Boek-uittreksel: Wyn in die kelder, liefde in die lug vir Diana

Hier volg ʼn uittreksel uit Helene de Kock se boek, Diana se dag.

“Toemaar, jou dag sal kom.”

Lutz Weilandt se woorde daardie keer toe hy ʼn bietjie lig in Diana Botha se lewe kom maak het. Letterlik en figuurlik. Maar dit was toe. Nou is ʼn ander dag, ʼn ander lewe.

Diana maak moed bymekaar en glimlag, hou haar hand formeel uit vir die fris man voor haar se groet. Sy kyk op na hom. Herken die gedetermineerdheid in die ysblou van Lutz se blik. Maar sy hou haar gedagtes eenkant. Want op hierdie Vrydagaand is Lutz Weilandt net ʼn gas, soos sovele ander wat sy moet welkom heet by Soeterwijn se jaarfunksie. En hy het ʼn aantreklike vrou by hom. Klein en blond in ʼn wit aandrok. Haar donker oë gaan krities oor Diana.

Lutz se blik vee ook tersluiks oor haar, maar hy neem haar vingers in ʼn stewige greep, hul handpalms ʼn oomblik warm teen mekaar. Wat hy vir seker in haar oë moet lees, laat hom klaarblyklik besluit om saam te speel, want hy laat niks blyk nie. Nes sy, kan hy dalk ook so ʼn skeppie van sy status verloor. In hierdie uitgelese geselskap van die Bolandse wynboere en ander elite weeg agtergrond swaar.

Diana voel die ou, bekende angstigheid in ʼn knop op haar maag saamtrek, maar sy glimlag. Sy sal Lutz liewer nou op sy titel noem om die afstand te bewaar. Om meer as een rede.

“Hartlik welkom, dokter Weilandt.” Sy kyk na die meisie by hom. “En aangenaam, juffrou Greuning. Ek is Diana Botha, een van die nuwe wynmakers hier op Soeterwijn.”

“Aangenaam, juffrou Botha,” sê Lutz ewe gemaklik en skynbaar namens hom en sy metgesel. “Dis ʼn voorreg om Soeterwijn se funksie te kan bywoon.” Daarmee beweeg hulle aan, die saal in. Diana laat haar asem verlig uit. Kyk sy sterk skouers in die donker pak agterna. Haar blik volg ook die petite meisie aan sy sy, wat self ʼn slag omkyk na haar. Zita Greuning is ʼn bekende violis hier op die dorp. Gee klas by die universiteit se konservatorium; neem dikwels aan uitvoerings deel. Diana sien hoe Lutz Zita aan die elmboog vat en na hul tafel beduie nadat hy op hul uitnodigingskaartjie gekyk het. So, dan is hy nog steeds ʼn gentleman.

Sy het ʼn jaar of wat gelede gehoor dat Lutz by ʼn praktyk op Stellenbosch aangesluit het ná sy jare lange mediese studies op Tukkies. Hy moes gespesialiseer het ook, want hy is glo nou ’n gesiene chirurg.

Diana sug innerlik. Terwyl sy vriendelik hand skud met nog aankomende gaste, neem haar gedagtes hul loop. Sy sou nooit kon voorsien het dat Lutz ook Boland toe sou skuif nie. Maar sy moes dit seker verwag het. Ook dat hy iemand aan sy sy sou hê. Iemand soos hierdie heuningblonde violis met die blinkbruin oë. Tog ontstig dit haar, al die jare wat sy hom nie gesien het nie ten spyt. Die verlede het ʼn manier om die hede suutjies binne te sypel. Sy sluk droog, maar draai na die volgende gas.

Sou Lutz netnou iets kwytgeraak het wat Zita laat omkyk het? Hy en die meisie vind hul sitplekke aan een van die lang, gedekte tafels en begin ooglopend oor die mooi tafelversierings gesels, want die meisie wys met klein vingergebare daarna.

Diana ervaar ʼn flikkering van tevredenheid. Ten minste sien iemand raak dat daar hier op Soeterwijn fyn na die estetiese omgesien word. Maar net sy weet hoe obsessief belangrik dit vir haar is. Dis of sy moed en asem uit skoonheid en elegansie put. Asof haar binneste sal verskrompel as sy dit nie met stylvolle en mooi dinge vul nie.

So tas haar gedagtes lukraak rond terwyl sy verwelkomend glimlag en die gaste verwelkom wat steeds instroom.

Die lang ry genooides raak uiteindelik yl en die saal vol. Diana kry kans om na die baas van die plaas te draai. Duncan Weston hou van formaliteit en vertonerige funksies, en hy het tydens haar werksonderhoud ʼn ruk gelede pertinent gevra of sy as een van Soeterwijn se wynmakers ook soms sou kans sien om met die onvermydelike sosiale sy wat ʼn gevestigde wynplaas kenmerk, te help. Sy bewoording. Funksies, formele vergaderings en informele byeenkomste is algemeen op ʼn landgoed soos Soeterwijn, is sy verder meegedeel. Diana het nie ʼn oomblik gehuiwer nie. Sy is kreatief – nie net in die kelder nie, maar ook andersins. Om stylvol tafel te dek, blomme te rangskik en spyskaarte uit te dink met wyne wat by die gekose disse pas, verskaf aan haar ʼn diep genot. So spesifiek het sy dit nie aan die wynboer verduidelik nie, want Diana Botha is eerstens hier om wyn te maak. Die ander lekkertes is bykomende bonusse. Sy moet eers die hele bedryf hier uitkyk.

“Moet jou nooit opdring nie,” was haar ma se raad toe Diana hier aangestel is. En sy het nog nooit. Sy neem wel fyn waar.

Diana ervaar op hierdie oomblik ʼn diepe waardering. Dis byna tasbaar. ʼn Vergenoegdheid dat sy is waar sy nou is. Wie sou nié in haar plek so voel nie? Duncan Weston is nie net ʼn bekende wynboer nie. Hy het prestige in hierdie geweste. Boonop is hy ʼn aansienlike man, soos haar ma sou sê. Die ma van wie sy hom nog nie vertel het nie. Trouens, daar is baie dinge van Diana Botha wat nie hy of die res van die wêreld hierlangs weet nie. Dis beter so. Want vooroordeel het nog nie sy pynigende houvas in die gewone mens se lewe prysgegee nie. Sal seker nooit. Al doen sy haar bes om reg te trap; om geen fout te maak wat kan verklap waar sy al oral getrap het in haar lewe nie. Meesal omdat sy geen ander keuse gehad het nie.

Maar nou het Lutz Weilandt sy verskyning gemaak, en mens weet nooit. Destyds op skool was hy aangenaam. Gaaf en meelewend. Soms uitgesproke, maar mededeelsaam en opreg. ʼn Matrikulant – hoofseun nogal – wat hom oor die nuwe graadtienmeisie ontferm het. Toe het sy gedink iemand soos hy moet dalk haar redder wees. Iemand wat raaksien dat sy swaarkry; dat sy smag na begrip en hulp. Wat hy ook verskaf het, sonder om enigsins grootdoenerig te wees. Tog is daar geen sweem te bespeur van hoe die lewe aan hom getorring het nie. Mens wonder watter van sy binnewerke nog dieselfde rare kwaliteite het. Nou is dit goed verskans agter sy sosiale prominensie as chirurg.

Diana groet en verwelkom weer werktuiglik en sjarmant, maar haar kop bly maal. Haar gedagtes is op hierdie oomblik so weerloos asof haar brein oop sit en enigiemand daarin kan rondkrap. Sy is net so verwondbaar soos sy toentertyd was. Dis iets waarvan sy nog nie oortuig is nie: dat sy die lewe die hoof kan bied en min of meer heel anderkant uitkom. Ten spyte van wat sy al in haar lewe bereik het.

Duncan glimlag af na haar, knik sy blonde kop met die strepies vroeë grys langs die slape toe die laaste gas binne is. Sy liggrys blik is sag op haar. “Goed gedoen, Diana. Die blomme en die tafelversierings is indrukwekkend. Die perskepienk en ligpers servette en kerse saam met die sagte lila van die lelies is besonders. En dit lyk my die spyseniers hang ook skouspelagtig uit vanaand.”

“Ek hoop so, Duncan. Ek het hulle op die hart gedruk dat alles baie spesiaal moet wees. En ek het ook ʼn ogie gehou.” Dat sy alles georkestreer het, eintlik in detail gedemonstreer en voorgeskryf het, verswyg sy.

Hy raak ligweg aan haar boarm. “Ek weet jy het meer as dit gedoen, Diana.” Sy kyk stom op na hom, knik net effens. Hy glimlag innemend. “En ek moet sê dat jy besonder elegant lyk vanaand. Die middernagblou pas by jou oë en ligte gelaatskleur en jou donker hare. Raafswart, dink ek, noem mens dit. Jy is ʼn aanwins vir Soeterwijn, hoor. En nie net in die kelder nie.”

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Human & Rousseau, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf. Klik hier om Diana se dag by Graffiti Boeke aan te skaf.

  • Helene de Kock gesels in Julie by ʼn paar boekbekendstellings oor haar boek: op 1 Julie om 11:00 by Boekeplek & Kuierstoep in Garsfontein, Pretoria, en op 8 Julie om 11:00 by The Book Keeper Shop in Equestria, ook in die ooste van Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.