Boek van die maand: ‘Halley se komeet’ deur Hannes Barnard

Dit is die jaar 1986. Die Groepsgebiedewet bepaal waar mense mag woon en ʼn magdom wette reguleer mense se gedrag ten opsigte van ras. ʼn Noodtoestand is afgekondig. Daar is sporadiese terreuraanvalle in winkelsentrums. En Halley se komeet is te sien in die Suidelike Halfrond.

In 1986 is Pete de Lange in standerd agt. Teen sy kamermuur is ʼn plakkaat van Christie Brinkley in ʼn rooi bikini en benewens meisies is sy kop vol planne om ʼn plek in die eerste rugbyspan te haal. Dannhauser, die dorpie in Noord-Natal waar hy en sy ouers woon, is anders as groter plekke soos Newcastle en Dundee (waar hy skoolgaan): “Ons ou dorpie is só klein dat ek seker is menige besoeker het al die Indiër-area vir die blankes sʼn aangesien,” sê Pete se pa by geleentheid (80). “Dis nog erger in Durnacol waar die minder gegoede blanke area reg langs die lokasie is. Daar’s nie eens ʼn heining tussenin nie.”

Die afwesigheid van ʼn heining beteken egter nie dat wit mense (daar word verwys na “blankes”), swart mense (daar word na “swartes” verwys, en ook kruer weergawes) en Indiërs (ook nie sonder pejoratiewe verwysings nie) in aparte wêrelde lewe nie. Die wedersydse wantroue loop hoog.

Soos die geval met talle jong Afrikaanssprekendes in die 80’s is die skool en die kerk – met ʼn dominee wat “aandring om ʼn Afrikaans te gebruik wat niemand in die afgelope eeu gehoor het nie” (40) – die plekke waar die status quo herbevestig word. Maar nie die plekke waar Pete ʼn oor of antwoorde kry vir die kwellings waarmee hy sit nie – hy en twee totale vreemdelinge het een aand ʼn nare ervaring gehad en moes vir hul lewens vlug. “ʼn Mens is nie veronderstel om voor jou sestiende verjaardag te sterf nie …”, gee die aanhaling op die agterblad die leser ʼn leidraad.

Teen alle verwagting in knoop Pete ʼn vriendskap aan met Petrus, ʼn seun van sy ouderdom, wat in die swart buurt woon, en Sarita, ook 16 en die dogter van die seunlose eienaar van Naidoo & Sons, ʼn algemene handelaar op die dorp.

Dié drie se Sondagmiddagbyeenkomste in die donker winkel (Sarita se pa en ma besoek haar ouma op Sondae) met yskoue Cokes word mettertyd die plek waar Pete meer van homself en die wêreld waarin hy woon te wete kom as in al die eredienste en katkisasieklasse – ook dié waarin hy die gelykenis van die barmhartige Samaritaan as straf moet uitskryf. Van Petrus en Sarita leer hy, sonder dat hy dit weet óf wil, wat barmhartigheid sou kon beteken.

Hannes Barnard se debuut is ʼn grootwordverhaal wat in die bestek van ʼn paar maande afspeel en wat die leser terugruk na die warsheid en die waansin van die 80’s. As die boek as jeugroman bedoel is (wat ʼn mens aanvanklik vermoed) is die verwysings na die 80’s, mét ʼn skeut nostalgie, bo-oor tieners se koppe en word die boek iets van ʼn historiese roman met ʼn moraal-ondertoon. As jy Halley se komeet gemis het, sit jy met kwalik meer as anekdotiese vertellings oor dié verskynsel.

As jy die Halley-ervaring hét en ook vertroud is met Mello Yello (die koeldrank én die voertuig) is die boek ʼn pynlike herinnering aan dié tyd van vergissing, maar ook aan die moontlikheid van verandering en veral die veerkragtigheid waaroor mense beskik. Dit is dié emosie, vrees ek, wat die leser laat aanhou lees, en nie noodwendig die verpakking (of uitpak) daarvan in taal nie; dis die krag van die verhaal, nie die verhaal nie.

Redaksionele probleme uitgereken gaan die roman mank aan mooiskrywery. In die openingsparagraaf kom ʼn mens benewens “sagte goue pastelle” en “dowwe geel mis” ook “plasse dieprooi modder wat ʼn glimmende mosaïek vorm” teë wat “die boere nydig herinner aan die natuur se ongenaakbaarheid”. ʼn Gestroopter weergawe van die roman kon sterker gewees het.

So dra die opskrifte by die magdom hoofstukke ook niks by tot die vloei of ontwikkeling van die verhaal nie. Trouens.

Veral in ʼn debuut moet ʼn skrywer teen homself beskerm word. Barnard kan ʼn storie weef, maak gʼn fout nie. Daar ís subtiliteit in sy skryfwerk – soos die verwysing na die geroep van ʼn Indiese spreeu wat Pete opmerk een Sondagoggend voor kerk (39). Die subtiliteit word dalk nie volgehou nie en sneuwel plek-plek.

Maar dit kan dan seker ook van die 80’s gesê word.

Halley se komeet deur Hannes Barnard is uitgegee deur Wenkbrou. Die boek kos R320.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lord Oom Piet ·

Ek het Halley se komeet gesien as jong student en onthou nog Yellow Mellow die koeldrank, asook die “vrugtekruie” weergawe wat die Johannesburgse troepe op die Grens gerook het.

Maar ek het vir seker geen “pynlike herinneringe aan diè tyd van vergissing” nie.

Het slegs helder-goeie herinneringe van my tiener-, soldaat- en studentelewe in die 80s.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.