Boekpryse: Dít is waarvoor jy betaal

Argieffoto (Foto: Christin Hume/Unsplash)

Vir toegewyde boekliefhebbers en lesers is daar weinig wat by die suiwer genot van ʼn lekker leeservaring kom. Behalwe natuurlik ʼn nuwe boek!

Ander mense sal dalk sukkel om dit klein te kry, maar in die wêreld van bibliofiele ís boeke koning. Ongeag of daar genoeg spasie op die boekrak, voorsiening in die begroting of tyd in die dag is.

Nou goed, as ons nou pynlik eerlik met mekaar moet wees, is dit regtig nie altyd moontlik om jou na die naaste boekwinkel te wend en stapels nuwe boeke aan te skaf nie. (Dit beteken egter nie dat jy willens en wetens die roofkopieë van boeke wat gratis op Whatsapp, Telegram of enige ander sosialemediaplatform versprei word, mag lees nie!)

Boekpryse het onlangs onder die loep gekom toe ʼn gebruiker op die Facebook-groep Lekkerleesboekrak wou weet waarom die Afrikaanse skrywer Sophia Kapp “se boeke so duur is”. Die persoon, ene Hester du Buys Naude, wat spesifiek na e-boeke op Amazon verwys het, het verder geskryf: “Ek weet SA-boeke duur, maar hare is buitensporig duur! [sic]”.

Kapp het hierop gereageer met ʼn uitgebreide verduideliking van die proses en wat dit behels om uiteindelik so ʼn produk saam te stel.

“Ek antwoord met hierdie lang relaas nie om te suggereer dat enigiemand in die proses skelm is of ander mense inloop nie. Ek noem dit omdat ek wil hê almal op hierdie rak en wat nou by hierdie gesprek betrokke is, moet verstaan wat dit verg om ʼn boek te maak,” skryf sy.

Met dit as agtergrond het Maroela Media met ʼn paar kenners gesels oor wat dit verg om ʼn manuskrip in ʼn boek te omskep en waarom die boekbedryf ondersteun moet word.

Dít is waarom jy boeke koop

Charlene Hougaard. (Foto: Skryfnet.co.za)

Charlene Hougaard, vryskuttaalpraktisyn en medewerker van Skryfnet, wys daarop dat boeke vir lesers toegang tot ʼn wêreld bied waar hulle vry kan wees. “Veral in moeilike tye is boeke ʼn manier van ontvlugting vir lesers.”

Sy herinner mense daaraan dat die meeste skrywers nie die luuksheid het om voltyds te skryf nie en dus nauurs aan hulle boeke werk.

Oor boekpryse sê Hougaard verder dat dit in vergelyking met ander tydverdrywe, soos om in ʼn restaurant te gaan eet of te gaan fliek, eintlik nie soveel duurder is nie.

“Hoe moeilik dit ook al is om te begryp, koop jy eintlik vir daardie persoon plesier en ontspanning,” en sy voeg dan by: “Mense wil goed verniet hê, maar hulle besef nie dit is ʼn produk nie. ʼn Skrywer en die hele span wat betrokke is, werk maande daaraan.”

ʼn Voormalige redakteur van ʼn plaaslike uitgewer, wat anoniem wil bly, sê sy verstaan dat dit werklik moeilik is vir iemand wat moet raap en skraap om kos op die tafel te sit, om ʼn boek aan te skaf.

“Ek verstaan dat dit duur is om boeke te koop, en gelukkig is daar darem nog biblioteke en leesklubs waarby mense kan aansluit of betrokke raak.”

Maar ʼn mens kan nie die moeite wat in die produk gaan, ontsien nie.

“Om ʼn gehalte produk daar te stel en reg te laat geskied aan wat die skrywer gedoen het, is dit nodig om kenners te betrek.

“Die redakteur is nie noodwendig opgelei as grafiese ontwerper nie en daarom is dit absoluut geregverdig om iemand te betaal wat die kennis en vaardigheid het.”

Leonie van Rensburg, eienaar van Graffiti Boeke in Pretoria, is van mening dat boeke ʼn mens op ander maniere voed. “Soos wat kos jou maag voed, is boeke kos vir die siel.”

Van Rensburg is al byna vier dekades in die boekebedryf. Sy het onlangs ook haar eie uitgewery, Boekdiva Uitgewers, op die been gebring en Kapp se jongste boek Heimwee het hier verskyn.

Dít is waarvoor jy betaal

Leonie van Rensburg, eienaar van Graffiti Boeke in Pretoria. (Foto: Leonie van Rensburg/Facebook)

Die proses om ʼn manuskrip in ʼn boek te omskep verskil van uitgewer tot uitgewer, maar die kort en die lank is dat lesers ʼn produk aanskaf wat ʼn hele span kundiges minstens ʼn jaar geneem het om te voltooi.

Met elke boek wat verkoop word, word ʼn hele rits rolspelers dus beloon. Dit sluit onder meer die skrywer, uitgewer, keurders, setter, teksredigeerder, omslagontwerper, drukkers, bemarking- en publisiteitspan en boekhandelaars in.

Dit is alles goed en wel om hierdie lys met rolspelers op te noem, maar dit sê eintlik nog steeds nie vir lesers presies waarvoor hulle betaal nie. In ʼn neutedop behels die uitgawes om ʼn papierboek die volgende:

  • ʼn Skrywer ontvang tantième vir elke boek wat verkoop word.
  • Die redakteur word onder meer vir manuskripkeuring- en ontwikkeling vergoed.
  • Keurders; dit is meestal ʼn onafhanklike persoon wat heel eerste die boek lees en betaal word om die storielyn, karakterisering en ander aspekte van die boek te beoordeel.
  • Teksredakteur se diens om die teks vir foute na te gaan.
  • Die setter word betaal om die uitleg van die boek te doen. Dit sluit nie die omslagontwerp en teksredigering in nie.
  • Proeflesers se werk is om die setwerk te kontroleer en die teks na te gaan vir tikfoute.
  • Drukkoste; dit word beïnvloed deur die grootte van die drukoplaag. Hoe meer eksemplare gedruk word, hoe goedkoper is dit.
  • Koerierkoste om die drukoplaag na die uitgewer en weer van die uitgewer na die boekhandelaars te vervoer.

Argieffoto (Foto: Matias North/Unsplash)

Met dit as agtergrond is dit belangrik om laastens by te voeg dat die kosprys van elke boek volgens ʼn bepaalde formule in die sakeplan bereken word. Die dikte van die boek en die oplaag wat gedruk word, word ook in ag geneem wanneer hierdie kosteberekening gedoen word.

In die woorde van Kapp is dit duur om boeke te vervaardig en min skrywers kan sê dat hulle hieruit ʼn lewe kan maak.

“Die mense wat die produk skep (die skrywers), kry nie naastenby genoeg uit die proses om eintlik die tyd wat hulle aan skryf afstaan, te regverdig nie.

“Ons skryf omdat ons ʼn passie vir stories, ʼn passie vir Afrikaans en ʼn passie vir ons lesers het. Want, al betaal jy die volle R350 vir ʼn jaar se werk, kan ek skaars vir my ‘n Wimpy-koffie met daardie geld koop.”

Dus, ter wille van die boekwurm in jou lewe se welstand en vir die behoud van ʼn leeskultuur en Afrikaans, is dit 100% geregverdig en nodig om jou geld op ʼn boek te bestee. Lank lewe die papierboek!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karina ·

En as almal hulle pond gekry het, bly daar maar ‘n paar pennies oor vir die skrywer. Die persoon wat geswoeg het om die boek te skryf en betyds by uitgewer te kry.

Marthinus W ·

Toe ek by Protea Boekehuis kla omdat hulle nie manuskripte (MS) per e-pos aanvaar nie – jy moet dit in harde kopie druk en aan hulle koerier – was hulle antwoord dat die keurders dit so verkies. Dus: jy tel jou sente, laat die MS dan druk en koerier, en indien die keurder dink dis nie uitgeewaardig nie, word jou MS vernietig. Wat n vermorsing van geld en papier. Kan die keurders dit nie digitaal keur nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.