Boek van die maand: Onder ʼn bloedrooi hemel – Liefde en geweld in Suid-Afrika

Annemarié van Niekerk se memoir, Onder ʼn bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika, het in 2021 in Nederland verskyn onder die titel Om het hart terug te brengen. Met die Nederlandse weergawe van dié boek het Van Niekerk vroeër vanjaar die Henriette Roland Holst-prys verower, ʼn Nederlandse prys wat skryfwerk bekroon wat getuig van sosiale betrokkenheid en literêre kwaliteit.

Daniel Hugo het die vertaalwerk gedoen en plaaslik word die boek uitgegee deur Tafelberg.

Hoewel Van Niekerk die afgelope 20 jaar of wat in Den Haag, Nederland, woon, is haar bande met haar vaderland innig en het sy in dié tyd etlike kere teruggekeer na Suid-Afrika – onder meer vir die begrafnis van haar vriend Ruben Gouws, ʼn man wat sy ontmoet het toe sy in die 1980’s klasgegee het aan die Universiteit van Transkei in Mthatha. Ruben en sy ma is in 2015 op hul plaas naby Elliot in die Oos-Kaap vermoor.

As geweld in Suid-Afrika aan die orde kom – sy verwys byvoorbeeld na die skrikwekkende statistieke: “In 2015 is uit elke honderdduisend inwoners van Suid-Afrika 34 vermoor” (364) – is Van Niekerk se lens waardeur sy kyk dié van deernis en ʼn opregte soeke om die aard van die geweld vir haarself te probeer kleinkry. ʼn Mens moet in gedagte hou dat sy die boek as “ʼn memoir” aanbied, met ander woorde ʼn persoonlike herinneringsreis van gebeure of persone waarvan sy persoonlike ervaring het of kennis dra. Daarby gee sy “liefde en geweld” as sleutel in die subtitel. Sy skryf dus nie net oor geweld nie, maar oor die verstrengeling van liefde en geweld, soos sy dit eerstehands ervaar het. Wat die boek inderdaad ʼn brawe stuk werk maak.

In plaas van eenvoudige en afdoende stellings gaan Van Niekerk vraenderwys (om tot verstaan te kom) te werk. Selfs soos in ʼn droom waarin sy gevra word om te verduidelik wie sy is: “…die antwoord op u vraag is nie eenvoudig nie. Om te weet hoe ʼn Suid-Afrikaner, of ʼn Afrikaner, inmekaar sit, hoe hy geword het wat hy is, die verstrengeling met sy omgewing en hoe hy bygedra het tot wat van hierdie mooi en droewe land geword het, is gekompliseerd. Die een oomblik dink jy dat jy dit verstaan en die volgende oomblik ontglip dit jou weer. Ja, wie is ek?” (364).

Aan hierdie voortdurende soeke gee Van Niekerk gestalte in die vorm van die reismotief. Sy verhaal etlike reise waarin die reisiger diverse landskappe gade slaan en in die bewegende motor vir haarself moet uitwerk wat sy deur motorruite sien. Die reis het geen einde nie, hoewel ʼn moontlike bestemming dié woorde sou kon wees: “Slegs in ʼn menslike samelewing kan jy mens wees; as jy met haat- en wraakgevoelens in jou hart leef, dan doen jy nie net jouself ernstig tekort nie, maar ook die gemeenskap waaruit jy kom” (348).

Die landskappe wat in die oog kom – of dit nou die landelike omgewing van die Oos-Kaap is of die binnewêreld van onthou – word met deernis beskryf – sonder om te vergoeilik – en sonder wrewel geproblematiseer. Die onderwerp waaroor Van Niekerk skryf is veelfasettig en kwalik reduseerbaar tot simplistiese uitlatings; juis in ʼn tyd waarin baie mense op sosiale media terugval op ongenuanseerde bitterheid. In dié opsig is Onder ʼn bloedrooi hemel ʼn voorbeeld van die seldsame vermoë om met fyn styl, mededoë en immer ʼn oop oog vir dít wat jy dalk nie raakgesien het nie, gestalte te gee aan jou ervaring.

Onder ʼn bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika is geen maklike boek om te lees nie. Soos wat dit nie ʼn maklike taak moes gewees het om dit te skryf nie. Maar, om (hier) te leef is ook geen maklike uitdaging nie. Van Niekerk se memoir noop ʼn mens om jou te weerhou van maklike antwoorde.

Benewens Vrouevertellers 1843-1993, ʼn bundel verhale wat in 1994 verskyn het, het sy ook die bundels Raising The Blinds – A Century of South African Women’s Stories (1990) en The Torn Veil – Women’s Short Stories from the Continent of Africa (1998) byeengebring.

Onder ʼn bloedrooi hemel – Liefde en geweld in Suid-Afrika deur Annemarié van Niekerk word uitgegee deur Tafelberg. Die boek kos R360.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.