Sidney Gilroy: ‘Dikvelligheid, navorsing ’n vereiste vir skryf’

Bloedsomer (Foto: Versakf)

Navorsing oor polisieprosedures, orgaanoorplanting en ʼn skaars geestesversteuring was deel van dié skrywer se voorbereiding vir sy nuwe misdaadriller Bloedsomer.

Wat het Die Clowns, ʼn Russiese skeepskaptein en die matriarg van die vooraanstaande Heemstra-familie se testament in gemeen?

So lui die flapteks op Sidney Gilroy se nuwe boek Bloedsomer.

Die vreeslose Petunia Moraleng, voormalige stasiebevelvoerder op Parys, is haar rang kwyt en word as ʼn konstabel na Mooibaai oorgeplaas waar sy aan ʼn onsimpatieke speursersant JP Hendriks moet rapporteer. Hulle bevind hulle as die hoofondersoekers van slagoffers in ʼn grusame en duistere moordsaak. ʼn Albaster wat in die eerste slagoffer se hand vasgeklem is, is die enigste leidraad.

Oor Petunia wat ʼn komplekse karakter is, vertel Sidney: “Ek het maar ʼn kans gevat met haar. Lesers het haar vlugtig in Vlam ontmoet en tóé was sy nie juis ʼn baie aangename of geesdriftige polisiekaptein nie. Dalk net daar vir haar salaristjek.

“In Bloedsomer leer lesers ʼn heel ander sy van die nou-konstabel Moraleng ken.

“Sy het ʼn deernis aan haar en empatie met slagoffers wat ek net met ʼn vroulike karakter kon regkry. Natuurlik is sy ook ʼn regte rissiepit, sê ʼn ding soos hy is en doen meestal wat sy wil.”

Volgens Sidney het Petunia ʼn baie harde dop wat haar omring. “Sy is nie ʼn sagte vrou nie, maar binne daai buitekant van klip, skuil daar ʼn enorme groot hart. Sy is eintlik ʼn formidabele vrou en ek hoop dat ek in Bloedsomer dit reggekry het om haar harde én sagte kant te kon wys.

“Dit is ongelooflik moeilik om jouself in ʼn ander ras, ʼn ander geslag, ʼn ander agtergrond in te skryf. Ek tob baie lank voordat ek sulke hoofstukke afsluit.”

Sidney moes navorsing oor orgaanhandel en veral polisieprosedures doen.

“Ek is bevriend met verskeie polisie-amptenare en ek het ook ʼn kursus in speur-ondersoeke meegemaak.

“ʼn Mens wil natuurlik nou nie ʼn handleiding skryf nie, maar jy wil tog as skrywer die fiksie realisties genoeg uitbeeld sodat selfs gesoute polisiemanne hulself en hul werk in die teks kan raak lees.”

Sidney woon op Reebok buite Mosselbaai in die Wes-Kaap en die verhaal speel in sy omgewing af.

“Ek glo daarin dat skrywers sover as moontlik moet skryf oor omgewings en omstandighede wat hulle met hul eie oë gesien en met hul eie sintuie ervaar het.

“Dit was dus vir my die logiese besluit om my karakters in al my boeke in plekke te plaas waar ek self was.

“Om ʼn misdaadtoneel raak te beskryf, is nie maklik of mooi nie. Ek gaan besoek gewoonlik die plekke waarin ek wil hê my misdaadtonele moet afspeel: agterstrate, verlate veld, ʼn grot, dalk ʼn donga of ravyn iewers.

“Dit, tesame met my navorsing oor hoe ʼn lyk dan sal lyk teen die tyd waarop iemand daarop afkom is die basis vir die omskrywing van die toneel.

“Die derde geheime bestanddeel is die ondersoekende span en die toerusting en prosedures wat hulle tot hul beskikking het. Die forensiese span wat elke liewe dingetjie karteer, opneem, en as bewysstukke insamel. Die forensiese laboratorium wat verdere analise soos

DNS-toetse en die outopsie uitvoer. Dis hier waar die speurder in die leser aangewakker word.

Vir sy jongste boek moes Sidney baie lang ente stap, oor klowe en van hange af klouter en tot binne in die grotte langs die see gaan snuffel om die leefwêreld van sy karakters vir die leser realisties uit te beeld.”

Oor een van die karakters in Bloedsomer wat aan dissosiatiewe identiteitsteuring ly, sê hy dis ʼn seldsame toestand waarna in die verlede verkeerdelik as ʼn “gesplete persoonlikheid; verwys is. Dit is egter veel meer verwikkeld.

“ʼn Persoon wat hieraan ly, voorsien aan ʼn spesifieke psigiese of emosionele behoefte wat die persoon dalk het en die doel is om die ‘self’ van die werklikheid te distansieer. Dit is dus in ʼn mate ʼn oorlewingsmeganisme. Die persoonlikhede is nie bewus van mekaar nie. Dit is egter nie so dramaties dat een persoonlikheid byvoorbeeld ʼn boer is en die ander ʼn ballerina nie. Dit kan deur kindertyd- of ander trauma gesneller word.”

Sidney sê hy het nooit beplan om ʼn skrywer te word nie.

“Dit het heel per abuis gebeur. Ek is lief vir Afrikaans. Ek is lief vir lees. Eers op die ouderdom van 35, agt jaar gelede, het ek my hand gewaag aan kreatiewe skryfwerk. My stories was egter van só ʼn aard dat daar noodgedwonge ʼn speurder of polisielid iewers, êrens, iemand moes vang.

“My boeke is al as spanningsfiksie, misdaadromans, domestic noir, verhoudingsromans en rillers beskryf en ek trek nou eers maar by boek vier. Ek weet nie eintlik in watter genre ek hoort nie, maar ek glo dat goeie verhale, sterk karakters en lesers wat emosioneel betrokke kan raak, nie aan een genre gebind is nie. Dalk is dit goed dat my boeke so bietjie van alles in het.

“Vir my is die opwindendste ding rondom enige boek skryf, wanneer jy daardie heel eerste weergawe uit timmer en daar na ʼn geswoeg en gesweet (en baie dink) skielik 100 000 woorde voor jou staan. Daar is iets verskriklik magies daaromtrent om karakters en verhale van uit die niet te skep.

“Die eerste weergawe van ʼn boek is ʼn chaotiese proses vir my. Dit kan enige tyd begin vorm aanneem in my verbeelding en dan moet die boek uit.

“Ongereelde ure. Lang nagte. Verkwiste naweke. Karakters wat oor mekaar praat. Gebeure wat oor mekaar struikel. Die plot wat ontvou. Die herskryf en uiteindelike redigering van die aanvaarde manuskrip is ʼn meer rigiede, gestruktureerde proses.

Bloedsomer strek oor twee dekades. Dit is al hoe ek die ontvouing van die Heemstra-familie se tragedie aan die leser kon verduidelik en wys. Ek wou gehad het dat lesers moes verstaan hoekom Arno is soos wat hy is. Hoekom Monja doen wat sy doen. Hoekom Albaster is waar sy is. Dit is die skrywer se werk om die leser so mee te voer, dat die tydspronge natuurlik vloei saam met die verhaal.

Ek skryf filmies. Nie opsetlik nie. Dit is maar net hoe ek skryf. In rolprente is dit ook natuurlik dat die verlede as ʼn flits aan die kyker gewys kan word, nes dit in Bloedsomer met hoofstukke gebeur.”

Oor ʼn skrywer se grootste vrees, ʼn nee-dankie-briefie, erken hy dat hy dit al beleef het.

Sidney Gilroy (Foto: Verskaf)

“Ek skryf ʼn boek ten minste vier tot ses keer oor voordat ek genoeg selfvertroue in die teks het om dit na my uitgewer te stuur. Dan skouer ek die uiters kritiese leesverslae wat uitwys wat met die verhaal, die plot, die karakters, die dialoog of die taalgebruik fout is.

“Jy moet ʼn baie harde vel ontwikkel as jy ʼn skrywer wil wees en ek het geleer dit is die beste om nie kleinserig oor jou sinne te word nie. Daar word nie ‘saam’ met jou geskryf nie. Die redakteur gee ʼn kopknik of ʼn kopskud en dan is jy weer op jou eie.

“Jy gaan maak reg, trek reg of skryf heeltemal oor. Skryf is herskryf. Uitgewers help jou as’t ware net om die beste weergawe van jou manuskrip uit jou uit te dwing. Ek het al vele afkeurbriefies ontvang. Dit skrik my nie af nie. Dit spoor my aan om net nog beter en beter te probeer skryf.”

Sidney is bekend vir sy gemaklike en soms selfs gestroopte skryfstyl. Hy verpes te veel byvoeglike naamwoorde.

“Ek werk hard daaraan om my eie, unieke stem as skrywer te vind en groot, indrukwekkende woorde waarvoor jy ʼn woordeboek moet nadersleep, is nie in my taalregister nie.

“Jy kan nie deur woorde slim klink of die leser boei nie. Myns insiens hoe minder woorde jy hoef te gebruik om iets aan iemand te verduidelik, hoe beter skrywer is jy.”

Skryf is vir hom ʼn stokperdjie. Sy beroepslewe is besonder druk en stresvol. Dus bied skryf vir hom ʼn mate van ontspanning en ontvlugting.

Hy het 16 jaar lank as operasionele bestuurder in die ingenieursbedryf gewerk wat die rasionele sy van sy brein laat oortyd werk. Hy bedryf tans sy eie onderneming wat in digitale en operasionele bestuur spesialiseer.

“Deur te skryf aktiveer ek die kreatiewe sy ook.”

Dit voel steeds vir hom onwerklik dat mense sy boeke wil lees.

Hy beskryf homself as skrywer so: “Sidney die skrywer is ʼn tolbos-tipe ou met ʼn gevaarlike verbeelding wat van baie wilde dinge droom. Hy is ʼn grootbek. ʼn Moeilikheidmaker. Alewig besig om te kyk hoe ver presies hy dit kan druk.

“Om voor groot getalle mense uit die vuis uit te praat skrik hom nie af nie en hy hou daarvan om rondom en tussen mense te wees.

“Sidney die mens is baie verwyderd van daai ou af. Hy is ʼn bleeksiel. Wat baie lees. Hard werk. Te veel oefen en ver ente langs die see of in die berge gaan stap. Alleen. Hy verkies sy eie geselskap of dié van diere.

“Dié twee het net een ding in gemeen: ʼn liefde vir Afrikaans en skryf. Die een verdra die ander vir die onthalwe van vrede vir almal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.