Antjie Krog, Carien Smith met UJ-pryse vereer

Antjie Krog (Foto verskaf)

Die wenners van die Universiteit van Johannesburg (UJ) 2023 se UJ-prys en die UJ-debuutprys is pas bekendgemaak. Die UJ-prys word aan Antjie Krog toegeken vir haar digbundel, Plunder, terwyl Carien Smith se kortverhaalbundel, Bot, met die UJ-debuutprys bekroon is.

Altesaam 62 boeke in alle genres, wat in 2022 in Afrikaans verskyn het, het om die UJ-prys en UJ-debuutprys meegeding. Dertien van die inskrywings was debute.

In die motivering vir die toekenning van die UJ-prys, het die beoordelaars gewys op die ars poetica (digwerk oor die poësie self) wat Plunder onderlê.

“In tipiese Krog-idioom – onbeskroomd, dog meevoerend liries – verwoord die digter in Plunder die onsekerhede en vrese van ons tyd (klimaatsverandering, sosiale ongelykheid). Dit is asof digkuns vir Antjie ʼn manier van dink geword het, die metode waarmee sy vrae aanpak. Dit veroorsaak dan dat die leser ook deur ʼn denkproses gaan, die poësie bied vir ons ʼn manier om te dink oor dit wat soms oorweldigend en verlammend is.”

Die vele vlakke waarop plunder en plundering in die bundel ondersoek word, is beskryf as “die plundering van die liggaam deur tyd, maar ook die plundering van die web van ander tekste waarbinne die bundel sy beslag kry en wat byvoorbeeld in ‘die sigbaarmaking van allerlei strooptogte’ geskakel word aan die plundering van die land deur kolonialisasie.”

Antjie is aangeprys vir die manier waarop sy telkens daarin slaag om haar gedigte en digterskap te hersien en te verruim.

“Antjie Krog doen met hierdie bundel wat sy die beste doen: sy oortref haar vorige werk en spreek die wêreld aan. Die balans tussen haar persoonlike en publieke self is op ʼn sensitiewe manier bereik. Plunder is uitdagend en ontroerend. ʼn Boek wat op sosiale vlak die kollektiewe bewussyn en selfbewustheid vaslê. Dit is poësie op sy beste in ‘n tyd van plundering.

Plunder is duidelik ʼn produk van harde werk, maar dit inspireer ook harde werk: vir lesers, kritici, akademici én skrywers, met laasgenoemde wat hopelik terug tekenbord toe is, ná hulle dit onder oë gekry het. Plunder skuif die naald, dit is ʼn maatstaf vir wat in die Afrikaanse letterkunde moontlik is.”

Dit is die tweede keer dat Antjie die UJ-prys wen. Sy het dit ook in 2001 vir Kleur kom nooit alleen nie ontvang. Plunder is Antjie se twaalfde digbundel in Afrikaans.

UJ is trots op twee alumni van die universiteit: Carien, die debuutpryswenner, en Francois Durand, wie se boek, Die menslike dieretuin, op die kortlys vir die debuutprys was.

Bot is deur die beoordelaars beskryf as ʼn bundel met “baie stof tot nadenke, met prikkels wat die leser aanmoedig om te begin spekuleer oor hoe volhoubaar en soomloos ’n saambestaan tussen mens en masjien is”.

Volgens die beoordelaars skryf Carien met ʼn sterk hand en ʼn ryk verbeelding, en neem die moderne mens (die leser?) onder kruisverhoor met vrae oor tegnologie, die klimaatkrisis en die mens se rol as beskermer van die natuur.

“In elke kortverhaal word aktuele kwessies verplaas na Carien se postapokaliptiese storiewêreld: Hoe lyk klasseverskille, genderrolle, godsdiens, opvoeding, politiek en die ekonomie wanneer die limiete van menslikheid en menswees uitgedaag word? En hoe lyk die individuele en kollektiewe identiteite in só ʼn wêreld?

“As ʼn geheel, sing al die kortverhale in Bot baie mooi saam, en op dieselfde noot. Dit sorg vir plesierige en opwindende leesstof.”

Carien het ʼn meestersgraad in die filosofie aan UJ behaal en is tans besig met haar PhD aan die Universiteit van Sheffield. Die beoordelaars meen die tydige verskyning van haar debuutbundel kortverhale waarin tegnologie voorrang neem, en robotmatige intelligensie aangeprys word, is besonder relevant vir die tyd waarin ons leef.

Die beoordelaars vir die 2023-UJ-pryse vir Afrikaans was die bekroonde digters Ronelda Kamfer en Ryan Pedro, die letterkundiges drs. Bibi Burger (UK) en Amanda Marais (US), en prof. Karen de Wet (UJ).

Die pryse word later vanjaar aan die wenners oorhandig by ʼn geleentheid wat UJ se kantoor vir meertalige taaldienste vir die wenners van al die UJ-pryse aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Baie geluk julle! Ekself is ‘n groot aanhanger van Antjie Krog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.