Boek: ‘Krummels in my koffer – Stories oor kos en plekke’

Emile Joubert

Emile Joubert is sy lewe lank ʼn kosgenieter. Op sesjarige ouderdom het sy ouma se kerrie ʼn groot indruk op hom gemaak en van daar af het kos hom geïnspireer. Of dit nou die skoolmaaltye tydens sy kortstondige verblyf in Londen was, die honger en dors in die weermag of die seekos wat hy uitgeduik het.

Joubert se kosobessies kry lewe in sy lekker skryfstyl in die oortreffende trap. Sy kosreise strek van Londen tot Griekeland, Italië, Frankryk en die dorre landskap van Angola. Mars-sjokoladestafies, fondue, sousboontjies, oesters en boeliebief is enkele van die kossoorte wat hom op sy reise vergesel.

Krummels in my koffer – Stories oor kos en plekke volg op Joubert se kortverhaalbundel, So byna blou (2020). Albei boeke word deur Protea Boekhuis uitgegee.

Oor die skrywer

Joubert is ʼn voormalige joernalis van Die Burger en Beeld en hy werk tans as bemarkingkonsultant in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Hy is in Kaapstad gebore, waar hy nog steeds woon, en het sy skool- en universiteitsopleiding op Stellenbosch ontvang. Sy dagtaak is die bestuur en bedryf van kommunikasieprogramme vir van die land se voorste wynkelders. Hy skryf steeds rubrieke en artikels oor wyn en algemene sake vir ʼn verskeidenheid Afrikaanse en Engelse publikasies.

Prys: R265,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.