Boek-uittreksel: Rebellie dreig in juffrou-skrywer se faeryk

Hier volg hoofstuk drie van ʼn Beeldskone nagmerrie deur Sunel Combrinck.

***

Elf jaar oud

Melody gryp haar boog en loer vinnig of haar koker genoeg pyle in het.

Sy is nie lus om verder met Ivy te stry nie, nie vandag nie.

“Lady Melody Beckett,” skree Ivy.

Melody se oë rek. Sy trek haar asem in en maak spore deur die voordeur. “Moenie vir haar sê dat ek hier uit is nie,” soebat sy die twee Rowanwagte by die voordeur. Hulle boomagtige lywe is versteek agter wapenrusting, en die enkele rooi blaar – haar familie-kenteken – dui haar huis se eienaarskap oor hulle aan.

Die Somerfae-weermag, wat meestal Rowanwagte behels, en die Winterweermag het hulleself vrywillig oorgegee aan mense. Sy verstaan regtig nie hoekom hulle dit gedoen het nie.

“Nie ʼn woord nie…” belowe die een en loer oor sy skouer “… maar sy is op pad. As ek jy is, Lady Melody, maak ek vinnig spore voordat dit te laat is.”

Sy glimlag en kyk vinnig terug. “Dankie,” groet sy en hardloop in die paadjie af. Donohue het haar vroeër die oggend geleer hoe om met ʼn pyl en boog te skiet. Die opwinding deur haar lyf toe sy die eerste pyl in die lug losgelaat het, was onbeskryflik.

En nou soek sy meer.

Meer van daardieselfde adrenalien wat sy by die verdoemde rivier gevoel het en …

Haar voete kan skielik nie vinnig genoeg stop nie. In een van die landerye, by ʼn hand vol kleihuisies, staan ʼn groep menswagte – elkeen aangetrek in die mooiste silwer wapenrusting.

Melody trek haar oë op skrefies. Tussen hulle is twee Gremlins, vasgemaak met toue, en drade wat styf om elkeen se nek span. Die manier waarop hulle oorgroot puntore hang, verklap dat hulle sieklik is, besef sy, en sy gril vir die kwyl om hulle lippe. “Vyf silwermuntstukke dat myne sal wen,” kondig die een wag aan. “Tien op myne!” skree die ander.

“Lady Melody,” praat Ivy deur geknersde tande skielik agter haar. “Wat dink jy …?” Sy word stil en kyk stip na die wagte en Gremlins voor hulle.

“Wat is hulle besig om te doen?” Melody kyk stip na Ivy, haar groen vel nou ʼn skakering ligter.

“Niks nie, kind.” Haar arms vou besorg om Melody se skouers terwyl sy haar van die toneel wegdraai. “Kom ons gaan na die verdoemde rivier toe. Ek wil jou ʼn paar goed gaan wys vir vandag se les.”

“Ek’s nie meer ʼn kind nie. Wat. Doen. Hulle?”

Ivy vou haar arms om haar eie lyf. Sy staar stip na die toneel voor hulle en haar gewoonlik onsekere postuur verdwyn in ʼn oogwink. “ʼn Gremlin-geveg tot die dood, en die wenner verseker sy eienaar van wins op die geld wat hy gedobbel het.”

Woede laat Melody se magte deur haar are borrel. Dis koud en wreed. Rondom haar begin ʼn wind huil. Winter se koue, besef sy.

“Kalmeer.” Ivy se stem is stroef. “Voordat jý in daai ring beland.”

Sy kyk onderlangs na Ivy. “Dis wreed. Wat hulle doen.”

“Wat Alastor daagliks aan ons soort doen, is wreed.” Ivy se hande voel sag soos dit om Melody se skouers vou. “Omdat die Somer- en Winterwagte hulself vrywillig oorgegee het aan Alastor, word ons soort gespaar – meestal gebruik as hofdames of hereslawe in adellike huise. Elwe en Waternimfe word stom gelaat nadat hulle gevang is, want albei kan ander hipnotiseer.”

Lestyd, besef Melody, en doen haar asemhalingsoefeninge om weer beheer oor Winter te kry.

“Elwe plant gedagtes en manipuleer realiteite, terwyl Waternimfe jou aksies kan beheer. Daarom doen beide handearbeid nadat hulle hul tonge verloor het. Elwe is huisslawe – maak huise skoon en kook. Waternimfe maak wapens. Gruwels word vir goed soos Gremlingevegte en teregstellings aangehou. En Lente en Herfs is trofeefae, iets wat jy heeltemal te klein is om te verstaan.”

“Nee, ek is nie,” spoeg sy. Haar pa het al baie vertel hoe die verskillende here in Kasteelhoogte hom spot omdat hy nie saam met hulle ʼn trofee vir ʼn aand kry nie. Natuurlik vertel hy dít wanneer hy glo sy slaap, maar hoe anders sal sy weet wat aangaan?

“En Reverente? Niemand sê ooit ʼn woord oor hulle nie.”

Ivy draai Melody om en druk haar in die rigting van die verdoemde rivier wanneer die wrede skreeu- en knorgeluide van die twee Gremlins oor die plein begin weerklink.

“Want mense vrees hulle. Reverente is die sterkste soort fae wat bestaan. Toe Alastor se wraak begin, het hulle ʼn dimensie geskep waar hulle ʼn deel van ons soort kon wegsteek. En eendag, my liewe Wisselkind,” en ʼn glimlag kruip oor Ivy se gesig soos hulle die woud binnestap, “eendag sal hulle ons kom red.”

***

Oor die boek

Die storie voor die storie.

Voor die ontstaan van Tír na hÓige, die fae-ryk, het mense die fae as slawe en gevangenes aangehou. In hierdie tyd word daar ʼn profesie gemaak: ʼn Faedogter sal uit beide die Winter- en Somerryk gebore word. Sy sal die enigste een wees met die vermoë om haar opeising as Volbloedfae te stop, en sal ook kan kies aan watter ryk sy opgeëis word. Sy sal met die menskoning trou en oor mense heers waarna sy alle mense sal uitwis.

Melody is die kind van die profesie. Sy word as wisselkind groot; ʼn faedogter wat tussen mense grootgemaak word. Toe Melody die mense se kroonprins, Donohue, ontmoet, lyk dit of haar toekoms reeds uitgelê is. Gaan sy die pad van die profesie loop, of wag daar ʼn ander toekoms op haar?

Oor die skrywer

Sunel Combrinck is ʼn hoërskoolonderwyseres en jeugleier met ʼn hart vir jongmense en stories. Sy bedryf ʼn skryfskool by Hoërskool Eldoraigne in Centurion waar sy tieners die kuns van storieskryf leer, en sy is ook die afdelingshoof van Romance Writers Organisation of South Africa (ROSA) se Pretoria-tak. ʼn Beeldskone nagmerrie volg op Sunel se debuutboek, Hartklop: Die ontwaking van Winter, wat in 2022 by dieselfde uitgewer verskyn het.

Die uittreksel is goedgunstig deur Lapa Uitgewers, ʼn druknaam van Penguin Random House Suid-Afrika, verskaf.

  • ʼn Beeldskone nagmerrie kos R180 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.