Boek van die maand: ‘Die miskruier en die maan’ deur Carié Maas

In Carié Maas se tweede roman – haar debuut was Koljander wat in 2012 die debuutprys in die Groot Afrikaanse Romanwedstryd gewen het – kom die leser Karel Nel, ʼn argitek van beroep en storieverteller in sy kop, teë as hoofkarakter.

As argitek is Karel bedrewe, vindingryk en vennoot in ʼn klein firma. Maar toe hy sy voet dwars sit oor ʼn verdagte staatskontrak, versuur die vennootskap en kry hy die trekpas. As storieverteller is Karel ewe bedrewe. So knoop hy as agteragterkleinseun ʼn briefwisseling (eensydig wel omdat sy oupa nie terugskryf nie) met sy Oupa aan, en versin hy ook ʼn poppekas waarin hy die rol van Nellie vertolk en sy geslepe baas, Gideon, voorgestel word as Reinaert die vos.

In brief sowel as poppekas is humor en gevatheid onderliggend, maar so ook in Karel se WhatsApp-wisseling met sy suster, Maryke. Selfs al is die inhoud wat oorgedra word nie altyd so lig nie. Benewens die feit dat hy sy werk kwyt is, is alle aanduiding daar dat Karel ook sy vrou, Laura, kwyt is. En dan is daar ook kinderloosheid, soms meer as ʼn skadu teen die muur.

Karel word die ideale karakter in Maas se hand, minstens dan omdat sy eweso met ligte, skalkse hand skryf en ironie fyn beheer sodat speelsheid immer seëvier. Dalk dié ook dat die Switsers-Franse argitek Bernard Tschumi se speelse ondermyning van die argetipe ingespan word as beliggaming van Karel se ideaal vir argitektuur: “argitektuur wat wys dat konflik ʼn onwaarskynlike nut kan hê, en humor… een van die boustene, of dalk die sluitsteen, van ʼn nuwe bestel (word)” (153).

Die spanning wat in die woordgebruik “onwaarskynlike nut” opgesluit sit, is reeds aanduiding van Maas se bevraagtekening van die voorhande – of dit dan nou konflik (by die werk of in die huwelik) is of die spoor wat Karel later loop op soek na sy familie Maritz se wortels in Duitsland of in sy verkenning van die Nubiese kultuur in Soedan of in sy voorstel vir ʼn nuwe woonhuis of selfs ʼn sosiale bestel.

Haar boustene vergaar Maas uit kinderliedjies en -rympies, uit die Duitse en Afrika-gedigte, volksliedjies en verhale. Die titel van die boek is ontleen aan die (Afrika-) verhaal oor hoekom die miskruier nooit ophou om sy bol mis te stoot nie. “Die maan het vir Miskruier belowe sy sal met hom trou as hy al die vuil op aarde opgeruim kry. En daarom beur hy so dapper voort.”

Hoewel Laura en Karel se verhouding onmiddellik sou kon kwalifiseer as vergestalting van dié fabel, het die vuil op aarde wat opgeruim moet word veel meer om die lyf. En dit is waar Maas se boek ook betekenis het vir die wêreld van etiek, dié van die politiek en sosiale orde. En iets sou kon voorstaan van die konstante bevraagtekening van die aanvaarde, van die grense van gevestigde idees wat versit moet word.

Onlangs het wetenskaplikes vorendag gekom met navorsing wat daarop dui dat die Afrika-miskruier gepolariseerde lig van die maan gebruik om hom te rig en sy koers te bepaal.

Soos in Koljander is familie en verwantskap in Die miskruier en die maan van kardinale belang – nie net ten opsigte van onmiddellike familiale bande nie, maar ook ten opsigte van die uitgebreide wolk van getuienis (wil ʼn mens amper sê) wat saam die Maritz-stamboom verteenwoordig, en so ook ten opsigte van komende geslagte.

Maas beskik oor ʼn seggingswyse wat ʼn mens idiolek sou kon noem, ʼn aanbod wat as’t ware net uit haar mond kan kom. ʼn Aanwins is dit gewis hoewel ʼn mens soms minder maklik agter die kap van die byl kom. Maar, het Etienne Leroux gesê, as ek sewe jaar aan ʼn boek skryf behoort die leser bereid te wees om sewe jaar aan die boek te lees.

Protea bemark Die miskruier en die maan as “ʼn lekker eietydse roman; slim en humoristies met kreatiewe, hardkoppige karakters en allerlei interessanthede oor antieke kulture en kuns”. Dit is dié roman gewis. Meer as interessanthede aan te bied trek Maas – en dit is een van die heerlike aspekte van die boek – die gordyn weg om ʼn mens ʼn blik te gee op ʼn alternatief vir gebaande opvattings oor kultuur en kuns. En die lewe.

Carié Maas se roman Die miskuier en die maan word uitgegee deur Protea. Die boek kos R265.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.