Boekresensie: Die geheim van die bloedsteen

Die geheim van die bloedsteen, die eerste boek in Antoinette Venter se splinternuwe Kinders van die gode-reeks word deur Protea Boekhuis uitgegee.

In Die geheim van die bloedsteen verdwyn Zenno, ’n gewone seun van Benoni, se oom Uranus – ’n professor in argeologie én biologie. In sy soeke na sy geliefde oom, beland Zenno in ’n tydgleuf wat hom duisende jare in tyd laat terugreis na die antieke hawestad Pompeji.

Hier ontmoet hy vir Sabina, ’n meisie wat daarvan oortuig is dat hy die Alveoli-draak wat by die vulkaan Vesuvius probeer uitbreek, kan keer omdat hy ’n afstammeling van een van die ou Romeinse gode is. As Zenno glo nie die sogenaamde bloedsteen op sy plek sit nie, sal die draak se vuurasem die stad in puin lê: “Ons moet die draak keer voordat hy vuur en lawa en as oor alles en almal blaas”, aldus Sabina (19). As hy háár help, sal sy hom op haar beurt help om sy oom, wat intussen onskuldig gearresteer is omdat hy van spioenasie verdink word, uit die tronk te bevry.

Maar dis glad nie so maklik soos dit klink nie. Hulle moet rekening hou met ’n bloeddorstige hond wat soos ’n wolf lyk en strydlustige wagte wat nie nonsies duld nie. Daar is ook ’n geheimsinnige vreemdeling geklee in ’n mantel en kappie wat hulle dophou en ’n hoppende, klouterende dwerg wat wéét hoe om met ’n swaard te veg. “Hulle kort iemand wat so sterk is soos Spiderman, Superman en Batman tesame. Of Hercules, Atlas en Thor. Dalk Zeus homself. Maar slaaptydstories oor bonatuurlike sterk manne gaan nie die bloedsteen terugsit op sy plek en die draak droomland toe stuur nie. Hy wat Zenno is, sal die joppie moet doen. Hóé weet hy wraggies nie” (50).

Venter, ’n skrywer van Jeffreysbaai, se storie is deurspek met bekende name soos Plinius die Ouere, Plinius die jongere en Spartacus. Sy verweef geskiedenis en fantasie gemaklik saam tot ’n soomlose verhaal wat die leser uitasem laat. “Wie sou ooit kon droom dat hy, Zenno, op die legendariese Plinius die Ouere – sy oergrootjie! – se stoel sou sit in dié se huisbiblioteek? By sy lessenaar. Omring deur sy navorsing” (52). Ek is ook beïndruk met die agtergrond inkleding. “Vesuvius kreun en steun soos ’n dier wat erge maagpyn het. Die grond skud en bewe nou onophoudelik. Die gloed bo-op die spits word al hoe helderder en baai die kranse en diep klowe in ’n onaardse rooi skynsel. As Zenno nie van beter geweet het nie, sou hy wraggies gedink het hulle is op die planeet Mars. Selfs die insekte tjier-tjier nie meer nie. Daar is min plantegroei hier teen die kranse, net hier en daar ’n verdorde graspol. Dit lyk of die natuur wegkruip vir die ramp wat al hoe meer onafwendbaar lyk” (68).

Ek het my nie net verlustig in Venter se ryk verbeelding nie, maar ook in haar goed ontwikkelde sin vir humor en opwindende aksie. Sy behoort haar met Die geheim van die bloedsteen en die daaropvolgende boeke te vestig as een van die top-kinderboekskrywers in die land juis omdat sy die vermoë het om tegelykertyd snaaks en vindingryk met teks om te gaan. Daar is nie een vervelige oomblik in haar boek nie. Die karakters oortuig, die taalgebruik sprankel en die pas is lekker vinnig. Die een oomblik klouter haar Zenno en Sabina in ’n ou myntonnel oor geraamtes. Dan drup vuurwarm lawa reg voor Zenno se neus. Enkele bladsye later: “Hy ruik iets wat stink soos nat hoendervere en sy troetelakkedis se maagwerk. Dan hoor hy ’n allemintige gebrul wat ’n leeu én ’n dinosourus groen van jaloesie sou maak. Dit kan net Alveoli wees!” (87)

Die geheim van die bloedsteen spreek ook boeliery aan, want wanneer Zenno ná sy tydreis weer terug is by die skool, wag die breker, Jan-Piet, oudergewoonte op hom om hom af te knou. Ongelukkig vir Jan-Piet het Zenno intussen ’n ding of twee geleer oor hoe om homself te beskerm. Ag, en wat is ’n boek nou sonder ’n bietjie romanse – of dit nou ’n skoolliefde is of die onsterflike liefde tussen koninklike dwerge! Meer gaan ek nie verklap nie. Lees die boek!

Hierdie heerlike avontuur- en fantasieverhaal van 109 bladsye se bladuitleg is ook heel kreatief deur Hanli Deysel gedoen. Theodore Key se prettige en baie gepaste illustrasies verdien ook spesiale vermelding. Anzette Williams is die redakteur en Shané Kleyn die proefleser.

Skaf jou kopie van Die geheim van die bloedsteen hier aan. Dit word aanbeveel vir kinders 9 tot 12 jaar oud, maar as volwassene het ek my ook in die storie verkneukel.

*Ter wille van deursigtigheid verklaar ek dat ek as vryskut-manuskripontwikkelaar die onafgeronde teks onder oë gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.