Boekoorsig: Die wonder van die skepping

Die wonder van die skepping deur Louie Giglio met Tama Fortner word deur Struik Christian Media. Nicola Anderson is verantwoordelik vir die kleurvolle illustrasies.

Hierdie opwindende publikasie beslaan 207 bladsye en 100 dagstukkies oor God en wetenskap. Dit volg op Giglio se baie gewilde dagstukkieboeke getited Onbeskryflik en Hoe groot is ons God waarin daar ook 100 oordenkings elk oor God en wetenskap is. Weetgierige kinders tussen ses en tien jaar oud sal hierdie versameling prettige oordenkings baie leersaam en interessant vind. Dit sal hulle verwonderd laat oor God se kreatiewe skeppingsvermoë en hoe wonderlik sy skepping waarlik is.

Giglio se aansteeklike entoesiasme vir God se skepping slaan reeds in die inleiding deur: “Saam gaan ons ongelooflike wetenskaplike feite ontdek, met Hom praat deur te bid, en leer hoe slim en wonderlik Hy is. Ek hoop hierdie dagstukkies sal jou help en inspireer om nie net die wêreld om jou te leer ken nie, maar ook die God wat alles geskep het.” Hy neem die jong leser op ’n onvergeetlike verkenningstog saam met ses maats wat saam met hulle groei en verken. Dit is ’n heilsame ontdekkingsreis gevul met verstommende waarhede. Giglio het baie moeite gedoen om werklik interessante en wetenswaardige inligting en feite te versamel waaromheen hy sy dagstukkies geskryf het.

Die vier belangrikste temas in die boek is die ruimte, die Aarde, diere en mense. Nie net is daar kort, treffende Bybelversies om te memoriseer nie, maar die “Verwonder jou”-gedeeltes verskaf bykomende wetenskaplike feite. Daar is ook aktiwiteite en baie mooi foto’s. Giglio skryf vloeiend, onderhoudend en op ’n manier wat perfek by kinders se ontwikkelingsvlak en taalvaardigheid aansluit. Die boek is ook perfek vir voorlees, want dit lees asof Giglio met sy jong gehoor in gesprek is.

In die gedeelte getiteld “Verlore en gevind” skryf hy byvoorbeeld oor die Somali sengi – ’n soort muis genaamd ’n klaasneus – wat familie van die olifant is en laas in 1973 gesien is. “Maar hulle het gedurig gehoor dat klaasneuse in Djiboeti in Afrika gesien is. Daarom het hulle in 2019 meer as 1 200 strikke gestel. Hulle het ’n mengsel van grondboontjiebotter, hawermout en gis gebruik. En kan jy glo: Klaasneuse is sowaar mal oor grondboontjiebotter! Wetenskaplikes het twaalf Somali sengi’s gevang en weer vrygelaat. Hulle het die diertjie gevind wat almal gedink het verlore was” (11). Hy verbind die inligting dan met die volgende geestelike waarheid: “Die wetenskaplikes wou nie hê klaasneuse moes verlore wees nie. Net so wil God ook nie hê dat jy of enigiemand anders verlore moet wees nie. Om verlore te wees, beteken nie om iewers te verdwaal nie. Dit beteken dat jy nie op God vertrou om die Here van jou lewe te wees nie. Dis hoekom God nooit ophou om na ons te soek nie, want Hy wil vir ons sy liefde gee.”

Lesers leer onder meer van ’n afstandbeheerde tuig, die Deep Discoverer, wat tot 5 791 meter onder die see verken, vuurnado’s, Sjerpas, Robonaut die ruimterobot, Elon Musk se Starman en ysvulkane. Het jou kind al ooit gewonder waarom sneeu wit is, wat die gloed van die geheimsinnige, melkerige see veroorsaak, en wat dit beteken wanneer ’n planeet sy eie paadjie volg? Hierdie pragboek is dan so reg in jou kind se kraam.

Ek beveel hierdie geloofbouende publikasie heelhartig aan.

Bestel gerus Louis Giglio se Die wonder van die skepping hier of skaf dit by ’n toonaangewende boekhandelaar aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.