Luister: Anoeschka von Meck praat oor reise vir ‘Twa die tydloper’

Anoeschka von Meck, skrywer van ‘Twa die tydloper’. (Foto: Anoeschka von Meck)

“Meneer laat my aan Oupa Wildevyboom dink wat in die versteekte kloof groei,” glip die woorde uit voor sy dink mens sê nie so iets vir jou prinsipaal nie. “Iemand by wie se skaduwee mens kan sit” (70).

So merk Twa, die hoofkarakter in Anoeschka von Meck se jongste roman, Twa die tydloper, op oor die rol wat Frankel “Regop” Strauss, skoolhoof van Koperberg Hoërskool, in haar lewe speel.

“Dit was wonderlik om Frankel se karakter te skep. Hy lê my besonder na aan die hart, omdat dit op ʼn mentor uit my verlede gegrond is,” vertel Anoeschka, wat ook die aangrypende Vaselinetjie geskryf het, in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Die persoon na wie Anoeschka verwys, is prof. Heinrich Willemse van die Universiteit van Pretoria wat as studieleier vir haar doktorsgraad in kreatiewe skryfkuns opgetree het.

“Die gevoel van veiligheid wat ek by hom ervaar het in die manier hoe hy my akademies begelei het, het ek gebruik om vir Twalie sekuriteit in die vorm van ʼn skoolhoof te gee. Hy is amper soos ʼn vaderfiguur vir haar.”

Frankel word in die verhaal as ʼn “ʼn lang man met ʼn netjiese klein snorretjie” (63) beskryf. Hy is streng en pas dissipline toe wanneer dit nodig is, maar in sy diepste wese sal Frankel veel eerder in ʼn boekwêreld wil ontsnap as om met mense te werk.

Wanneer dit egter by leerders soos Twalie kom, wat figuurlik gewond is en bepaalde uitdagings ervaar om in ʼn skoolomgewing aan te pas, leer mens Frankel opnuut as iemand met deernis ken.

“Hy is self gewond, en as gevolg daarvan sien hy verwondheid in ander mense, spesifiek leerders by die skool, raak. Hy bied eintlik onwetend ʼn veilige hawe vir hulle, en daarom voel Twalie dat sy in Frankel se skadu kan gaan sit en in hom kom wegkruip.

“Ek hou daarvan as daar sulke karakters in my stories is wat op ʼn positiewe manier in ander karakters se lewens inspeel. In hierdie geval herinner dit ons aan die bydraes van onderwysers of mentors, mense in gesagsposisies of wat soos vaderfigure is, wat ons altyd sal bybly.”

Twa, of Twalie soos wat lesers haar ook leer ken, is die enigste dogter in die eienaardige en geheimsinnige Albrecht-familie wat in afsondering leef en ʼn stryd teen die uitdagings van ʼn ongenaakbare omgewing en bar landskap voer.

Te midde van die verwerping wat Twa van haar pa ervaar, en haar ma wat haar aldeur probeer onderdruk, vind Twalie lig in die duisternis wanneer die Namavrou Letgoed haar tydens ʼn sandstorm red. Letgoed stel Twalie bekend aan die wonders van Die Poort, ʼn misterieuse plek wat tydens die heuningmaan die verlede ontsluit.

Vir die skrywer is dit egter moeilik om afstand van hierdie storie en sy karakters te doen.

“Met die karakters in Twa die tydloper, Twalie spesifiek, is ek eintlik nog deurentyd besig. Hulle voel vir my soos werklike mense wat ek eintlik wil bel om te hoor hoe dit gaan. Ek wil vir die Albrechts vra of dit al op die plaas reën.”

Die skryfwerk staan egter nie stil nie. Mettertyd sal Anoeschka die storie waarmee sy besig was toe hierdie een haar genoop het om dit eenkant te skuif, weer optel en klaar maak.

  • Twa die tydloper kos R310 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.