Boek van die maand: ‘Twa die tydloper’ deur Anoeschka von Meck

Die heelal op my tong, Anoeschka von Meck se roman wat in 2020 verskyn het, eindig met die karakter Wille Willemien wat ʼn reis saam met haar jonger suster onderneem. Hulle bevind hulle in die Richtersveld, in die omgewing van Eksteenfontein. In dié barre en gestroopte landskap het Willemien die gedagte om afskeid te neem van haar pa. En haarself te stroop van ʼn lewe wat agter haar lê.

Dit is ʼn raps suid van dié omgewing waar Von Meck Twa die tydloper, haar jongste roman, staanmaak, op die vlakte tussen Maanhaarberg en Haaslipkop op die fiktiewe plaas Tabernakel. Die grond is in besit van die Albrechts, met Braam Albrecht die patriarg wat nie veel van ʼn korter lont as sy pa, Kortlont, het nie.

Die Albrecht-mans, die pa en die seuns, sou maklik kon deurgaan as geharde lummels, ten opsigte van voorkoms én optrede. “Genade was nog nooit iets waarvoor hulle bekend was nie” (16). Teenoor dié spulletjie is die vroue – Ma-Niggie, ouma Saar, Twa (Twalie) en Letgoed – dalk nie minder gelooi nie, maar wel met ʼn sagter ingesteldheid. Wat hulle dalk ook laat terugdeins voor die genadeloosheid van die mans op die plaas.

Hoewel Twalie – sy is sewe as die leser haar leer ken – in haar gesin nie die spilpunt is nie, is sy dit wel in dié roman met sy trekke van ʼn Bildungsroman. Die verhaal gaan immers oor Twalie se vormingsjare en uiteindelik haar emosionele ontwikkeling.

Dié ontwikkeling kom eintlik eers op dreef as sy by haar ma se suster, tante Innes, op die dorp gaan woon en daar skool toe gaan. Dit is waar sy te doen kry met die skoolhoof, Frankel Regop Strauss, ʼn man wat haar herinner aan Oupa Vyeboom, ʼn wildevyeboom wat sy in haar vormingsjare teëgekom het in Die Poort. In ʼn taamlik boomlose landskap is die skoolhoof kwalik minder as ʼn redding vir dié kind wat Letgoed as “ʼn anderste enetjie” beskryf. “Dis goed jy het ʼn Nama-naam ook. Dit help dat jy nie net kort kyk soos die meeste wit mense nie. Partymaal dink ek dis omdat daar soveel Lig in jouse binneste is, dat jouse kophare uitskiet soos ʼn twa [die Namawoord vir growwe Boesmansgras]! Al is jy nog ʼn tjênd, is jouse gees klaar gebrandsteek. Min het daai vuur” (11).

In Letgoed se wêreld het Die Poort geheime kwaliteite en is dit ʼn plek wat tydens heuningmaan ʼn magiese plek word, wanneer tyd soms ʼn deur agtertoe oopmaak. Soos op die agterblad van die boek aangedui word, is daar “mense wie se lewens van die begin af anders verloop [verwysende hier na Twalie]. Sulke mense se liefde lê nie op die gewone plekke nie, maar juis daar waar min ooit die moed sal hê om hul toekoms te gaan haal.” Wat van Twalie ʼn “gaanhaler” sou maak. Net soos wat sy ʼn “tydloper” sou kon wees.

Die roman het heelwat byle waarvan ʼn mens agter die kap moet kom, en eweso geheime en onthullings – wat sorg vir ʼn uitdagende en tegelyk aangename leeservaring.

Von Meck maak gebruik van voetnote om selektief sekere begrippe verklaar te kry (soos die betekenis van twa as growwe Boesmansgras). Die leser kan uiteraard kies om die voetnote te ignoreer. Nietemin breek voetnote die leesproses, en bowendien is Von Meck se voetnote bra arbitrêr (heelwat van die begrippe wat verklaar word sou ʼn mens kon google). Om Cancún te verklaar, maar byvoorbeeld “oom Rampies” en “madam Kopdoek” (147) nie, bevestig dalk die oorbodigheid van verklarings. Daarsonder sou die roman nie ontoeganklik wees nie.

In die barre en gestroopte landskap van die Richtersveld neem Twalie, wat in ʼn ander wêreld ook bekend sou wees as Isabeau, afskeid van ʼn wêreld van geheime en geheimhouding. Sy stroop haar as’t ware van ʼn lewe wat agter haar lê en bewys haarself as ʼn “gaanhaler”, iemand wat die moed het om haar toekoms te gaan haal.

Twa die tydloper deur Anoeschka von Meck word uitgegee deur Penguin. Die boek kos R320.

  • Klik hier om te luister na ‘n gesprek met Anoeschka von Meck oor die boek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.