Boekresensie: ‘Jy handle dit net’

Eleanor Lombard se merkwaardige debuutverhaal getiteld Jy handle dit net word deur Luca, die geestelike druknaam van Lapa Uitgewers, uitgegee.

Dit was heerlik verfrissend om hierdie Christelike tienerfiksie te lees wat die verhaal vertel van Drikus du Randt, ’n jong seun wat nie regtig maats het nie en ook nie juis goed is in enigiets nie. Maar dan kondig juffrou Samuels af dat daar ’n groot skaaktoernooi gaan plaasvind en dat hulle skool se kinders mag deelneem en dalk in die WP-span kom. Drikus is baie opgewonde om dit te verneem, want hy kén skaak. Sy Oupa het hom geleer. Nou sal hy uiteindelik die kans hê om vir sy pa en Wouter Viljoen en Anita te wys dat hy tog ook goed in iets is. Hy droom te lekker hoe meneer Burger hom as wenner op die verhoog roep en almal hande klap.

Maar dít waarvan mens droom, realiseer nie altyd sommer met die eerste probeerslag nie en Drikus haal nie die paal nie. “Ek wou iets doen wat my pa trots maak, maar nou voel dit asof dit ’n groot flop was. Ek weet nou vir seker dat ek ’n loser is. As die Here in ’n mens se hart kan sien, het Hy mos geweet hoe belangrik die toernooi vir my was, bly dit in my kop draai. Dalk kry mens God se voortrekkinders, soos Wouter Viljoen. Dan kry mens God se afskeepkinders. Eers het ek my amper disnis geval met my fiets, my fiets is opgekrok en ek verloor onregverdig in die skaak. Een ding weet ek nou vir seker: Ek is God se afskeepkind” (18).

Drikus besef dat hy ’n plan sal moet maak om geld in die hande te kry om sy stukkende fiets reg te maak. Dié het hy mos flenters geval toe hy gejaag het om sy ma van die skaaktoernooi te vertel. Hy besluit om broodrolletjies te verkoop, maar dit gaan ook maar sukkel-sukkel. Maar dan ontmoet Drikus vir Donovan Davids, ’n straatkind. Dié se filosofie is eenvoudig: “Dit wêk soe. As jy die Jirre se kind is, dan kyk hy agter jou.”

Net omdat Jy handle dit net onder ’n geestelike vaandel uitgegee word, beteken dit nie dat die karakters dweperig is of die skrywer haar godsdienstige oortuiging aan die leser wil afsmeer nie. Allermins. Die taalgebruik is keurig, maar tog eie aan die manier waarop hedendaagse kinders praat. Donovan praat boonop Kaaps, ’n lekkerte op sy eie. Daar is ook ’n woordelys vir Kaaps voor in die boek, met betekenisse van woorde soos ghellieblik, hakloep, tjoefkop en mang.

Hoewel Jy handle dit net ’n waarskuwing bevat dat daar beskrywings van geweld in is wat sensitiewe lesers moontlik kan ontstel, het ek die tonele as funksioneel en noodsaaklik vir die storielyn ervaar. Dis ’n hedendaagse verhaal wat ’n eerstepersoonverteller het en fokus op hoe ’n gesindheid van “jy handle dit net” mens kan help om teenspoed en probleme te hanteer. Ook dat daar altyd ander is wat dit moeiliker en swaarder het as jy. Die skrywer merk in ’n onderhoud op Facebook die volgende op: “Dis belangrik om mense om jou met ’n oop gemoed te benader sonder vooroordele of persepsies. Jy kan dalk aangenaam verras word. Daar is waarheid in die uitdrukking: ‘Moenie iemand op sy baadjie takseer nie’”.

Die storie van 144 bladsye se karakterontwikkeling is geloofbaar en word sterk uitgebeeld. Die boek bevat elemente van onder meer afguns en vergifnis, vooroordeel, deernis, opstand, vriendskap, lojaliteit, verliefdheid, gesinsgeweld en -verhoudinge en verlies. Ook dat daar soms dinge gebeur wat volkome buite mens se beheer is en dat jy nie altyd kan help vir die omstandighede waarin jy is nie. Die skrywer slaag daarin om Donovan se wêreld waar armoede, hongerte, dwelms, winkeldiefstal, bedel en geweld aan die orde van die dag is in kontras te plaas met Drikus se bevoorregte middelklas lewensstyl. Drikus wonder: “As ek gedink het ék is God se afskeepkind, wat moet Donovan dan dink?” (49). Ek hou ook daarvan dat Drikus entrepreneurskap aan die dag lê en ’n eie inkomste probeer verdien.

Ek beveel Jy handle dit net met die grootste vrymoedigheid aan. Dit het selfs vir my as volwassene laat nadink oor hoe mens ’n verskil kan maak ongeag of ten spyte van jou omstandighede.

Meer oor die outeur: Eleanor Lombard is in 1950 in Kaapstad gebore en woon in Tergniet, naby Mosselbaai. Sy skryf graag radiodramas en was ’n finalis in die RSG/Sanlam radiodrama-skryfkompetisie.

Skaf gerus jou kopie van Jy handle dit net hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.