Boekresensie: Karlien kan nie kook nie

Karlien kan nie kook nie deur Karlien van Jaarsveld en Izelle Hoffmann word uitgegee deur Lapa Uitgewers.

Leefstylsjef Izelle Hoffman het mooitjies 50 resepte spesiaal vir die sangeres, liedjieskrywer en kunstenaar, Karlien van Jaarsveld, en haar gesin ontwikkel. Karlien is glo glad nie bedrewe agter die kospotte nie, en dié kookboek met sy eenvoudige bestanddele en maklike resepte is blykbaar nét wat sy nodig het om in ’n japtrap smullekker geregte voor te sit. “Of jy vinnig iets ná werk aanmekaar wil slaan of Sondag grênd wil onthaal, Karlien kan nie kook nie gaan elke keer tot jou (en Karlien) se redding kom!” Die resepte is “só maklik, enigeen kan dit maak!”

Kosliefhebbers sal hou van die sagtebandkookboek van 132 bladsye propvol resepte oor familiekos, trooskos, romantiese disse en allerlei lekkernye. Karlien se bewonderaars sal ook gek wees oor die talle pragfoto’s van haar en haar gesin. Theana Breugem se fotografie komplimenteer die huiskos en maak die leser sommer lus om iets lekkers in die kombuis aanmekaar te slaan.

Karlien kan nie kook nie is opgedeel in tien hoofstukke. Ek noem die titel van elke hoofstuk hier onder en gee sommer ook ’n paar voorbeelde van die heerlike geregte.

Familiekos – Izelle vertel: “Dit is daardie resepte wat jou hart laat hunker na ’n drukkie, ’n bord vol liefde, of sommer net samesyn.” (Stokvis met ’n kruiekors; Pangebraaide hoenderfillette; Skoonma Renette se Peppermint Crisp-tert.)

As die pelle kom kuier – Karlien vertel: “Kom kuier, dan lag ons saam en die genesing kom en maak die hobbelpaadjies weer gelyk.” (Liplekker sjokolade-hummus; Nachos; Pangebraaide garnale.)

Romantiese ete vir twee – Karlien vertel: “Jy leer my om minder te wees is altyd beter. En dat alles op die ou end altyd oukei sal wees.” (Quinoa met gekaramelliseerde uie; Geroosterde salm; Sorgelose sjokolademousse.)

Gesonde ontbytjolyt – Izelle vertel: “Elke bestanddeel wat gebruik word, is sorgvuldig gekies om seker te maak jou liggaam kry ’n gesonde hupstoot vroegoggend voordat jy die dag op horings neem.” (Frittatas met hoender en pikantrissies; Gesonde pannekoeke; Bloubessie-smoothie.)

Kom ons onthaal – Karlien vertel: “Ons grootste onthaal van die jaar is met Pasga. Ek nooi elkeen wat op my hart is. Die mans staan eers agter die vroue en dan by die kinders en spreek ’n seën oor hulle uit.” (Oondgeroosterde hoenderdye met vinkel en ui; Joe se filet met sampioensous en groenboontjies; Skoonma Renette se malvapoeding.)

Kos vir die kroos – Izelle vertel: “Om vir jou kinders kos voor te berei kan een van die maklikste of een van die moeilikste dinge wees omdat almal deesdae fiemies het en snaakse eetgewoontes ontwikkel met al die opsies wat op die rakke beskikbaar is.” (Gekrummelde hoenderrepies; mini-hoenderkebabs; Soetpatat-plaatkoekies.)

Handjies klap, koekies bak – Karlien vertel: “Daar is altyd ’n speletjie terwyl ons wag vir die koekies in die oond.” (Sjokolade-hawermoutkoekies; Gesonde sjokolade-splinterkoekies; Vrugte-horinkies.)

Trooskos vir reënerige dae – Izelle vertel: “Elke resep in hierdie hoofstuk is eenvoudig, snoesig en smaaklik – so reg na Karlien se hart.” (Pannekoeke met bobotievulsel; Ouma Ronel se groentesop; Romerige knoffelfondue.)

Want ons gaan nóú braai! – Karlien vertel: “Op ’n warm somersdag, braaidag of in die middel van die winter, brand die vure en speel die kitare.” (Joe se Thaise kerriehoenderpot; Griekse braaibroodjies; Pynappel-krummelgebak.)

Gaan groot met groente – Izelle vertel: “Hierdie hoofstuk het ’n gereg vir elke geleentheid, of dit nou ’n vleislose Maandag-aandete is en of jy net iets ligs vir middagete wil voorsit.” (Heuningmosterd-soetpatatgebak; Gevulde skorsies; Skoonma Kateriena se spanakopita-pasteitjies.)

Ek gaan beslis heelwat van die resepte in dié kookboek gereeld vir my gesin maak.

Koop Karlien kan nie kook nie by Graffiti Boeke

  • Hoffman het met Esté Meyer Jansen gesels oor haar resepteboek en ‘n paar wenke uit haar kombuis gedeel. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

 

Uit: Karlien kan nie kook nie (Foto: Lapa Uitgewers)

 

Uit: Karlien kan nie kook nie (Foto: Lapa Uitgewers)

 

Uit: Karlien kan nie kook nie (Foto: Lapa Uitgewers)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dorothy ·

Wat sal mense nie nog doen om geld te maak nie, maar in hierdie geval is die boek se naam totaal verkeerd

Liezel ·

Dit klink lekker en baie oulik, beslis op my kerslysie die jaar!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.