Boek van die maand: ‘Kodachrome’ deur Tom Dreyer

Oor The Book of Imaginary Beings skryf Jorge Luis Borges in sy 1967-voorwoord dié boek is nie bedoel om meteen van een ent tot die ander deurgelees te word nie, maar dat die leser as’t ware van tyd tot tyd en selektief daaruit moet lees – soos wat ʼn mens sou speel met die veranderende patrone van ʼn kaleidoskoop.

Dit is dié gewaarwording wat ʼn mens kry by die lees van Tom Dreyer se Kodachrome, flitse, soos hy daarna verwys – ʼn versameling kort tekste wat voorheen in koerante en tydskrifte verskyn het en wat ʼn bepaalde rubriekkarakter het. Die langste van die 90 verhale is kwalik langer as so 550 woorde.

In dié beperking is Dreyer, wat ook ʼn digter is, gemaklik tuis en flits hy in dié kortverhale taferele waarin sien, of visie, sentraal staan. Kodachrome as titel suggereer die vasvang van ʼn oomblik (soos met ʼn kamera) maar tegelyk ook ʼn filmiese kwaliteit. Soos met ʼn foto vang Dreyer die oomblik netjies (met woorde) vas, maar hy bly daarvan bewus dat die oomblik (soos met ʼn foto) eweneens oor die kante van die verhaal spoel. En dat die verhaal inderwaarheid ʼn flits is van ʼn oomblik. Deurgaans is dit die omgewing rondom die flits wat saampraat en op dié manier kry randverskynsels (en randfigure en stemme en oorlewerings) ʼn staanplek in die prentjie (vergelyk byvoorbeeld “Waar swerf die man met die baard?” en “Die man wat vir Bigfoot gesien het”.)

Soos in Borges se kaleidoskoop (Borges word ook ʼn stem in “Te min ou swart karre”) kom patrone in sig: dié van makabere stories, eienaardige gedaantes en ondergrondse netwerke van betekenisse. Soos Dreyer opmerk: “Patrone word herhaal, en uiteindelik is daar eenheid aan ons ervaring: die monsters van die dieptes en die monsters van die hoogtes…” (85).

Aan monsters is daar in Kodachrome nie ʼn tekort nie. Monsters wat Borges só beskryf: “[A] monster is no more than a combination of parts of real beings, and the possibilities of permutation border on the infinite.” Van die permutasies wat Dreyer oprakel is onder meer die legendariese grootslang van die Oranjerivier, fenikse en salamanders, ʼn ongedierte wat Bloop gedoop is, en basiliske.

In “Liefde in ʼn wêreld vol basiliske” gaan kry Dreyer sy storie in ʼn 1669-boek van ene Georg Caspar Kirchmaier oor onnatuurlike geskiedenis oor onder meer eenhorings, drake, fenikse, leviatans en ander ongediertes en les bes basiliske. Volgens oorlewering kon dié dierasie slegs met sy eie weerkaatsing beveg word en die kwaksalwer wat die stryd teen die basilisk met sy giftige kyk gewen het, is met “ ʼn leerpak oortrek met derduisende spieëltjies die kelder binne” en het ook seëvierend daaruit gestap met “die onding verstrengel in die tande van sy hark” (76).

Dit is in die einste verhaal waarin die Dreyer die aandag vestig op die manier waarop daar gekyk word, veral met betrekking tot die destydse emissie-teorie wat visie beskou het as “ʼn soort grootboetie van gevoel” (76, 77).

Soos in al die verhale trek Dreyer in die laaste paar sinne, ná ʼn wending soos wat ʼn mens in sonnette teëkom, al die lyne byeen en bied ʼn eie blik op of insig in die gegewe aan. In dié verhaal loop dit só: “En dalk is dit uiteindelik wat ons in gedagte moet hou wanneer ons die legende van die basilisk takseer. Oorlewerings is vensters op die mens se vrese, maar ook op ons drome en versugtinge. In enige wêreld waarin die basilisk bestaan, bestaan daar ook hierdie meer omvattende begrip van kyk, ʼn kyk wat nie net uitwis of verdor nie, maar – verruklik soos ʼn groen valleitjie in ʼn woestyn – ʼn intenser liefde en gemeensaamheid tussen ons kan laat blom” (77).

ʼn Mens kan as’t ware in die verhale op Dreyer se spoor loop om die verskil tussen kyk en sien (en voel) na te speur – soos die geval met die noorderligte in “Sonora en haar perd duik in volkleur”, “Die man met die X-straal oë”, en ʼn View-Master se oomblikke wat nooit uitdoof nie in “Flitse in vier dimensies”. Hou ook in gedagte veral die een opdrag voor in die boek: “Vir almal wat nie heeltemal seker is waarom spieël links en regs omkeer, maar nie ook bo en onder nie.”

Dreyer gee flitse van die wonderlike wêreld waarin ons woon, maar bowenal van die maniere waarop die mens sin maak van wonders en wetenswaardighede, op watter manier ook al. Een van sy gewaarwordinge is juis: “Hoe meer van ʼn plan ons op die wêreld daarbuite projekteer, hoe meer kan ons onsself verlekker in ons eie magteloosheid” (67).

Dreyer se kleinkuns is weliswaar kaleidoskopiese flitse, maar dit beteken nie dat die verhale gefragmenteerd aangebied word nie. Sou jy besluit om Borges se aanbeveling in die wind te slaan is daar heerlike hegtings tussen die verhale, soos ʼn vernuftige skrywer van Dreyer se statuur betaam.

Uit sy pen het reeds gekom die romans Erdvarkfontein (1998), Stinkafrikaners (2000), Equatoria (2006) en Dorado (2016). Die kortverhaalbundel Polaroid het in 2007 verskyn.

  • Kodachrome deur Tom Dreyer word uitgegee deur Protea. Die boek kos R275. Skaf dit hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.