Boekliefhebbers kuier in Cradock

Die Tuishuise & Victoria Manor. (Foto: Verskaf deur Tuishuise & Victoria Manor)

Van 23 tot 25 September speel Cradock in die Oos-Kaap gasheer vir die Etienne van Heerden Veldsoirée.

Dié inisiatief deur Darryl David is ʼn samekoms van storievertellers, skrywers, akademici, historici, aktiviste en boonop  ʼn hele klomp honde wat langs ʼn Karoovuur of tussen die geklingel van silwer eetgerei op wit tafeldoeke oor boekdinge gaan gesels.

Een van die hoogtepunte is die bekendstelling van Etienne van Heerden se A library to flee, die vertaling van Die biblioteek aan die einde van die wêreld op 24 September.

Etienne van Heerden het gewen in die kategorie ATKV-Prosaprys. Foto: Nardus Engelbrecht

In ʼn gesprek met Jo Els, Jean Meiring, Clinton V du Plessis, Tony Jackman, Freda Froehlick, Darryl David, Chris Marais, Julienne du Toit, Theresa Hardman en Doreen Atkinson sal die Karoo en die Karoo se bewoners bespreek word.

Literêre tradisies onder Xhosas voor die koms van die koloniale lens, is die onderwerp van Mphuthumi Ntabeni se praatjie, terwyl Amos Nteta, Freek Robinson en Xolile Dwilli Vusubuntu die belang van die Cradock 4 sal ondersoek.

Robinson, Barend la Grange en Heindrich Wyngaard gesels oor die posisie van die burgerlike samelewing en Christi van der Westhuizen hou ʼn bespreking oor witwees in Afrikaans.

Ander skrywers sluit in Elise Bishop, Heilna du Plooy, Henrietta Rose-Innes, Loit Sōls, Marnus Hattingh, Sidney Gilroy en Hennie van Coller.

Kaartjies kos tussen R50 en R200. Vir besprekings stuur ʼn e-pos na [email protected] of skakel 048 881 1650. Vir algemene navrae stuur ʼn e-pos aan Izak de Vries by [email protected]. Klik hier vir die volledige feesprogram.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.