Boek-uittreksel: ʼn Veilige hawe vir dié krulkop se hart

Hier volg ʼn uittreksel uit Hawe vir haar hart deur Tosca de Villiers.

***

“Ek het vandag ʼn baie interessante aansoek gekry vir een van die vakante poste op Queen of the Seas.” Christos vat ʼn sluk wyn en kyk na Alex. “En ek dink dis dalk die oplossing vir jou probleem.”

“Mý probleem?” Alex steek nog ʼn happie moesaka met sy vurk af. Dankbaar dat sy ma allerhande disse voorberei wat hy met sy vurk kan baasraak.

“Ja. Jou seer skouer. Dink jy ons sien nie almal hoe jy al weer verswak en al hoe minder en minder gedoen kry met jou regterhand nie?”

“Ek moet net weer by die fisio uitkom. Sodra ons weet wat die passasierskepe in die vloot werd is, sal die onderhandelinge vorder en sal ek meer tyd vir myself hê.”

“Presies. Maar nou gaan jy eers vir ses weke of drie maande eerstehands kennis van die binnewerking van die Queen opdoen waar daar nie ʼn fisio beskikbaar is nie.”

“Sodra ek terug is, sal ek aan my skouer aandag gee.”

“Nee, want ek het vandag ʼn aansoek van ʼn skoonheidsterapeut gekry wat as ʼn fisio opgelei is. Ons het môremiddag ʼn onderhoud met haar. Ek het klaar vir menslike hulpbronne gevra om haar kwalifikasies en verwysing na te gaan.”

“Jy kan nie hierdie soort van besluite op jou eie neem nie.”

“Daar is nog geen besluit geneem nie, maar totdat jy weer jou volwaardige plek as hoof van Dimitriou Incorporated inneem, doen ek wat nodig is.” Christos vou sy servet op en sit dit langs sy bord neer.

“Hoekom sal ʼn opgeleide fisio as skoonheidsterapeut wil werk?” Alexander frons.

“Die onderhoud is môremiddag drieuur in jou konferensiesaal. Vra haar sommer self.”

***

Wendy beantwoord die een vraag ná die ander. Vertel ons meer van jouself, opleiding, kwalifikasies, afhanklikes. Vrae waarvan amper al die antwoorde op haar CV staan. Aan die bopunt van die tafel sit Alexander met sy hande voor hom op die tafel gevou, vingerpunte teen mekaar gedruk. Bewegingloos. Sy voel hoe hy elke beweging wat sy maak, dophou. Elke antwoord ontleed, maar hy vra nie ʼn enkele vraag nie.

Ná omtrent twintig minute is daar ʼn ongemaklike stilte. Almal kyk na die man aan die bopunt van die tafel. “As dit al is, kan julle maar gaan,” sê hy.

“Dankie vir die geleentheid…” begin Wendy toe almal opstaan.

“Juffrou Beneke, stap saam met my kantoor toe, asseblief. Daar is ʼn paar punte wat ek wil uitklaar.”

Christos vra iets in ʼn taal wat Wendy nie ken nie. Sou hulle Grieks met mekaar praat? Alexander antwoord hom kortaf. Hy skud sy kop en stap na buite.

Alexander kyk na Wendy, wys met sy kop in die rigting van die gang. By ʼn deur wag hy dat sy eerste inloop, stap verby haar en gaan staan agter die lessenaar. “Sit gerus.”

ʼn Rilling gly teen Wendy se rug af. Dit klink meer soos ʼn grimmige bevel as ʼn versoek. Sy gaan sit, kruis haar enkels. Kyk op. Donker oë. Amper swart.

“Koffie of tee?” ʼn Man van min woorde.

Sy sluk, haar mond skielik droog. “Water sal lekker wees, dankie.”

“En?”

Sy kyk na hom.

“Antwoord my vraag. Wil jy koffie of tee drink?”

“Koffie.”

“In die onderhoud het jy al die regte antwoorde gegee. Dit wat enigeen sou gee wat deeglik vir die onderhoud voorberei het. Ons twee sal saamwerk, daarom verwag ek dat jy in hierdie gesprek die waarheid praat.”

“Ek hét die waarheid gepraat.”

Hy kyk na haar en sy onderdruk die behoefte om met haar palms oor haar romp te vee. Konsentreer om stil te sit.

“Jou pligte sal ook fisioterapiesessies insluit. Ek wil net ʼn paar dinge uitklaar.”

“Ek het in my aansoek aangedui dat ek vir ʼn pos in die spa-afdeling aansoek doen, nie as fisioterapeut nie. Dit behoort gesonde mense te wees wat op bootvaarte gaan. Hoekom sal daar werk wees vir ʼn fisioterapeut?”

ʼn Vrou kom ingestap met ʼn skinkbord en sit dit naby Alexander neer. Hy staan op. Sy sien die effense stramheid in die beweging van sy regterskouer en hoe hy die dompelaar met sy linkerhand afdruk, die flits van ongemak oor sy gesig toe hy dit met die regterhand optel om te skink. Hy gee nie haar koppie aan soos sy verwag het nie, maar stoot die skinkbord in haar rigting.

“Het jy ʼn probleem om iemand wat met ʼn besering sukkel, of op ʼn ander manier jou professionele dienste nodig het, te behandel?” Sy stem is sag. Hy beheer sy emosies, maar sy hoor die ondertone van bedreiging.

“Nee.”

“Is jou registrasie as fisioterapeut op datum?”

“Natuurlik.” Wat dink die man? Sy’s ʼn professionele persoon wat net ’n bietjie wil wegkom, maar dit, of die redes wat haar motiveer, hoef hy nie te weet nie. Sy sit haar voete langs mekaar neer, trek haar lyf regop.

Hy blaai deur die lêer met haar aansoek. “Ek sien dit nie hier nie.”

“Ek het dit nie ingesluit nie. Net daardie kwalifikasies wat in ooreenstemming is met die pos waarvoor ek aansoek gedoen het, is daar.”

“Sorg asseblief dat ek dit kry.”

“Hoekom? Ek is nie as ʼn fisioterapeut aangestel nie. Trouens, ek is in geen pos aangestel nie.”

“Dis juis waarom ek hierdie gesprek met jou het. Hoekom het jy, ʼn gekwalifiseerde, en volgens jou verwysings, ʼn uiters bekwame fisioterapeut, ewe skielik aansoek gedoen om in die spa op ʼn passasiersboot te werk?”

Sy voel sy oë op haar, maar sy kyk nie op nie, gooi tydsaam ʼn lepel suiker in haar koffie, trek die koppie nader en vat ʼn sluk.

“Jy het nie geroer nie. Antwoord my vraag.”

“Ek het dit reeds tydens die onderhoud geantwoord. Ek is jonk en wil graag die wêreld sien. Ander mense ontmoet. My lewe geniet.”

“Ja, dit is wat jy geantwoord het. Ek dink egter nie dis die volle waarheid nie.”

Sy kyk hom reguit in die oë, skielik dankbaar vir al die jare se oefening om haar pa en ma in die oë te kyk, en die regte antwoord te gee. Dit wat hulle nodig het om te hoor terwyl sy in haar hart weet die waarheid is anders. Nee, dit maak nie saak dat sy nie op die skooltoer kan gaan nie. Sy verstaan dat haar boetie Dirkie se versorging baie duur is. Sy sal alleen skoolafsluiting toe gaan, sy weet hulle kan nie vir Dirkie alleen by die huis los nie.

“So, daar het nie iets in jou persoonlike of professionele lewe gebeur wat maak dat jy wil wegkom nie?”

“Nee.” Sy lig haar ken. “Jy het dan nou net gesê julle het my verwysings gekontak.”

“Is jy dalk op soek na ʼn ryk man? Indien dit die geval is …” Hy blaai weer deur haar CV. Hoekom het hy nou-nou, toe almal die geleentheid gehad het om vrae te vra, stilgebly?

“Iewers is iets …” Hy kyk na haar, ʼn diep frons op sy voorkop. “Iets wat nie klop nie en dit pla my.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur die skrywer en Romanza, ʼn druknaam van Lapa Uitgewers, verskaf. Klik hier om Hawe vir haar hart op Lapa se webwerf of by Graffiti Boeke aan te skaf. Die boek kos R110 (prys onderworpe aan verandering).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.