Boek: Gerrie Radlof se ‘Die Buiter’-verhale weer in druk

“Jy sien die wreedheid van skurke met hul pofmoue en fluweelkniebroeke in jou geestesoog, en hoe aristokrate oënskynlik as galante en nederige here van die Kaap voorkom, maar eintlik doen net wat hulle wil. Die Buiter sien deur hierdie valsheid en skrik gelukkig nie vir soldate, slotte en klipmure nie.”

So sê ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, oor Gerrie Radlof se Die Buiter-avontuurverhale uit die vyftiger- en sestigerjare wat nou weer in druk is. Die eerste boek, Die Buiter, het pas by dié uitgewery verskyn.

Die Buiter is ʼn man wat ʼn merkwaardige dubbele lewe gelei het. Jan Publiek sien hom as ʼn hoflike, adellike en kleurryke ruiter, en terselfdertyd word hy deur skurke gevrees.

Hy word boonop as die rykste edelman van die Kaap gereken, maar snags sit die oënskynlik ledige en verveelde graaf De Moreaux sy masker op.

Lesers kom ook ander karakters in die boek teë: die Rossouw-susters, wat vir ʼn goeie skeut intrige en romanse sorg, en die graaf se volgelinge, Jacques, Pierre, Phillip en André. Dié viermanskap ken die Buiter se ware identiteit, maar hulle sal hom nooit verraai nie.

Foto net ter illustrasie. (Foto: Priscilla Du Preez/Unsplash)

Hy en sy bende vleg snags geluidloos teen die hange van Leeuwberg tussen bosse en struike deur. Wanneer daar onreg gepleeg word, is hulle eerste op die toneel, en met die Buiter se waaghalsige metodes van vergelding sal geen booswig kan ontsnap nie.

“Hierdie eietydse Robin Hood-held beroof die ydele hoëlui, deel aan armes uit, óf herstel onregte wat teenoor minderbevoorregtes gepleeg is. Wanneer jy die boek lees, hóór jy sommer hoe die swaarde klap en die perde se hoewe dreun,” sê Strauss.

Volgens Strauss is die taalgebruik effens aangepas sodat dit toeganklik vir eietydse lesers is, en hoewel die boek vir jonger lesers geskik is, meen hy dat volwasse lesers ook hierby aanklank sal vind.

Oor die skrywer

Volgens Wikipedia is Gerrie Radlof die skuilnaam van die Afrikaanse skrywer Gerrit Lubbe van Zyl (1923-1971). Hy het verskeie gewilde Afrikaanse aksieverhaalreekse vir volwassenes en die jeug geskryf. Dit sluit die Die Buiter-, Oloff die Seerower– en die Ramala-reekse in.

Die Buiter-reeks bestaan uit nege boeke: Die Buiter (1953), Lank lewe die Buiter (1954), Die Buiter en sy bende (1955), Lokval vir die Buiter (1956), Die Buiter ry snags (1957), Die Buiter se geheim (1958), Boodskap vir die Buiter (1959), Die Buiter hou wag (1960) en Die Buiter seëvier (1961).

Die Buiter kos R160 (prys onderworpe aan verandering). Besoek Lig in Duisternis Uitgewers se webwerf om die boek aan te skaf of koop die e-boek op Amazon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank ·

Laat my sommer verlang na baie sulke boeke wat ek as klein knapie verslind het.

Prikkie ·

Ek het so ‘n rukkie gelede een van sy boeke, Vlugteling uit Frankryk, tussen my boeke ontdek. Dié boekie is in 1961 gedruk en het R1.15 gekos!

Was heerlik om dit weer te lees. Ek ken toevallig sy seun wat nog springlewendig en gesond is.

Pieterbusa ·

Dis fantasties. Ek het die Buiter stories baie geniet, elke een van hulle oor en oor gelees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.