Boekresensie: Hoe groot is ons God

Hoe groot is ons God deur Louis Giglio word deur Struik Christian Media uitgegee.

Pastoor Louis Giglio met Tama Fortner belig in hierdie wonderlike dagstukkieboek merkwaardige wetenskaplike feite, kleurvolle en prettige illustrasies deur Nicola Anderson, en asemrowende foto’s wat kinders verstom sal laat staan voor die onvergelyklike grootheid van God. Elmarie Botes het die oorspronklike Engelse vertaling, How Great is Our God, in sprankelende Afrikaans vertaal.

Hoe groot is ons God bou voort op Giglio (Passion City Church in die VSA se pastoor en die inspirasie agter die Passion-beweging wat ten doel het om ’n generasie op te roep om hulle lewe te gee om Jesus bekend te maak) se gewilde Onbeskryflik! wat kinders hier en internasionaal se verbeelding aangegryp het.

Net mooi 100 dagstukkies vertel van God se handewerk, van reusagtig groot tot mikroskopies klein. Dit sluit in die buitenste ruim, die Aarde en die weer, plante en klimate, die menslike liggaam, emosies en verbeelding, diere – van hulle gewoontes tot hul woonplek, en nog vele meer. Elke dagstukkie bevat, bykomend tot ’n fassinerende verduideliking in ’n lekker leesbare geselstrant, ’n spesiaal uitgesoekte Bybelvers, gebed, en ’n “Hoe wonderlik!”-gedeelte wat interessante feite en maklike aktiwiteite aan die jong leser voorhou. Die dagstukkies fokus op unieke en ongelooflike dinge wat God iewers in die heelal geskep het.

Giglio skryf in die Inleiding op bl. 4: “Ons kan God nie met ons fisieke oë sien nie, maar sy Woord, die Bybel, sê dat ons meer van Hom kan leer wanneer ons alles wat Hy gemaak het, raaksien en ondersoek (sien Romeine 1:20). Dit beteken die hele skepping – van die verste sterre wat net met die sterkste teleskoop gesien kan word tot die kleinste selletjie in jou kleintoontjie se nael – vertel ons iets van God.” Met hierdie uitgangspunt in gedagte, gesels hy dan oor vier hoofonderwerpe, naamlik Ruimte, Aarde, Diere en Mense.

Ek is baie beïndruk met hierdie hardebandboek van 208 bladsye. Kinders van ses tot tien jaar oud word aangemoedig om hulle te verwonder aan God se skepping en die wetenskap. Giglio stel dit só: “Ons sal nooit alles leer wat daar van God te wete is nie. Hy is oneindig, wat beteken daar is altyd nóg iets oor Hom om te ontdek! Dit is waarom wetenskaplikes, sterrekundiges, dokters en navorsers die hele tyd nuwe dinge van sy skepping ontdek – in die verste ruimtes van die heelal en in die wêreld rondom ons. Soos om te verstaan hoekom iets in die donker gloei. Of om ’n ster soos die blou superreus Rigel te vind. Of om uit te vind waarom ’n bloedhond so ’n goeie spoorsnyer is.”

In die dagstukkie op bladsye 12 en 13 wat oor stormagtige weer handel, is die teksvers Job 28:26 waar daar die volgende staan: “Hy maak die wette van die reën, en berei ’n pad vir die weerlig.” In die “Hoe wonderlik!”-gedeelte leer die kind dat daar ’n plek in Venezuela (die Maracaibo-meer) is waar die storms byna nooit ophou nie. “Vir ongeveer 300 dae van die jaar is daar gemiddeld 28 keer per minuut ’n weerligstraal. Daar is partykeer tot 3 600 weerligstrale per uur, of een elke sekonde. Dit word Catatumbo-weerlig (ka-ta-TOEM-boe) genoem, en die storms is so hewig dat hulle meer as 400 kilometer ver gesien kan word.” Die geestelike saadjie hierby is: “Jy gaan storms hê in jou lewe – donderstorms, vriende-storms, familie-storms of selfs ’n geloofstorm. Maar jy moet een ding onthou: Jesus is gereed om saam met jou deur die storms te loop. Vra sy hulp. Hy sal by jou wees vandat die eerste stormwolke op die horison begin saampak totdat die son weer skyn.”

Skaf jou kopie van Hoe groot is ons God hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.