Boek-uittreksel: Uit die Beek 2019: Beloftes

Uit-die-Beek-2019_C-COVER.jpgHier volg ʼn uittreksel uit die boek Uit die Beek 2019 deur Barend Vos.

***

En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur (Lukas 24:49).

Beloftes

Lees Lukas 24:44-53

Jesus is op die punt om finaal van sy volgelinge af weg te gaan. Binnekort sal Hy sy plek aan sy Vader se regterhand inneem, van waar Hy vir hulle, sy volgelinge, vir óns, sal intree.

Maar eers was daar ’n klompie laaste dinge: ’n bietjie katkisasie, ’n reëling, ’n opdrag of twee. En die bevestiging van ’n belofte. Dit, lyk dit my, is maar soos die Here-van-die-beloftes werk: Hy belowe, en dan bevestig Hy dit. Weer en weer. Boonop dikwels met ’n aanskouingsles wat voor ongelowige oë afspeel. Want Hy ken sy kinders: Hulle luister en vergeet, hulle kyk en kyk – en sê later: “Ek weet nie of ek my oë moet glo nie…”

Hulle hoef natuurlik nie hul oë te glo nie, of hul ore nie. Jesus verduidelik aan sy volgelinge, soos vir skoolbeginnertjies: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het…” (vers 44). En, sê dié Evangelieskrywer, toe “open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan” (vers 45). Sien? Jesus vertel hulle alles, en toe help Hy hulle boonop verder. Geduldig.

Nee, gelowiges hoef bloot vir Hom, hul Here, te glo. Sy woord, wat ’n erewoord is. Sy beloftes, wat deur Hom self gewaarborg word en in bloed onderskryf is. Nou gaan Hy weg, sodat Hy dit vir hulle, vir óns, nog makliker kan maak om alles te glo wat Hy belowe het. In sy plek kom die beloofde Gawe van God: die Gees wat hulle sou oorweldig. Wat ook in ons sy intrek sou neem. Sodat Hy ons, die hardhorendes en nikssieners, die maklikvergeters, kan help onthou in wie ons glo.

Gebed: Ek weet aan wie ek toevertrou is, al wissel dan ook dag en nag…

***

Oor die boek

“Dit gaan goed met die mens… wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. Hy is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is…” (Psalm 1:13).

Uit die Beek 2019, die geliefde Afrikaanse Bybeldagboek, kom weer uit die pen van die bekroonde skrywer Barend Vos. Die tekskeuses vir elke dag is grootliks op die Revised Common Lectionary (oftewel die RCL-leesrooster) gebaseer. Dit maak hierdie tydlose Bybelse dagboek opnuut geskik vir persoonlike stiltetyd, vir huisgodsdiens en Bybelstudiegroepe.

Kom les jou geestelike dors elke dag by die vars water van die Woord en ontdek ware rus en vreugde in God.

Oor die skrywer

Dr. Barend Vos is ’n bekende Christenskrywer en predikant. Hy is bekroon met ’n ATKV-veertjie vir een van sy LiG-stories. Hy het al verskeie boeke uitgegee – van dagstukkies tot fiksie en romans met die Bybelse gegewe as agtergrond. Hy wen in 2001 die CBSA-prys vir fiksie vir Eksodus en in 2016 die Andrew Murray-prys vir Ewigheid in my hart.

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Uitgewer: Lux Verbi
Prys: R185,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie my Skepper my Bewaker vir U
liefde en genade…alles onverdiend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.