Boek van die maand: Ondermaanse toekoms nie minder eensaam

Jaco Malan, die karakter wie se naam aanleiding gegee het tot Jacobus, Willem Krog se debuutroman van 2011, is in naam terug in Alleen onder die maan, Krog se jongste roman. Waar Jaco in Jacobus ʼn vermoënde magnaat was wat spekuleer oor die toekoms van die land, is Jaco in die jongste roman ʼn afgetrede prokureur wat op 80, ná die dood van sy vrou, by sy seun Pieter in Johannesburg ingetrek het.

Hy bewoon ʼn kamer wat grootliks deur sy oorgeërfde tambotie-lessenaar in beslag geneem word. Die plekkie is knap, want woonplekke mag nie groter as 100 m² wees nie. Die Wet op die Eweredige Verdeling van Natuurlike Hulpbronne bepaal verder dat baddens energieverkwistend is en derhalwe verbied is.

Dié verhaal speel af iewers in die nabye toekoms en “die aanname dat individue daarop geregtig is om vir eie gewin te produseer en natuurlike hulpbronne vir hulself aan te wend” (15) is iets van die verlede. Private motors bestaan byvoorbeeld nie meer nie – People Move, ʼn ten volle geoutomatiseerde stelsel wat die verouderde Uber vervang het, is die vervoermiddel.

As ʼn bron van inkomste toets Pieter rekenaarspeletjies.

Die lewe van burgers word beheer deur SOMSS, wat staan vir System of Moral and Social Suitability: ʼn datastelsel wat in China ontwikkel is en wat inligting bevat oor iedere mens. “Jou kommentaar op sosiale media, die produkte wat jy online bestel, die soort werk wat jy doen, hoeveel jy bydra tot belasting … dit alles word deur SOMSS geëvalueer en dan word jy ʼn punt gegee” (14). Die totale punt wat jy kry bepaal jou voordele, onder meer die soort behuising waarop jy geregtig is.

ʼn Tweede komponent van Krog se teks is die aanhalings uit die filosoof Herbert Marcuse se boek van 1964, One-Dimensional Man: Studies in the Ideology of Advanced Industrial Society, waarmee elke hoofstuk ingelei word. Dié aanhalings word nooit deel van die verhaal nie en moet straks gelees word as eksterne kritiek op ʼn vorige bestel, dié een wat Jaco Malan nog geken het, maar eweso op die tyd waarin Pieter lewe. In sy leeftyd was Jaco iemand wat alles krities bekyk het, wat anders as die meeste van sy tydgenote vrae bly vra het. Iets wat die volledig eendimensionele Pieter, à la Marcuse, glad nie meer doen nie.

Die derde komponent van Alleen onder die maan is die manuskrip wat Jaco voor sy dood op sy lessenaar gelaat het: gemoedelike vertellings van ʼn idilliese lewe op die plaas buite Kroonstad waar hy grootgeword het.

Maar Krog skryf ook sy eie familiegeskiedenis in die roman in. Wat ʼn mens soms laat wonder oor wie die boek nou werklik gaan: Is dit Jaco se vertellings of is dit Willem Krog, seun van Dot Serfontein, se anekdotiese teboekstelling van sy grootwordjare?

Ewenwel. In die nostalgiese gegewens vind die leser meer geloofwaardigheid as in die versinde toekoms wat voorgehou word. Dit is asof die toekoms waarin Pieter leef die somtotaal is van die voortsetting van die vroeg 21ste eeu se suksesverhale. So is daar byvoorbeeld geen sprake van werkloosheid te midde van al die AI-vernuf nie. En het almal toegang tot die internet en kwalifiseer almal vir People Eats? Kon die toekoms nie met ʼn beter antwoord as verrassing vorendag kom nie?

Die titel verwys na Jaco se kinderdaeherinnering aan die maanlanding in 1969, en die eskapades wat die kinders op die plaas na aanleiding van dié gebeurtenis beleef het. Maar ʼn mens kom nie weg van ʼn distopiese alleenheid onder die maan nie, moontlik versterk deur die Marcuse-aanhalings wat op sigself bra pessimisties is. Dit is nie soveel die omstandighede (soos die verval in en rondom Kroonstad) wat distopie beklemtoon nie, maar eerder die feit dat Pieter en sy vriende op SOMMS Social (die toekomsweergawe van WhatsApp) die toekoms kan (en gaan) wees: Mense wat klakkeloos alles aanvaar. Sonder ʼn sweem van kritiek. Eenogig. Eendimensioneel.

Willem Krog se Alleen onder die maan word uitgegee deur Jonathan Ball Uitgewers en kos R240.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.