Boek-uittreksel: Muisneste, manewales vir Hans van Kraaienburg

Hier volg ʼn uittreksel uit Rudie van Rensburg se boek, Hans kry troukoors.

Met ʼn steun en ʼn kreun klim Hans van sy bed af. Deesdae voel dit of sy litte in sement gegiet is as hy ná sy middagslapie opstaan. Hy loop dan vir ʼn wyle soos ʼn opwensoldaatjie met stokstywe bene.

Hy sug. Kan seker nie verwag om soos ʼn tiener rond te trippel as jy so oud soos Metusalem is nie. Hy stap heen en weer in die kamer, voel dan hoe sy skarniere stadig maar seker geolie word.

Sy kamerdeur bars oop. Dis sy ou mater Vasie. Dié is uitasem en sy oë kyk herwaarts en derwaarts – ʼn voorteken dat sy vriend iets nuuswaardigs het om te vertel.

“Was daar nou vir jou ʼn heidense herrie in die voorportaal, Hans!” roep hy uit en maak hom tuis in die gemakstoel. Sy onderkaak bewe liggies. “En dit als oor ʼn nuwe inwoner van Huis Madeliefie.”

Hans gaan sit op sy bed. “Nou vertel.”

“Die voorportaal was oorbevolk omdat ou Nella Vos gratis koeksisters uitgedeel het. Dis glo om haar nuwe boek, Soetgoed vir suikervrate, te bemark. Die spul was nog besig om te smul en vir die vale te klets, toe die tehuis se voordeur oopswaai.”

Hy skud sy kop. “Sê ek vir myselwers, nog nooit tevore het ek so ʼn abrupte stilte oor ʼn klomp koeksistervreters hoor toesak nie. Want daar in die deur, van kroontjie tot toontjie belig in die helder middagsonnetjie, staan toe ʼn godin van volmaaktheid.”

Hans lig sy wenkbroue. “ ʼn Godin van volmaaktheid?”

Vasie knik met oorgawe. “Beeldskone engelgesiggie, fraai, skattig, welgevorm, elegant …” Hy bly ʼn oomblik stil. “Jy weet self dat Huis Madeliefie ʼn klompie mooi vroue het. Dink maar net aan Skoonheid Prinsloo, Lyfie le Roux, Mooinooi Lubbe, Trixie van Breda en Botox Els, om net ʼn paar te noem. Maar hierdie nuwe vroutjie laat daai lot soos voëlverskrikkers lyk.”

“Dit klink vir my amper te dik vir ʼn daalder!”

“Nee, Hans, as jy haar met jou eie kykers gadegeslaan het, sal jy met my akkoord gaan.”

“Wanneer bars die heidense herrie toe los?” wil Hans weet.

Vasie lag of hy betaal word. “Toe dié engelgesiggie met ʼn suikersoet stemmetjie vra of ʼn paar mans haar bagasie kan help dra. Dit was asof ʼn skeidsregter die afskopfluitjie in ʼn rugbytoets blaas. Soos ʼn trop besete voorspelers stormloop hulle toe daai vier soetkyste van haar. Jy sien net brille en kieries trek soos die spul mekaar skouer en uit die pad stamp om eerste daar te kom. Selfs gelyk of ou Briekwa Scholtz sy handrem gesak gekry het, want van sy rukkerige gestap was daar geen teken nie. Hy’t soos ʼn resiesperd saamgalop.”

Hans en Vasie kyk op toe Maatjie by die deur instap.

“Ek vertel nou net vir Hans van die gefladder in die duiwehok toe daai aanvallige vroutjie haar verskyning in die voorportaal maak,” sê Vasie. “Jy was mos ook daar?”

Maatjie knik. “Ja, ek het die spektakel aanskou. Drie mans moet nou in die versorgingseenheid behandel word vir beserings. Gemmer Dempers het ʼn sleutelbeen gebreek, Plank Pretorius se een groottoon is morsaf en Lappies Nel het ʼn dyspier geskeur.” Hy gee ʼn laggie. “En Professor het sy valstande in die hardloop losgeskud. Dis fyn en flenters getrap deur die stormtroepe agter hom.”

“Professor!” roep Hans uit. “Hy en Mooinooi is dan getroud. Hoekom hardloop hý agter ʼn verbode vrug aan?”

Maatjie sug. “Jy weet hoe Professor is. ʼn Mooi vrou stoot sy koors outomaties bo kookpunt uit. En dan verander hy in ʼn nimrod. Die ou kêrel kon homself nie keer nie.”

“Uit watter geweste kom dié mooi vroutjie aangewaai?” vra Hans.

“Uit die Moordenaarskaroo, volgens daai skinderbek, Kanarie Kleynhans. Ek het toevallig naby haar en ʼn groepie van haar vriendinne gestaan,” sê Maatjie.

Hans moet ʼn glimlag onderdruk. Maatjie is bekend daarvoor dat hy oral ʼn varkoor gooi. Sy nuuskierigheid ken geen perke nie. Hy het gʼn toevallig naby Kanarie-hulle gestaan nie.

“Ken Kanarie haar dan?” vra Vasie.

“Ek lei maar af dat hulle verlangs familie van mekaar is.” Hy huiwer ʼn oomblik. “Kanarie sê haar oupa se hond en die nuwe vroutjie sʼn het saam aas weggesleep.”

Hans knik. “Ja, dit is ʼn erkende uitdrukking om verlangse familiebande te bevestig.”

“Ewentwel, Kanarie sê die vroutjie was twee keer getroud. Albei haar mans, wat baie ouer as sy was, is aan hartaanvalle oorlede. Kanarie skerts dat dit te wyte is aan die feit dat sy glo van diederdae af ʼn klein tierkat tussen die lakens was.”

“Dan nie ʼn wonder haar bejaarde eggenote se pomporgane kon nie byhou nie,” sê Vasie.

“Hoe oud is sy?” vra Hans.

“Volgens Kanarie in die omgewing van sewentig.”

“By my siel!” roep Vasie uit. “Vir my nie ʼn jaar ouer as vyftig gelyk nie.”

***

Die uittreksel is goedgunstig deur NB-Uitgewers verskaf. Klik hier om Hans kry troukoors by Graffiti Boeke aan te skaf. Die boek kos R270 (prys onderworpe aan verandering).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.