Blaai deur toeka se boeke by Erfenisstigting-biblioteek

Dr. Pieter Mulder tydens sy besoek aan die navorsingsbiblioteek in 2022. (Foto: Verskaf)

Het jy al ooit deur ʼn boek geblaai wat uit 1830 dateer? Weet jy hoe bladsye ouer as 150 jaar onder jou vingers voel?

Die Erfenisstigting se navorsingsbiblioteek vier hierdie week Nasionale Biblioteekweek deur opnuut die kollig op sy unieke en ou versamelings, wat hier besigtig kan word, te plaas.

Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting, sê talle belangrike akademici, politici en regslui het al die biblioteek besoek en navorsers klop weekliks vir hulp aan.

“Ek dink wat hierdie navorsingsbiblioteek so uniek maak, is die spesifieke fokus op die Afrikanergeskiedenis. Ek weet nie van ʼn ander biblioteek wat hierdie spesifieke fokus het nie, en dit maak ons uniek.”

Pieter Mulder, voormalige politieke leier van die Vryheidsfront Plus (VF Plus), het in 2022 tydens ʼn besoek aan die biblioteek navorsing oor sy familie se politieke geskiedenis gedoen.

“Ek het besef dat ek nie werklik inligting van my oupagrootjie of my oupa, waar die storie eintlik begin het, het nie,” sê Pieter.

Die biblioteek het in 2001 by die Erfenissentrum, wat op die Voortrekkermonument se terrein geleë is, tot stand gekom. Dit was na aanleiding van die Hertzog Trust-versameling wat op bruikleen by die Voortrekkermonument aangekom het. Sedertdien is boeke in groot maat deur weldoeners geskenk.

Deel van die navorsingsbiblioteek is die genealogie-afdeling met geslagsregisters. Hierdie afdeling word in samewerking met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se genealogielessenaar bedryf. Die Erfenisstigting se biblioteek staan gereeld mense met navorsing oor hulle familieherkoms by.

Bo en behalwe die boeke, het die biblioteek ook unieke koerant-, tydskrif- en pamfletversamelings. Daar is Huisgenote uit 1916 en argiefjoernale, koerante en staatskoerante uit die vroeë 1800’s.

Die Erfenisstigting se navorsingsbiblioteek. (Foto: Verskaf)

Besoekers sal in hierdie navorsingsbiblioteek inligting opspoor wat bykans elke geskiedkundige tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis dek. Daar is ook ʼn magdom inligting oor organisasies soos die FAK, letterkundewerk en Afrikana. Boekreekse sluit onder meer die volledige versameling van CJ Langenhoven se werke in.

Volgens Meisie Malindi, assistent-bibliotekaresse by die navorsingsbiblioteek, is die skenkings wat die biblioteek ontvang, nog een van die aspekte wat hierdie navorsingsbiblioteek so uniek maak. Die meeste van die navorsingsbiblioteek se boeke is skenkings.

“Skenkings van boeke oor ou boererate uit die Groot Trek en van konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog, is veral vir my spesiaal,” vertel Malindi.

Die Erfenisstigting se navorsingsbiblioteek is oop vir die publiek en die span staan gereed om ʼn hand met navorsing oor erfenis en geskiedenis by te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.