Boek: Jack Parow – Die ou met die snor by die bar

book-cover-HR.jpgJack Parow en Theunis Engelbrecht

In Die ou met die snor by die bar vertel die superster-rapper Jack Parow van sy lewe en al sy wilde, mal avonture.

Die storie begin agter die Boereworsgordyn en maak draaie in plekke soos Onrusrivier, The Lollipop Lounge in Randburg, Mitchells Plain, België, Nederland, Londen, Los Angeles, Hollywood en Moskou.

Daar is sappige staaltjies oor wilde partytjies, warm bokkies, dodgy plekke, trance-paarties en avonture in jacuzzi’s, en hy lig ook die sluier oor sy ervarings met onder andere rofstoeiers, skoonheidskoninginne, polisiemanne, hipsters in nagklubs, ooms wat hom van verhoë gegooi wil hê en ’n stewige tannie wat met ’n krieketkolf op hom afstorm.

Parow beantwoord ook taai vrae wat al deur mense aan hom gevra is, soos: Is dit waar wat hulle sê van ’n man met ’n lang pet? En: Hoe kry jy dit reg om jou snor so te hou dat girls dit onweerstaanbaar vind? Hy vertel die stories agter sy gewildste songs en draai nie doekies om oor wat hy van ’n klomp goed dink nie, soos die ‘ou’ Afrikaans en die ‘nuwe’ Afrikaans, die lewe in Suid-Afrika en wat dit regtig beteken om ’n rapper te wees. Die boek bevat ook die lirieke van baie van sy treffers en talle foto’s wat nog nooit voorheen gesien is nie.

Oor die outeurs

Jack Parow is bekend vir treffers soos ‘Cooler as ekke’, ‘Dans dans dans’, ‘Hos tokolosh’, ‘Die vraagstuk’, ‘Tussen stasies’, ‘I Miss’, ‘Byellville’, ‘Hard partytjie hou’ en ‘Bloubek’. Hy het al drie albums uitgereik: Jack Parow (2010), Eksie ou (2011) en Nag van die lang pette (2014), wat platinumstatus verwerf het vir verkope van meer as ’n miljoen. In 2013 is sy DVD Welcome to Parowdise uitgereik en daar is al rondom 7 miljoen keer na sy video’s op YouTube gekyk.

Theunis Engelbrecht is ‘n joernalis en die skrywer van die rowwe roman Papegaaislaai, die novelle Om ’n laaitie te maak en die digbundels ’n Gedig is so onskuldig soos ’n eier en Skreeu­paradys. Hy was ook ’n lid van die groep Die Naaimasjiene.

Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R200.00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.