Boek: ‘Ster en die skugter vyf’ – Henriëtte Linde-Loubser

Skrywer: Henriëtte Linde-Loubser
Illustreerder: Elizabeth Pulles

In Ster en die skugter vyf ontmoet lesers vir Ster wat vandat sy kan onthou by haar broer en sy vrou op ʼn plaas woon.

Hallo, doekvoetjie,” sê Ster vir die oewerkonyn en ʼn groot blygeit brand in haar bors. “Ek het gedog jy gaan my fop vanaand. Ek het gedink jy gaan wegkruip sodat ek jou nie kan kry nie.

Een nag word sy wakker en ʼn erdvark staan langs haar bed, sy snoet op die lakens. “Kom verken die wêreld saam met my,” nooi hy. En so neem die erdvark vir Ster op ʼn nag van snuffel en ontdek. Hulle gaan op ander nagtelike ontdekkingstogte, want die erdvark wil vir Ster die ander skaam diere wys, die skugter vyf: die erdvark, oewerkonyn, Kaapse luiperd, ietermagog en wit leeu.

Het jy geweet?

  • Die erdvark is een van Suid-Afrika se mees ontwykende diere (hulle vermy ander diere en mense) (meer feite oor erdvarke op bl. 22).
  • Oewerkonyne word partykeer met hase verwar omdat hulle sulke lang ore het. Hulle is egter, soos alle konyne, kleiner as hase, en hulle kleintjies word kaal en blind gebore (meer feite oor oewerkonyne op bl. 40).
  • Kaapse luiperds maak veral jag op dassies en klipspringers, en eet nie bobbejane nie (meer feite oor Kaapse luiperds op bl. 58).
  • Ietermagogs leef van termiete en miere en kan tot 200 000 miere op ʼn slag eet (meer feite oor ietermagogs op bl. 70).
  • Wit leeus is nie albino’s (diere sonder kleurpigment) nie. Hulle het ʼn resessiewe geen wat nou en dan sigbaar raak in die leeubevolking in die omgewing van die Krugerwildtuin. Dit veroorsaak hulle ligter kleur. Hierdie verskynsel word leukisme genoem (meer feite oor wit leeus op bl. 85).

Oor die skrywer

Henriëtte Linde-Loubser het haar PhD in Omgewingsopvoeding in 2017 by die Universiteit van Stellenbosch voltooi. Sy tree aan die einde van 2019 uit as bibliotekaris van die Fakulteit Opvoedkunde, maar bly as navorsingsgenoot aan die US verbonde. Sy glo vas in die krag van die ekoteks vir omgewingsbewusmaking.

Ouderdom: Ses tot nege jaar
Prys: R180,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.