Boek-uittreksel: In Christus – Van toeskouer tot spoortrapper

Hier volg ʼn uittreksel uit In Christus – Van toeskouer tot spoortrapper deur Callie Roos.

Ek en van my vriende het onlangs ’n alte bekende ervaring gehad. Dit is iets wat só gereeld voorkom dat talle mense in die besigheidswêreld en samelewing eintlik al daaroor spot: Dit is dat ’n mens in die sakewêreld maar in jou pasoppens moet wees vir mense wat as’t ware met die Here te koop loop.

Ek het naamlik ’n geleentheid vir my en my vriende gereël wat ons nogal ’n aansienlike klompie geld gekos het. Dit was vir ons ’n belangrike belegging en ek het dit bestuur. Aanvanklik het alles goed gegaan met die reëlings, die plek en die verskaffer se gesindheid.

Die verskaffer sou gereeld frases soos “prys die Here”, “amen” en “halleluja” gebruik, of sê sy is so bly ons is “dieselfde mense”; menende kinders van die Here. Toe ons by die plek aankom vir ons geleentheid, het sy ons ook ontvang met ’n keps op haar kop waarop die woord “Jesus” staan.

Ek was toe reeds effens ongemaklik, maar het my ongemak eers opsygeskuif. Ek het ’n intuïtiewe aanvoeling gehad dat iets nie reg is nie.

Wreed was ons ontnugtering toe ons stelselmatig ontdek dat die plek waar ons gebly het, nie dieselfde plek is as wat geadverteer is nie. Die geld wat ons betaal het, is ook nooit oorbetaal aan die persoon wat eintlik die plek besit nie. Die verskaffer het egter op alles ’n antwoord gehad.

Dit het my as organiseerder in ’n baie moeilike posisie geplaas en dit het my baie ongemaklik gemaak om die hele tyd in daardie kepsie te moet vaskyk. Ons is uiteindelik wel daardeur, hoewel ek maande later nog moes bel om te hoor of ons “skoon” is by ’n derde party wat ons uitgehelp het.

Ek verwys in my boek In Christus ’n paar keer na die mense met die Jesus-kepse. Ek gebruik hierdie term om mense te beskryf wat baie vinnig is om te sê hulle is Christene, of hulle behoort aan hierdie of daardie kerk, maar wat dan nie noodwendig die Christelike boodskap uitleef nie. In my ervaring is daar by sulke mense ’n enorme gaping tussen wat hulle voorgee om te wees – of hoop om te wees – en hul dade in die alledaagse lewe.

Natuurlik is dit nie in alle gevalle so dat mense met T-hemde of kepse met Jesus-frases daarop, nie die Christelike boodskap uitleef nie. Wanneer ek die term gebruik, het dit slegs betrekking op diegene wat hulself Christene noem, maar ver verwyderd lewe van die radikale andersheid wat veronderstel word in ’n belydenis wat sê Jesus Christus is die Here.

Ek vind dat Jesus-kepse ook hul rol in die gemeenskap en in die kerk baie eng verstaan. In ’n sekere sin stel hulle hulself op teenoor die samelewing en sien hulle alte gereeld ’n bedreiging in hierdie wêreld.

In my gesprekke met die verskaffer hierbo het dit ook geblyk dat sy ’n bedreiging in baie dinge gesien het en geglo het die magte van die bose is allesoorheersend. Ek het destyds nog gedink hoe vreemd dit is, want hoekom glo jy dan so min in sy heerskappy en krag as jy so vol van Jesus is?

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Jonathan Ball Uitgewers, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

In Christus – Van toeskouer tot spoortrapper word op 14 Julie aanlyn op Graffiti Boeke se Facebookblad bekendgestel. Roos sal met Stephen Joubert in gesprek wees. Die bekendstelling is gratis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.