gepubliseerde digter

Lynthia Julius (Foto: Nb.co.za)

“Is jy nie die meisie van Avbob nie?” het ʼn kelnerin eendag vir Lynthia Julius in ʼn restaurant op ʼn klein Wes-Kaapse dorp gevra. Vreemde naam om te hê, het Lynthia gedink, en toe laggend geantwoord: “Ja, ek is die Avbob-meisie.”

Toe Lynthia se gedig “Vir Aljarreau” in 2018 as die wenner in die Afrikaans-taalkategorie in Avbob se digkunskompetisie bekroon is, was sy nog ʼn groentjie. Hoewel sy toe al ʼn hele paar gedigte geskryf het, het Lynthia nie genoeg selfvertroue gehad om dit na ʼn uitgewer toe te stuur nie.

“Ek het soos Jack Parrow in Tussen Stasies myself gevra: Ek sit en skryf gedigte, maar word my gedigte digkuns?” vertel sy aan Maroela Media.

Avbob het in 2017 sy poësiekompetisie van stapel gestuur om aan ʼn universele behoefte – die verwoording van die verlies van ʼn geliefde – te voldoen. Sedertdien het dié kompetisies van krag tot krag gegaan.

Benewens die stewige hupstoot wat dié kompetisie vir Lynthia se loopbaan gegee het, sal sy ook ewig dankbaar wees vir haar vriendskap met die Engelse beoordelaar, Douglas Reid Skinner, wat hieruit ontstaan het.

“Ek sal altyd bly wees dat ek ingeskryf het. Afgesien van uitstekende beoordelaars en redakteurs, is dit ʼn wonderlike platform om op te publiseer. En boonop: rou vra nie. Hy kom net. Jy kan nie sin maak daarvan nie en al wat dan oor is, is om deur poësie te probeer sin maak van jou rou.”

Vir Lynthia is Douglas soos ʼn mentor wat haar help om verder as digter te groei. “Hy leer my hoe om sin te maak van my bestaan. Ons gesprekke is soos Letters to a young poet deur Rilke. Ek kan met baie goed wegkom, maar nie met ʼn slegte gedig nie. Hy laat my lees en skryf.”

Lynthia, ʼn boorling van Kimberley in die Noord-Kaap, het ʼn honneursgraad in filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en is tans besig met ʼn meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan dieselfde instelling.

Haar debuutbundel Uit die kroes het in 2020 by Kwela Uitgewers verskyn nadat die uitgewer haar genader en gevra het of sy ʼn manuskrip wil voorlê vir oorweging.

In Uit die kroes word die Noord-Kaapse leefwêreld opgeroep in verse wat Namawoorde op verrykende wyse inkorporeer. Dit bevat gedigte wat die sentrale, dog geringgeskatte, rol van die bruin vrou in die Suid-Afrikaanse geskiedenis belig. Ook die hedendaagse posisie van die jong bruin vrou word bekyk.

Lynthia het in 2021 die Sala-prys vir ʼn debuutskrywer gewen vir Uit die kroes en haar verhaal “Plat lê soos ʼn Minora blade” is vanjaar as die algehele wenner van die Toyota US Woordfees se kortverhaalkompetisie aangewys.

Oor temas in haar digkuns brei Lynthia nie veel uit nie. “Ek weet nooit wat om te sê nie. Elkeen kry gewoonlik sy eie temas in ʼn bundel en sodra jou bundel gepubliseer is, maak dit nie meer so baie saak watter temas jy bedoel het om aan te raak nie. Jy moet laat gaan en terugstaan.”

Omdat Lynthia die Afrikaans-kategorie gewen het, wonder ʼn mens of dit ʼn gegewe is dat sy altyd in dié taal sal skep. Op hierdie vraag antwoord Lynthia: “Engels maak honger. As my werk vertaal moet word, moet dit vertaal word, maar ek sien nie myself gou in Engels skryf nie.”

Wanneer ʼn mens vir Lynthia pols oor die omarming van verskillende taalvariëteite en waarom dit belangrik is om Afrikaans in al sy nuanses te vier, sê sy dat dit inherent deel van elke persoon se identiteit is.

“Soos jy praat, so is jy. Afrikaans het plek vir alle variëteite. In my hele skoolloopbaan het ons nie een keer ʼn literêre teks in Gariep-Afrikaans in die klas behandel nie. Daar moet plek gemaak word vir dit.”

  • Inskrywings vir Avbob se sewende poësiekompetisie is oop tot 30 November. Alle inskrywings kan aanlyn op Avbob se poësiewebwerf ingedien word.
  • Uit die kroes kos R240 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.