Boek: Tomas Tranströmer nou in Afrikaans

Die Sweedse digter Tomas Gösta Tranströmer (1931–2015) het in 2011 die Nobelprys vir letterkunde vir sy poësie ontvang. Sy poësie beskryf dikwels die lang, koue winters in Swede en die uitsonderlike natuurskoon van sy land. Dele van sy oeuvre is in meer as 60 tale vertaal. Hy het steeds ’n ingrypende invloed op digters en digkuns reg oor die wêreld. Tranströmer het in sy jonger jare heelwat gereis en lande in Asië, Afrika en Europa besoek. Hy het ook bekend geraak in die VSA en daar lesings gelewer. Hy het in 1990 ’n beroerte gekry wat hom aan die regterkant verlam gelaat het en sy spraak feitlik onverstaanbaar gemaak het. Hy het daarna egter bly skryf.

Tranströmer het sy hele lewe lank klavier gespeel. Ná sy beroerte het hy homself geleer om die klavier met sy linkerhand te bespeel. Daar is spesiaal vir hom klavierstukke gekomponeer vir die linkerhand. Talle van sy gedigte is ook deur verskeie komponiste getoonset.

Alles keer om is ʼn versameling van Tranströmer se digkuns wat deur De Waal Venter vertaal is. Die bundel is deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgegee.

Oor die vertaler

Venter (1942) se debuutdigbundel Kiem het in 1963 verskyn. Hy het vir die grootste deel van sy loopbaan as reklameskrywer gewerk. Nadat hy in 2011 uitgetree het, het hy vyf jaar lank as stadsraadslid in Krugersdorp gedien. Venter het ook kinderverhale, jeugromans en kortverhale gepubliseer en radiodramas en TV-reekse geskryf. In 2019 het hy ʼn versameling van Pablo Neruda se gedigte uit Spaans vertaal. Dit het verskyn met die titel Vandag is boordensvol waarvoor hy in 2020 met die SA Akademie se vertaalprys bekroon is.

Prys: 285,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by 
Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.