Bart de Graaff laat vergete Griekwa-kaptein herleef in nuwe boek

Bart de Graaff tydens die bekendstelling van sy boek Barend Barends – Die vergete kaptein van Danielskuil (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

“Daar is so baie stories en kulture in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat nooit opgeteken is nie,” het dr. Bart de Graaff tydens die bekendstelling van sy boek Barend Barends – Die vergete kaptein van Danielskuil, gesê.

De Graaff is ʼn Nederlandse joernalis, asook ʼn historikus en draaiboekskrywer van dokumentêre films, wat jare lank al boeke en artikels oor Afrikaanssprekende gemeenskappe in Suid-Afrika en Namibië skryf.

“Met hierdie boek wil ek veral die hede en verlede van die ‘Barends-Griekwas’ op Danielskuil as ʼn toeskouer en ʼn toehoorder weergee,” het hy verder gesê. “My keuse om dié bevolkingsgroep die onderwerp van ʼn boek te maak is gebaseer op die feit dat daar nog nooit voorheen ʼn publikasie aan Barend Barends (1770-1839) gewy is nie.

“Ek vind dat baie geskiedkundiges en akademici bo hul lesers se begrip skryf.” De Graaff wil juis daarom in ʼn taal skryf wat Jan Alleman kan verstaan.

Die boek is deur Daniël Hugo uit Nederlands vertaal. Hugo was ook verantwoordelik vir die vertaling van De Graaff se vorige boek, Ware mense, wat die verlede en hede van die Khoi-Khoin in Suidelike Afrika ondersoek het.

Danny Titus en Bart de Graaff in gesprek tydens die bekendstelling van Barend Barends – Die vergete kaptein van Danielskuil (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

“Bart het ’n groot passie vir Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hy kom haal ons stories en gee dit weer vir ons terug,” het dr. Danny Titus, gespreksleier by die bekendstelling, gesê.

Die publikasie is moontlik gemaak danksy finansiële steun van ʼn hele aantal organisasies en kulturele instellings, wat onder andere die ATKV, SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die Nederlandse Ambassade insluit.

Dit word nie as ʼn kommersiële publikasie beskou nie en sal dus gratis deur die ATKV versprei word by skole en openbare biblioteke, veral in die Noord-Kaap.

Oor die boek

(Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Hierdie boek is ʼn speurtog op die spoor van Barend Barends, die byna vergete Griekwa-kaptein van die Noord-Kaapse dorp Danielskuil, en sy nageslag. De Graaff wissel stukkies en brokkies onbekende geskiedenis af met onderhoude wat hy gevoer het met die inwoners van Danielskuil. Daaruit blyk nie net hul ongelukkigheid oor die verloregaan van hul “agtervaders” se kultuur en tradisies nie, maar ook hul (vermeende) onmag om iets daaraan te doen. Hy plaas sodoende die kollig op ʼn bevolkingsgroep wat tot dusver in ʼn politieke en sosiale skemerwêreld beweeg het. Sy eie ervarings en waarnemings vorm ʼn integrale deel van die vertelling, wat sy besoek aan Danielskuil soos ʼn boeiende reisverhaal laat lees. Die boek is geskryf vir die algemene publiek, maar in die eerste plek vir die Griekwas self.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.