Boekdiewe pootjie Afrikaanse skrywers

Sidney Gilroy, skrywer van onder meer ‘Bloedsomer’. (Foto: Versakf)

Eers die woede en dán die vreeslike teleurstelling. So beskryf die krimiskrywer Sidney Gilroy sy emosies wanneer ʼn mens hom uitvra oor sy reaksie op lesers se klakkelose verspreiding van e-boeke.

Sidney werk heeltyds as projekbestuurder en spandeer nauurs aan sy skryfwerk. Sy eerste spanningsroman, Klikbek, het in 2019 verskyn. Daarna het Middernag (2020), Vlam (2022) en Bloedsomer (2024) gevolg.

“Vir my as skrywer wat eintlik maar nog nat agter die ore is, is dit geweldig ontmoedigend wanneer ek hoor dat my boeke die rondte doen. Dit voel asof boekdiewe nie dieselfde respek vir my kreatiewe werk as vir ander produkte of dienste het nie.

“Jy gaan byvoorbeeld nie by die haarsalon uitstap sonder om te betaal nie. Waarom sal jy dan my boek lees sonder om dit te koop of te betaal om dit in die hande te kry?”

Fanie Viljoen, die uiters gewilde en suksesvolle Afrikaanse kinder- en jeugboekskrywer, sê dit voel of lesers ʼn skrywer se kreatiwiteit verspeel.

“Daar gaan soveel werk in elke boek. Dit begin by die skryfproses waar jy partykeer maande aaneen met ʼn storie sit en verskriklik baie in jou persoonlike lewe moet opoffer om daaraan te werk. Die res van die publikasieproses neem net so lank, en dit is nie net ʼn skrywer wat daarby betrokke is nie. Dit is ʼn spanpoging.

“Dan kom lesers sodra die boek verskyn het, en hulle deel dit met honderde ander mense wat nie ʼn sent daarvoor betaal nie. Dit maak my as skrywer mismoedig.”

Die bekroonde jeugboekskrywer Annerle Barnard sê hoewel sy nie bewus is daarvan dat haar boeke onwettig versprei word nie, het sy empatie met ander skrywers wat wel daardeur geraak word. Annerle het in 2021 ʼn Sanlam-goud vir haar jeugroman Spel gewen, en in 2019 het sy silwer verower vir haar aksiebelaaide reisverhaal Sindikaat.

Diefstal van e-boeke vind onder meer plaas wanneer lesers onwettig elektroniese weergawes van boeke op digitale platforms soos WhatsApp, Telegram en Facebook rondstuur. Dit gebeur meestal dat individue aan boekgroepe met honderde lede behoort en dan goedskiks en kwaadskiks aan hierdie wanpraktyk deelneem.

Annerle Barnard, jeugfiksieskrywer (Foto: Annerle Barnard/Facebook)

“Een van ons take as skrywers die afgelope twee jaar, is om bewustheid hieroor te skep en lesers oor die uitwerking en gevolge van hulle dade op te voed,” vertel Sidney verder. “Party van hierdie boekdiewe het reeds hulle Moses in die hof teëgekom, en daar is verskeie rolspelers wat onverpoosd aanhou werk om hulle vas te trek.”

Volgens Sidney behels die opvoedingstaak verder ook om wanindrukke wat lesers moontlik kan hê, in die kiem te smoor.

“Dit wil in die eerste plek voorkom of mense dink skrywers verdien enorme bedrae geld en dat die inkomste van een boek wat gesteel word nie ʼn verskil aan hulle beursies gaan maak nie.”

Die onwettige verspreiding van e-boeke neem nie net die brood van skrywers se tafel af nie, maar dit ontneem hulle ook die genot van skryf.

“Skrywers gaan uiteindelik vir hulleself vra of dit nog die moeite werd is om aan te hou skryf in Afrikaans, en of hulle dit nie moet oorweeg om in Engels te begin skryf nie.

“In Suid-Afrika is daar enkele skrywers wat dit kan bekostig om voltyds te skryf, en dan praat ek van mense wat vir hulle loopbane uit te kerf wat oor ʼn paar dekades strek.”

Fanie meen hy het ook al gewonder of dit die moeite werd is om aan te hou skryf as sy boeke op hierdie manier versprei word. “Mense dink skrywers doen dit om ryk te word, maar dit is nie so nie.

“Trouens, daar is nie een skrywer waarvan ek weet wat nie die geld nodig het om aan die lewe te bly, rekeninge en verskering te betaal, inkopies te doen nie, of dalk vir ʼn gesin moet sorg nie.”

Annerle voeg by dat die meeste Suid-Afrikaanse skrywers nie die luuksheid het om heeltyds te skryf nie.

“Mense dink skrywers verdien sakke vol geld, maar dit is allermins die waarheid. Die gemiddelde Suid-Afrikaanse skrywer het ʼn gewone agt-tot-vyf-werk, en hulle spandeer nauurs aan skryfwerk.”

Volgens Sidney bestaan daar ook ʼn wanbegrip oor toegang tot inligting. “Die tyd waarin ons nou leef, is ʼn digitale wêreld en ʼn era van inligting. Ons neem aan dat alle inligting gratis beskikbaar moet wees, en dit is nie so nie. Mense sukkel om te onderskei wat werklik waarde toevoeg, soos koerante, televisieprogramme of boeke.”

Nog ʼn wanopvatting onder ʼn groot gros lesers, is dat daar nie alternatiewe moontlikhede is nie.

“Dit is onwaar. Die skryfgemeenskap probeer kliphard om mense bewus te maak van ander maniere om toegang tot boeke te kry en te lees sonder om skade aan te rig.

“Biblioteekkaarte is gratis, die Libby-app bied verskeie opsies, daar is ʼn enorme aantal tweedehandse boekwinkels, leesgroepe kan ʼn bron van boeke wees, en verskeie plaaslike boekhandelaars ondersteun graag die Afrikaanse boekmark deur afslag op boeke te gee.”

(Foto: Verskaf)

Fanie moedig ook lesers aan om biblioteke en die Libby-app te gebruik. “Biblioteke betaal een keer vir een boek, en party van hulle is reeds met Libby geïntegreer. Jy kan dus van die app af ʼn boek uitneem en sommer op jou selfoon lees.”

Boekdiewe veroorsaak geweldige uitdagings en probleme waarmee uitgewers, skrywers en ander rolspelers in die uitgewersbedryf al ʼn geruime tyd stoei.

“Jy spandeer maande om ʼn boek te skryf en te redigeer, en dan neem die bemarking van jou boek ook nog ʼn groot deel van jou tyd in beslag. As ʼn mens na die groter prentjie kyk, is daar uiteindelik ʼn klomp mense wat geweldig hard saamwerk om ʼn boek suksesvol te maak.”

As Sidney vandag een ding vir lesers kan sê, sal dit in die vorm van ʼn pleidooi wees om e-boeke nie vrywillig en onwettig te versprei nie. “Jy het nie nodig om te steel nie. Daar bestaan gratis, wettige alternatiewe wat jy van jou selfoon af kan gebruik. Dit maak nie die uitgewer, skrywer, joernalis of radio-omroeper seer nie, want hulle ontvang steeds tantieme, al is dit minder.”

Fanie vra op sy beurt: “Moenie boeke steel en deel nie. Jy doen nie vir skrywers of Afrikaans ʼn guns om e-boeke onregmatig te versprei of om boeke te lees sonder om op een of ander manier daarvoor te betaal nie.”

Koop ʼn boek in hardekopie, kom dit van Annerle af. “Lees die boek, en skenk dit agterna vir die ouetehuis in jou omgewing. Daar is ʼn groot behoefte onder bejaardes vir boeke omdat hulle nie toegang tot tegnologie het nie of sukkel om op toestelle te lees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianna ·

Ek is ook ‘n skrywer in Afrikaans en voel om op te gee. In die eerste plek is daar nie baie lesers en boekkopers in Suid-Afrika nie. En dan kom die kopiereg-wet ook nog. Is dit nog die moeite werd om te skryf? Wat ‘n skrywer uit ‘n boek verdien vir maande se werk is net eenvoudig nie die moeite werd nie. Dan praat ek nie van die tyd wat spandeer is nie. ‘n Mens wil nie opgee nie. Dis jou passie, jou talent wat jy graag wil uitleef. Maar hoe kan jy?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.