Boek: Ingrid Jonker – ʼn biografie

Ingrid JonkerPetrovna Metelerkamp

Ingrid Jonker, begaafde jong digter, loop op 19 Julie 1965 die see in by Drieankerbaai en verdrink. Sy laat haar familie en vriende agter met meer vrae as antwoorde. Gedurende die afgelope 50 jaar het sy ʼn ikoon van die Afrikaanse en Suid- Afrikaanse letterkunde geword. In so ʼn mate, dat haar lewe en veral haar dood soms haar werk en die belangrike bydrae wat sy tot die literêre beweging van die Sestigers gemaak het, oorskadu.

Haar politieke sieninge, soos uitgedruk in haar poësie en haar passie en die droefheid van haar onstuimige liefdesverhoudings met onder andere Jack Cope en André P. Brink het al tot baie besprekings gelei. Sy het weer onder die publieke oog gekom toe oudpresident Nelson Mandela in sy inhuldigingsrede in 1994 in die Parlement een van haar gedigte aangehaal het. Hy het haar gedig: “Die Kind” voorgelees en gesê: “Sy was beide ’n digter en ’n Suid-Afrikaner.” Sedert haar dood is daar vele bespiegelings oor haar lewe en tragiese einde. Van dié vrae word beantwoord in hierdie eerste omvattende biografie. Petrovna Metelerkamp doen al jare navorsing oor Jonker. Sy neem die leser saam deur Ingrid se grootwordjare, digterslewe, liefdesverhoudings en die laaste paar jaar van haar lewe.

Metelerkamp bring nuwe inligting aan die lig wat sy neem uit onbekende nuwe briewe en dagboekinskrywings, onder meer uit die dagboeke van Jack Cope. Talle nuwe onderhoude met mense wat Jonker geken het, word in die biografie opgeneem. Sy weerlê ook die beeld van Jonker as ʼn ongebalanseerde kunstenaar wat haar houvas op die werklikheid verloor het in hierdie toeganklike biografie oor een van Suid-Afrika se aangrypendste kunstenaars.

Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R300,00*
*Prys is onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ek vra jou ·

Ek besit reeds: Ingrid Jonker- beeld van ‘n digterslewe (2003) wat deur dieselfde skryfster saamgestel is. Daarin is ook onderhoude ens – nou wonder ek is hierdie ‘n herhaling met ‘n ander baadjie aan of ry die skryfster dalk bietjie op die Jonker geldtrein. Ek wil regtig net eerlikwaar weet.

Sune van Heerden ·

Dagsê ek vra jou

Dankie vir jou navraag.

Maroela Media het met die uitgewers gesels en hulle het bevestig die boek bevat inligting wat nog nooit voorheen gepubliseer is nie, en dus nie met die eerste boek vergelyk kan word nie. Metelerkamp bring nuwe inligting aan die lig wat sy uit nuwe briewe en dagboekinskrywings, onder meer uit die dagboeke van Jack Cope, geneem het. Daar is ook talle nuwe onderhoude met mense wat Jonker geken het, in die biografie opgeneem.

Kontak ons asseblief by [email protected] indien jy enige verdere inligting benodig, dan kan ons jou direk met die uitgewer in kontak bring.

Dankie!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.