Boekresensie: Die koning se paddaboutjies

Die koning se paddaboutjies deur Janneke Schotveld word uitgegee deur Wenkbrou.

Ek het voorbehoude gehad toe ek in die uitgewersbrief lees dat hierdie storieboek 15 moderne, herverbeelde sprokies deur die Nederlandse skrywer Janneke Schotveld bevat. Waarom karring aan stories wat werk en die toets van tyd deurstaan het? Dikwels lei die sjarme wat in die oorspronklike vertelling vasgevang word in die slag wanneer stories herbeveel word.  Maar ek is aangenaam verras.

Die ou, klassieke sprokies het nou wel ’n meer moderne baadjie gekry en wyk so effe af van die tradisionele sprokiesresep, maar hulle lees tog te lekker só. Die hedendaagse kind (die boek word voorgeskryf vir sewejariges en ouer) sal beslis aanklank vind by die hersiene weergawes. Daar word selfs melding gemaak van moderne tegnologie soos byvoorbeeld die internet, kuberkrakers, megagrepe, mikroskyfies en Wi-Fi.

Die heel eerste sprokie heet “Die koning se paddaboutjies” (ook die boek se titel). Ek het sommer so ’n warm gevoel in my binneste gekry toe ek die woordjie “Laduma” lees in die tweede laaste paragraaf op bladsy 14: “‘Laduma!’ weergalm dit n rukkie later deur die paleistuin, maar ons sal nooit weet wie van hulle die doel geskop het nie.” Dit het vir my die pragtige sprokie in die hier en nou gegrond.

In “Die lettervreter” raak ’n pas uitgebroeide lettervreter weg en saai amok in die dorp. “’n Lettervreter eet alle letters wat voorkom en groei blitsvinnig totdat hy so groot soos ’n olifant is” (p. 57). Die dierasie beland naderhand in die biblioteek en jaag die biblioteektannie die skrik op die lyf. Sy kerm oor die boeke en noem Harry Potter, Babalela, Pippie Langkous en Liewe Heksie – titels waarvan hedendaagse kinders kennis dra.

Ek het gaan nalees oor sprokies. Elsabe Steenberg skryf in haar artikel getiteld “Sprokie” (lees dit hier) die volgende: “Die probleme waarmee die kind worstel en wat verhelder en opgelos word deur sprokies, is onder meer ‘n identiteitskrisis, die strewe na selfstandigheid, ‘n soeke na sekuriteit en die ervaring van verwerping deur ouers. Deur die sprokie word die belewer na verlossing en oorwinning gevoer: op min uitsonderings na eindig die sprokie met die vertroosting dat die protagonis en geliefde daarna ‘vir altyd gelukkig gelewe’ het. Al sou so ‘n uitspraak nie letterlik realiseerbaar wees nie, bring dit geestelike weerbaarheid wat ‘n leeftyd kan duur.”

Hiermee stem ek heelhartig saam, en dit is ook waarom ek opgewonde is oor Die koning se paddaboutjies. In die gelyknamige sprokie leer die kind byvoorbeeld om empatie te hê met die lot van ander – in hierdie geval haar pa en ook die arme paddas wat so voor die voet verorber word. Elke sprokie hou ’n les in en laat die kind nadink.

Die mooi illustrasies in Die koning se paddaboutjies is opvallend. Verskeie top-illustreerders soos onder meer Martijn van der Linden, Thé Tjong-Khing, Linde Faas, Milja Praagman en Annet Schaap het daartoe bygedra dat die boek vol sprokies visueel ook baie mooi is en kinders se verbeelding aangryp. Hierdie publikasie is moontlik gemaak met die finansiële steun van die Nederlandse Stigting vir Letterkunde. Die oorspronklike titel was Die kikkerbilletjies van de koning en andere sprookjes. Jaco Jacobs is verantwoordelik vir die puik vertaling in Afrikaans.

Ek is baie bly oor my kopie van Die koning se paddaboutjies. Skaf die boek hier aan.

Meer oor die skrywer: Louise Viljoen

Louise Viljoen is ’n vryskutresensent van Jeffreysbaai.

Deel van: Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.